Uit liefde vir God wil ons die evangelie met ander deel, maar rig jy dalk net skade aan? Begrip en fyn aanvoeling is wat jy benodig!

Deur Karel Steyn

Die HAT verklaar die ou uitdrukking “soos ‘n bul in ‘n glaskas” as “ontuis of ongemaklik wees”. Maar het jy al mooi aan die uitdrukking gedink? Mens kan net dink hoeveel skade só ‘n bul kan aanrig! Ons is soms in ons gesprekke soos ‘n bul wat in ‘n glaskas ingejaag kom met geen beplanning nie. Op die ou einde veroorsaak ons baie skade.

As gelowiges rig ons dikwels skade aan in ‘n situasie of ‘n verhouding alhoewel ons goeie bedoelings het. Die mense wat onder ons deurloop is soms juis dié mense wat nog buite die kerk staan, of wat nie tuisvoel in ‘n gemeente nie. Ons sal byvoorbeeld die evangelie met iemand deel en fokus op die verkeerde wat die persoon doen. Dikwels doen ons dit uit liefde, omdat ons nie wil hê die persoon moet verlore gaan nie, maar is dit werklik hoe ons die situasie moet benader? Hoewel iets ons na aan die hart lê, moet ons wonder wat dit vir die res van die samelewing beteken. Hoe sien die mense wat buite die gemeente en die kerk staan ons optrede?

“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer” Filippense 1:9-11.

Wat maak werklik saak?

In wese is dit die vraag waarvoor Paulus hierdie gemeente in Filippi plaas met die woorde van Filippense 1:9-11.

Paulus erken dat hulle liefde het, daarom dat hy sê dat hulle liefde nog meer moet word. Hierdie liefde wat die gemeente het is agape-liefde: dit is onvoorwaardelike liefde wat van God kom en wat ons in God leer ken. Dit is die liefde waarvan Johannes praat wanneer hy sê God is liefde. Dié daardie liefde wat reeds in ons is en wat in ons lewens moet duidelik word. Elkeen van ons het hierdie wonderlike, onbeskryflike liefde van God deur die Heilige Gees ontvang. Net soos Paulus vir die gemeente sê, moet ons ook die liefde in die regte rigting stuur, op die regte manier.

Maar hoe doen mens dit? Deur begrip en fyn aanvoeling!

  1. Begrip

Die woord wat Paulus hier gebruik vir begrip wys op kennis wat deur ervaring opgedoen is. Ons kan baie boeke-kennis hê, maar ons moet ervaringskennis gebruik wanneer ons in liefde met ander mense wil praat. Ervaringskennis en liefde is twee van dié dinge wat ons verhoudings moet bepaal.

Ons kan ervaringskennis opdoen deur die evangelie te deel, deur situasies vanuit ‘n geloofsperspektief te hanteer en deur met medegelowiges te praat en verhale van geloofsdade met mekaar deel. Begrip gaan dus oor ervaringskennis wat ons opdoen  wanneer ons ons geloof lééf en met ander deel.

  1. Fyn aanvoeling

Fyn aanvoeling kan ook met onderskeidingsvermoë vertaal word. Dit gaan daaroor dat ons in ‘n situasie vir ‘n oomblik moet stilstaan en mooi dink oor die situasie en wat op daardie oomblik goed en reg en waar is. Dit beteken dat ons elke dag God moet vra om ons met die Heilige Gees te vervul en en aan ons wysheid sal gee, sodat ons sal weet hoe om op te tree.

God is die belangrikste

Wanneer ons begrip en fyn aanvoeling deel maak van ons liefdevolle optrede sal ons fokus op die dinge waarop dit werklik aankom. Só sal ons weet hoe om in ons gesprek nie op die slegte waarin iemand vasgevang is te fokus nie, maar op wie die Here vir dié persoon in sy situasie is. Ons kan iemand dan op die liefdevolle God wys wat ons terugbring in ‘n verhouding met Hom.

Die liefde wat God ons gee is juis die rede vir ons optrede. God moet die eer ontvang in dit wat ons doen. Dit is mos hoekom ons met mense praat oor wie God is en wat ons geloof is. Ons praat mos nie om mense te oortuig sodat ons meer kan wees of die grootste groep kan wees nie. Ons praat oor ons geloof en wie God is, sodat God se Naam groot gemaak kan word! Ons hele bestaan moet daarop fokus dat God die eer kry.

Mag die Here gee dat ons liefde sal toeneem in ervaringskennis en onderskeidingsvermoë. Mag ons dan kan onderskei waarop dit werklik aankom, sodat alles wat ons sê en doen tot die lof en verheerliking van God mag wees!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui