Bring jou berouvolle hart na God

In hierdie Bybelstudie oor Psalm 51, waar ons lees van Dawid se berou oor sy sonde, sien ons hoe vergiffenis net van God af kan kom.

deur ds. Brahm Robinson

In 1 Samuel en Psalm 51 lees ons hoe Dawid in ’n spiraal van sonde val. Dit begin waar hy ’n ander man se vrou begeer, dan volg egbreuk en uiteindelik moord. Hierdie pad van sonde word in Jakobus 1:15 só beskryf: “… as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.” Dit is egter nie Dawid se sonde wat vir ons van belang is nie, maar sy erkenning en berou van sy sonde. Ons kan net God vra om ons sondes te vergewe as ons dit erken en ons daarvan bekeer.


Die verhaal van Dawid, Batseba en Urija
Op ’n keer toe die konings uitgetrek het om oorlog te maak, het koning Dawid by die huis gebly. Hy het op sy paleis se dak rondgestap en vir Batseba, ’n mooi vrou van een van die soldate, sien bad. Hy het by haar geslaap en sy het swanger geword. Dawid het toe Batseba se man, Urija, vanaf die oorlogsveld huis toe laat kom en hom die geleentheid gegee om daardie aand by sy huis te slaap. Die volgende aand het Dawid vir Urija dronk gemaak en hom weer na sy huis gestuur, maar Urija het by die slawe gaan slaap. Toe stuur Dawid ’n brief saam met Urija waarin hy opdrag gee dat Urija in die voorste linies moet veg. Sodra die oorlog warm raak moes Joab die manskappe onttrek sodat Urija doodgemaak kon word.
Dit gebeur dan ook só. In ’n kort tydjie het Dawid owerspel en moord gepleeg. Hy het gedink dat hy daarmee weggekom het. Die Here stuur egter ’n profeet wat vir Dawid sê dat die Here van sy sonde weet. Dawid besef hy is skuldig, en die skuldgevoel begin hom opvreet. Hy voel vuil en sleg. Hy weet hy verdien die Here se oordeel. Dit voel vir hom of hy nie kan of mag bid nie. Al wat hy kan doen is om te pleit vir die Here se genade.
Jy kan hierdie geskiedenis van Dawid en Batseba in 2 Samuel 11-12 gaan lees.


Lees nou Psalm 51 en beantwoord hierdie vrae.

1. Lees Genesis 3:8. Wat is gewoonlik jou eerste reaksie wanneer jy op jou sonde gewys word? Wat gebeur as jy sonde met nog sonde probeer toesmeer?

2. Hoe het Dawid tot die besef gekom dat die Here sy sonde ken? Hoe bring die Here jou tot besef van jou sonde?

3. Wat is die gehoorsame reaksie van ’n gelowige oor sonde in sy lewe?

4. Wat beteken dit as Dawid in vers 6 sê dat hy teen die Here alleen gesondig het?

5. Dawid sê dat die Here se uitspraak oor sy sonde regverdig is (2 Samuel 2:10-12). Wat het Dawid verdien?

6. Wat bedoel Dawid in vers 7 as hy sê dat hy al skuldig was toe hy gebore is, met sonde belaai toe sy moeder swanger was?

7. Hoe kan ek diep in my binneste weet hoe die Here wil dat ek moet lewe? (vers 8)


Reinig my hart!
In vers 9 bid Dawid dat God hom sal skoonmaak van sy sonde. Die woorde wat hy gebruik verwys dikwels in die Ou Testament na iemand wat seremonieel onrein is, byvoorbeeld ’n melaatse of iemand wat aan ’n lyk geraak het. Nadat sulke persone gereinig is, mag hulle weer deel van die volk word. Dawid bid dat die Here hom nie net seremonieel moet was nie, maar van diep binne moet reinig. Dit is ook daar waar God se hand swaar op hom rus.


8. Hoe voel jy as jy jou sonde wegsteek? Hoekom sal jy so voel? (vers 10)


Erken jou skuld voor God
Natan het al by die eerste besoek vir Dawid gerus gestel dat sy sonde vergewe is en dat hy nie sal sterf nie. Tog is dit deel van Dawid se gebed (2 Samuel 12:13). Dawid besef dit gaan oor erkenning van skuld voor God. Jy moet die berou van jou sonde nie net in jouself hou nie, maar jy moet dit voor God oopstel.


9. Hoekom bid Dawid in hierdie psalm dat die Here nie sy Heilige Gees van hom moet wegneem nie? Wat doen die Heilige Gees?

10. Hoe moet jy volgens vers 14 oor jou verlossing in Christus voel?

11. Hoekom is dit belangrik dat God aan jou die woorde moet gee waarmee jy sy lof moet verkondig?

12. Hoe lyk jou toewyding aan die Here?

13. Wat is die offer van verootmoediging waarvan vers 19 praat? Hoe lyk dit?


Wat beteken verootmoediging?
Om jou te verootmoedig is om jouself te herinner wie God is, en wie jy is. Wanneer ons besef dat Hy die almagtige God is, en ons maar net skepsels, maak dit ons nederig. Dan buig ons voor God as ons Koning.


Jy sal ook hou van ...

2 Responses

  1. Phillip sê:

    Dit vind diepe byval by my, ek het n brandende begeerte om al nader aan God te leef en wil al hoe meer soos Jesus word.

  1. 3rd Junie 2020

    […] Bring jou berouvolle hart na GodDoen ’n Bybelstudie oor Psalm 51. […]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui