Die verhaal van Jesus se geboorte

In Lukas 2 en Matteus 1 kan jy van die geboorte van Jesus lees.

Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee” (Lukas 1:30-31).

‘n Engel met die naam Gabriël het aan ‘n jong vrou verskyn. Haar naam was Maria en sy het in Nasaret gebly. Die engel sê vir haar dat sy ‘n seun gaan hê. Sy moet hierdie seun Jesus noem. Hy is die Seun van God! Maria was eers bekommerd, maar omdat sy in God geglo het, het sy gesê “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Lukas 1:38).

Maria was verloof aan ‘n man met die naam Josef. Hulle het getrou en in Nasaret gewoon. Terwyl Maria nog swanger was het keiser Augustus gesê dat daar ‘n volkstelling gehou gaan word. Almal moes hulle laat inskryf in die stad waaraan hulle behoort. Josef kom uit die stad van Dawid en moes na Betlehem gaan.

Nasaret en Betlehem is in die land wat nou Israel is. Dit is ongeveer 105 km van Nasaret na Betlehem en dit sou hulle ‘n paar dae gevat het om daar te kom!

Toe Josef en Maria in Betlehem kom was die herberg vol. Hulle kry toe slaapplek in ‘n stal. Daardie aand is Jesus gebore. Maria het Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê.

Daar was skaapwagters in die omgewing. Die skaapwagters het in die nag hulle skape in die oop veld opgepas. ‘n Engel het aan hulle verskyn en vertel dat die Verlosser, Christus die Here gebore is! Skielik was daar ‘n hele groep engele. Hulle het God geprys en gesê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Lukas 2:14)

Die skaapwagters het haastig na Betlehem gegaan. Daar het hulle ‘n kindjie gevind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip neergelê is, presies soos die engel hulle vertel het. Die skaapwagters het almal vertel van wat hulle gesien het en God geloof en geprys.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui