God die Vader is vír ons

In die gelykenis van die verlore seun, kan ons deur die pa se optrede baie van ons hemelse Vader leer.

Deur ds. Hentie Krüger

In die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-32) val die klem soos mens maar kan dink altyd op die seun. Daar is egter iemand anders in hierdie gelykenis wat belangriker is: die pa. Hy is aan die begin daar, en aan die einde is hy nog steeds daar. Wat ons van hom opval, is dat hy nie deur die verhaal verander het nie. Hy bly dieselfde. Net so is ons hemelse Vader vir ons. Lees hier wat ons nog uit hierdie gelykenis van die Here leer.


Die verhaal van die verlore seun

Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom’” (Lukas 12:15).

Een van verskeie aspekte wat ons van die vader in die gelykenis kan uitlig, is dat hy toeganklik is. Hierdie jong man het die vrymoedigheid gehad om met sy pa te praat. Hy kon met hom gaan praat oor sy drome van sy erfdeel en rykdom. Al het dit heel moontlik die pa se hart gebreek, het hy hom laat begaan en vir hom sy erfdeel gegee.

Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na ’n ver land toe vertrek” (Lukas 15:13).

Al het hy van rykdom gedroom, het hy losbandig gelewe en armoede gevind. Daar was kwaai hongersnood en hy het varke opgepas. Daar het die seun tot inkeer gekom.

Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!” (Lukas 15:18).

Ten spyte van alles, het hierdie seun geweet dat sy vader steeds toeganklik was, dat hy met hom oor enigiets kon praat. Die seun kom tot inkeer en het die vrymoedigheid om na die huis van sy pa terug te keer, al is dit ook as dagloner.

Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom” (Lukas 15:20).

Die vader sien sy kind van ver af. Hy verwyt nie, en beskuldig nie, hy reken die kwaad nie toe nie. Hy hardloop sy seun tegemoet en omhels en soen hom. Die pa skenk vergiffenis en aanvaarding, en dit boonop sonder enige boetedoening van die kind! Die seun kry nie eers kans om te sê dat hy bereid is om as ’n dagloner vir sy pa te werk nie. Hy skenk hom die beste kleed, ’n ring en skoene en “hulle begin feesvier” (Lukas 15:24).


Wat leer ons van God die Vader?

1. Ons hemelse Vader is vol vreugde oor ons

Die verhaal van die verlore seun begin reeds in Lukas 15:1 as die Fariseërs en skrifgeleerdes ontevrede is omdat Jesus sondaars ontvang en selfs saam met hulle eet (Lukas 15:2). Dit was ongehoord en onaanvaarbaar, in terme van wat hulle beskou het as reg en godsdienstig. Jesus antwoord hulle besware deur hulle ’n kykie in die hart van God te gee. Hy vertel, volgens Lukas, drie gelykenisse – dié van die verlore skaap, muntstuk en seun. Al drie hierdie gelykenisse gaan uiteindelik oor die blydskap wat God het vir elke sondaar wat na Hom toe terugkeer.

2. Ons hemelse Vader is toeganklik vir ons

Het dit al vir jou gevoel dat die Here en ander mense van jou vergeet het? Het dit al vir jou gevoel of jy die laagste punt in jou lewe bereik het; dat niks of niemand jou kan help nie? Dit is juis wanneer ons so voel dat ons moet weet dat ons ’n hemelse Vader het. Hierdie gelykenis vertel vir ons dat ons hemelse Vader altyd vir ons toeganklik is. Hy het nie die deur vir ons gesluit nie. Hierdie gedeelte sê vir ons dat dit doodeenvoudig nie sy styl is om die deur te sluit nie: Hy is altyd vir ons daar.

3. Ons hemelse Vader is begaan oor ons

Nêrens hoor ons dit duideliker of aangrypender in die Bybel nie. Ons hemelse Vader is soos die vader in hierdie gelykenis. Hy is begaan oor ons. Hy is bly as ons lewens, vervalle in die ver land, verander tot tuiskoms in die Vaderhuis. Hy verwyt ons nie vir ons sondes nie, maar aanvaar ons. Juis daarom stuur Hy sy Seun, en soek sy Seun die tollenaars en sondaars en vir ons op, om aan hulle en ons te vertel hoe God se hart teenoor hulle klop.
Ons is welkom in die Vaderhuis. Nie omdat ons só goed is nie, ook nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat Hy toeganklik en liefdevol is, omdat Hy ons Vader is.


Jy kan oor alles met jou hemelse Vader praat. Vertel vir Hom van jou hartseer. Vertel vir Hom van jou drome. Hy luister. Hy is toeganklik. Hy verheug Hom oor jou.

Jy sal ook hou van ...

1 Response

  1. 6th Oktober 2020

    […] God die Vader is vír onsLees in hierdie artikel wat ons nog uit die gelykenis van die verlore seun kan leer. […]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui