‘n Hindoe na die dood

Wat gaan met jou gebeur ná jy dood is? Lees hoe ons antwoord op lewe na die dood verskil van die Hindoeïsme.

Deur Danie Malan

Anders as Hindoeïsme, is daar sin en troos in ons geloof. Ons hoef nie bang te wees vir die dood nie! Ons kan sekerheid hê oor wat met ons gebeur as ons doodgaan. Kom ons gaan deel hierdie troosryke evangelie met almal wat ons ontmoet, veral met die Hindu’s.

Vinnige feit: Hindoeïsme is die 3de grootste geloof met rondom 1 biljoen volgelinge.

Wie is god/God?

  • Hindoeïsme

Hindu’s glo in ’n god met die naam Brahman. Hy is oneindig, onsterflik, onveranderlik, onpersoonlik en onsigbaar. Brahman is ook onkenbaar. Niks kan met sekerheid oor hom gesê word nie.

Kritiek: As Brahman onkenbaar was, moes die Hindu niks van hom geweet het nie. Maar dit is nie die geval nie.

  • Christene

Ons glo God is ewig en onveranderlik (Psalm 102:25-27; Maleagi. 3:6). Maar ons God is kenbaar, want Hy het Homself aan ons geopenbaar. Ons kan ’n intieme verhouding met Hom hê, want hy is ’n persoonlike God.

Wat is die wêreld?

  • Hindoeïsme

Dit wat ons sien, hoor, proe, voel en ruik is net ‘n illusie, genoem Maya. Die enigste werklikheid is Brahman. Alles is Brahman en Brahman is alles.

Kritiek: As jou sintuie jou mislei om te glo in ’n illusie, hoe kan jy weet dat dit wat jy lees in die Hindu boeke en hoor by die priesters waar is?

  • Christene

Die wêreld en alles wat daarin is, is God se wonderlike skepping en van Hom afhanklik. Hy het dit uit niks gemaak en onderhou dit steeds vandag! “Uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge” (Romeine 11:36). Die wêreld is ook gebroke a.g.v. die sondeval (Rom. 8:19-23). God los nie sy skepping in hierdie gebroke toestand nie! Hy gaan dit nuut maak (Op. 21:1-2).

Wat is die mens?

  • Hindoeïsme

Daar bestaan nie iets soos ’n individu nie – dit is ook ’n illusie. Deur in meditasie op jou ware self (Atman) te fokus, kan jy besef dat jy eintlik ook Brahman is, ’n verligte weses.

Kritiek: Hoe weet jy dat die gedagte dat ‘n individu ‘n illusie is, nie self ‘n illusie is nie?

  • Christene

’n Mens is ’n individu wat God goed geskep het na sy eie beeld (Genesis 1:26-27). Ons is nie een in wese met God nie, maar net skepsels. Maar ons het in die sonde geval en gebroke en boos geraak in ons natuur (Rom. 3:23).

Wat is die mens se eindbestemming?

  • Hindoeïsme

Die mens is vasgevang in ‘n eindelose siklus van geboorte, lewe, dood en reïnkarnasie(weer gebore).
As jy sleg geleef het, bou jy slegte karma op en gaan jy as ’n slegter wese gereïnkarneer word (byvoorbeeld ’n hond, kat of selfs ’n plant).
As jy goed geleef het, bou jy weer goeie karma op en word jy as ’n beter wese gereïnkarneer.
Om vry te kom van hierdie siklus, moet mens deur jou goeie werke ’n beter en beter wese word totdat jy die hoogste vlak van bestaan bereik. Dan gaan jy tot die verligtende besef kom dat jy Brahman is. As jy so verlig is, word jy nie weer gereïnkarneer nie, want jy word in Brahman opgeneem.

Kritiek: As daar nie waarlik onderskei kan word tussen goed en sleg nie, hoe kan ’n mens dan goeie en slegte werke doen?

  • Christene

Die mens verdien die straf op hulle oortredings: die toorn van God. Goeie werke red nie. God die Vader stuur vir Christus om ons te verlos. Hy dra ons straf en oordeel. Dit alles terwyl ons hom met ons hele wese gehaat het!
Deur te glo in Jesus Christus as ons enigste verlosser. Dan wag God se toorn nie op ons nie, maar Sy liefde. As ons doodgaan, dan is ons dadelik by God in sy heerlike teenwoordigheid. Met Christus se wederkoms, kry ons ’n nuwe liggaam en woon ons saam met God op die nuwe aarde (Johannes 3:16; Openbaring 21:1-18).

Hindoeïsme het ’n paar strome wat verskil. Hierdie artikel fokus op een van die meer algemene strome: Vedanta Hindoeïsme.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui