Hoe vier ’n gelowige Kersfees?

Ons kyk na die
tradisies rondom Kersfees; en probeer dan eindelik bepaal of ’n mens Kersfees
moet vier; en indien wel, hoe ’n gelowige se Kersvieringe moet lyk.

deur ds. Jan-Louis
Lee

Dit is weer
daardie tyd van die jaar waar ons in elke winkelsentrum met kersbome,
Kersvadergesiggies, glinsterende liggies en kersliedere begroet word. Hoewel
gelowiges wêreldwyd hierdie tyd as ’n belangrike deel van die kalender herdenk,
is daar tog ’n sekularisasie en kommersialisering van die fees wat al hoe meer
wegbeweeg van die Christelike bedoeling van Kersfees. Ons kyk na die tradisies
rondom Kersfees; en probeer dan eindelik bepaal of ’n mens Kersfees moet vier;
en indien wel, hoe ’n gelowige se Kersvieringe moet lyk.


Hoekom word Kersfees op 25 Desember gevier?

Die vroeë kerk
het eintlik glad nie ’n tradisie van Kersvieringe gehad nie. Die gedagte
daarvoor kom eers omtrent uit die vierde eeu n.C. Trouens, die kerk het eerder
op die Paasgebeure gefokus, Christus se plaasvervangende offer.
Tog het daar mettertyd sulke vieringe
ontstaan:

  • Op 6
    Januarie is daar in Italië ’n fees ter ere aan die Wyse Manne uit die Ooste
    gevier, terwyl daar in Gallië en Spanje ’n tipe geboortefees gevier is, om die
    fees van die afgod Aion te vervang.
  • Die
    fees Saturnalia is gewoonlik tussen 17 en 23 Desember gevier en was ’n
    fees ter ere van die aanbreek van die winter.
  • Die fees
    van Sol Invictus (Die onoorwinlike son) op 25 Desember was ’n belangrike
    feesdag in die Romeinse ryk. Die songod is as hoofgod verhef en diens aan
    hierdie afgod het begin saamloop met die tradisie van keiserverering. 

Daar het ’n populêre siening begin ontstaan dat 25 Desember gekies is om die heidense fees van Saturnalia te vervang, en met Christelike inhoud in te kleur. Ons kan met redelike sekerheid hierdie gedagte verwerp, omdat Saturnalia gewoonlik tussen 17 en 23 Desember gevier is. Dit was die praktyk van die Rooms-Katolieke kerk om heidense feeste te vervorm en ’n Christelike geur te gee sodat die heidene wat ‘tot bekering gekom het’ in wese eintlik maar kon voortgaan met hul afgodaanbidding onder die vaandel van ’n nuwe “Christelike fees”. Dit is juis nie wat die gelowiges hier wou doen nie.

’n Meer aanvaarbare
verklaring is dat Christene ’n Christelike teenstem vir Sol Invictus op
25 Desember wou opper, om aan te toon dat dit nie die keiser of ’n songod is
wat die lig bring nie, maar Christus. Die gedagte was om die heidense kultuur
met die waarheid van die evangelie te konfronteer. Die belangrikste van hierdie
dag was om die feit van Christus se geboorte, as mensgeworde Woord, te
verkondig. Baie mense beweer dat dit die gedagte agter al die kersliggies is:
dit is simbolies van Christus se oorwinning, Hy is die Son van geregtigheid.


Waar kom dié simbole van Kersfees vandaan?

1. Kersvader

Kersvader het aanvanklik
niks met Kersfees te make gehad nie. ’n Biskop met die naam van Nicolaas het in
die eerste helfte van die vierde eeu in Myra in Klein-Asië geleef. Hy het na
alle waarskynlikheid ’n groot erflating ontvang, en besluit om sy rykdom aan
armes uit te deel. Hy het dit stilletjies in die nag gedoen, in sy rooi
biskopsgewaad. Vandaar die gedagte van die rooi jas en die verrassingselement
op Kersoggend as jy jou kerspakkie oopmaak. Hy is ook Saint Nicolas genoem –
vandaar Santa Claus, of in Afrikaans: Sinterklaas.
Ter ere aan hierdie merkwaardige man, is daar sedert die 6de eeu op 6 Desember,
sy verjaarsdag, ’n fees gevier. Mettertyd het van die oud-Germaanse mitologie
met hierdie tradisie vermeng geraak: dat hy met ’n spesiale perd oor die
vlaktes sou ry en die land vrugbaarheid skenk. Vandaar kom die tradisie van
Kersvader met ’n slee, getrek deur takbokke.
Heelwat later is die twee feeste van 6 en 25 Desember met mekaar verwar, en het
dit inmekaar ingevloei en het St. Nicolaas ’n simbool van Kerstyd geword.

2. Kersbome

Daar is ’n paar
uiteenlopende gedagtes oor die oorsprong van die kersboom. Sommiges meen dat
die tradisie van die kersboom reeds uit die 1600’s uit kom. 

  • Daar is sprake van ’n boom wat met lekkernye vir arm kinders versier is;
  • Daar is die gedagte dat die boom deur heidene vir ’n vrugbaarheidseremonie gebruik is;
  • Ander skryf die kersboom toe aan ’n legende waarin ’n denneboom nederige eerbetoon aan die Christuskind sou bring en ’n engel ’n ster versoek het om bo-op die boom te gaan rus;
  • Ander meen dat die denneboom ’n simbool van die lewe is omdat dit ’n immergroenplant is; en
  • Laastens is daar selfs aanduidings dat Martin Luther so aangegryp was deur die skoonheid van die denneboom, dat hy in die Kerstyd een in sy huis laat staan het.

3. Geskenke

  • Die gee van geskenke het aanvanklik volwassenes in die oog gehad. Arbeiders op die lande het in die Kerstyd ’n deel van hul opbrengs vir die landheer geneem; en hy het in ruil daarvoor vir hulle ’n fees gehou.
  • St. Nicolaas het aalmoese in hierdie tyd uitgedeel en dit kon tot die uitdeel van geskenke lei.
  • Waarskynlik lê die moderne gee van geskenke se wortels in die industrialisasie van die 1700’s en 1800’s. Besighede het die moontlikhede vir bemarking rondom die Kersseisoen besef en daarop gekapitaliseer.


Behoort ons Kersfees te vier?

Dit is belangrik om te besef dat die Bybel gelowiges net beveel om die feesdag
van die Sondag te vier. Al die wette en seremonies waarvan ons in die Ou
Testament lees het een doel voor oë gehad: om die koms, die offer, die
verlossing in Christus te verkondig. Hy is die vervulling daarvan.
Ons word geroep om die Sondag te vier – 52 feesdae in die jaar. Dit is ononderhandelbaar.
Die viering van die feesdae, Kersfees, Paasfees en Hemelvaart, spruit uit die
behoefte van die ou Christelike kerk om jaarliks die geboorte en sterwe van
Jesus Christus te gedenk. Die doel daarvan was om die Woord te hoor; om
Christus te verkondig en sy alleenheerskappy te proklameer.

Gelowiges neem outomaties aan dat Kersfees en Paasfees die twee
belangrikste dae in die jaar vir die Christen is. Geboorte en kruisiging – wat
kan nou belangriker wees as dit? Vir baie word die evangelie in hierdie twee
elemente van Christus se bediening op aarde opgesom. Tog is elke Sondag,
eintlik elke dag, ’n viering van die geboorte, dood en opstanding van Christus.

Ons word nêrens verplig om Kersfees en Paasfees te vier nie. Maar ons mag nie
mekaar se gewetens in hierdie opsig bind nie. Gereformeerde kerkordes het van
die vroegste tyd die saak duidelik gestel – die gelowige is daarin vry om te
besluit.
Dus: Dit sou nie verkeerd wees om Kersfees te vier nie; maar dit is ook nie
verkeerd as iemand besluit hulle wil dit nié
vier nie.


Hoe vier ons dan Kersfees?
As ons kies om Kersfees te vier, moet dit nie lyk soos die wêreld se manier van Kersfees vier nie. Dit moenie gerig wees op geskenke en oordadige feesmaaltye nie. Christus moet die middelpunt van ons feesvieringe wees. As ons geskenke gee, moet ons dit in matigheid, met die evangelieverkondiging as doel gee. As ons fees-etes hou, moet ons dit doen as herinnering van God se voorsienigheid in Christus. Nooit mag ons kersvieringe dit laat blyk dat ons die evangelie wil inkleur nie. Die enigste ware Christelike viering van Kersfees is geleë in die onvoorwaardelike erkenning van Christus as die Here.