Hoekom sing ons die Psalms?

Die sing van die Psalms is ’n belangrike deel van die erediens. Kruispad kyk na die Psalmbundel en hoekom ons dit sing. 

deur ds. Werner Brotherton

Musiek het ’n kragtige uitwerking op hoe ons voel, hoe ons werk, hoe ons reageer, en dan die belangrikste: hoe ons aanbid. Om in die erediens saam te sing is deel van ons aanbidding van die Here. Natuurlik sal ons hierin ook reg wil handel, maar die vraag is hoe? Gee die Bybel riglyne oor hoe ons die Here ook in ons sang moet aanbid?

In die Ou Testament weet ons was die Psalms die liedere gewees waarmee die volk Israel die Here geloof het. Wat van ons vandag? Moet ons nog die Psalms sing? Is dit nie outyds en onpopulêr nie? Die Psalms word baie keer aangekla dat dit vervelig is om te sing en ons dit nie verstaan nie. Soms is dit so dat ons dit nie verstaan nie, maar ons kan altyd vra en leer wat dit beteken.


Wat sê die Bybel?

In Kolossense 3:15-17 en Efesiërs 5:17-27 word ons iets hiervan geleer. In Kolossense 3 kry ons die woorde: “Laat die Woord van Christus oorvloedig of ryklik in julle woon.” Efesiërs sê dat ons met die Gees vervul moet raak. Daar is nie ’n groot verskil tussen die woorde woon en vervul nie. Beide het daarmee te doen om te bly. In die Ou Testament het die Here onder sy volk in die tabernakel gebly. Vandag woon Hy in ons deur die Heilige Gees (1 Korintiërs 3 en 6).

Ons kan dit anders sê: Die Gees vervul die kerk. Ons opdrag is dus dieselfde en vloei uit mekaar: word vol van die Woord en die Gees. Die twee is onlosmaaklik met mekaar verbind. Nou volg die volgende opdragte. Efesiërs sê dat ons met mekaar moet praat. Kolossense sê dat ons mekaar moet leer en vermaan.

Een kommunikasiemiddel wat God aan ons gee is sang. Ons kan met mekaar praat deur te sing. Ons sing dus nie net met leë woorde nie. Uit Kolossense word dit duidelik dat hier ook ’n gedagte van tugtiging is. Onthou, dit het alles steeds te doen om met die Gees vervul te wees.

Paulus leer ons wat ons vir mekaar moet sê. Ons moet met mekaar praat, mekaar vermaan, en mekaar bemoedig deur Psalms, lofsange en geestelike liedere. Albei ons teksgedeeltes leer dit vir ons.



Kom ons staan kortliks stil by elkeen van hierdie tipe liedere:

Die Psalms

Ons wil maklik antwoord dat die Psalms die boek Psalms in die Bybel moet wees. Tog is nie al die Psalms in die Psalmbundel nie. Die woord Psalms is ’n versamelwoord wat ons vir die Psalms in die Bybel het. Die Psalmbundel soos ons dit vandag ken bestaan uit dié drie kategorieë: Psalms, lofsange en geestelike liedere.

Die lofsange

Die Griekse woord is humnois, waar ons die Engelse woord “hymn” hoor. Die lofsange het te doen met die lofprysing aan die Here. Ons kan hier dink aan Psalm 111 tot 118 wat as die Hallel-psalms bekendstaan. Dit kom van die woord Halleluja af wat “prys die Here”beteken.

Die geestelike liedere

Die Griekse woord is Ode, wat ons ook in Afrikaans ken as ’n lied. Hier moet ons mooi kyk na die woorde. Dit is geestelike liedere, of anders gestel, liedere van die Gees. Dit verwys na ander geestelike liedere wat ons in die Bybel kry. Dit is byvoorbeeld die lofsang van Sagaria, die Lofsang van Maria, of die Lied van Moses. Dit is waarvan hier gepraat word.


Die Psalmbundel as deel van die erediens

Die liedere wat ons in die erediens sing is juis liedere uit die Bybel. Wanneer ons die Psalms sing, sing ons die Woord van God. Só vervul ons die opdrag dat ons met die Woord van Christus en die Gees vervul moet wees. Die erediens is die plek vir die Woord van God en daarom is die Psalms juis so gepas. En nog meer, wanneer ek die Psalms ken, kan ek op my oudag wanneer ek nie meer kan hoor of sien nie, die Woord van God sing. Ek kan sing van my troos.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui