Is dit nog belangrik om te preek?

2 Timoteus 4:2

2 Timoteus 4:2 sê dat die Woord tydig en ontydig verkondig moet word. Lees hier hoekom die verkondiging van die Woord nie verander of aangepas kan word nie.

deur ds. Jan-Louis Lee

Dis of daar al
hoe meer ’n onwilligheid ontstaan het dat een persoon voorgaan deur ’n gedeelte
uit die Skrif te lees, dit verstaanbaar uit te lê en toe te pas. Met ander
woorde, dis asof mense begin ongemaklik raak met die idee van ’n preek. Mense
wil hê die predikant se boodskap moet lig en informeel wees, vol humor en
persoonlike staaltjies. Daar is selfs kweekskole wat predikante oplei om storievertellers,
vermaaklikheidskunstenaars, en motiveringsprekers te wees. Daar word dan
al hoe meer weggeskram daarvan om diepgaande, moeilike kwessies vanaf die
kansels aan te spreek. Mense sê selfs hulle is opsoek na ’n gesprek-erediens, met
geleentheid om te onderbreek en vrae te vra. Daar gaan stemme op vir die
gebruik van sosiale media, selfs tot die mate dat Facebook-eredienste gehou
moet word.

Daarom is dit besonder aktueel vir die kerk van vandag om die vraag te vra: Is die prediking van die Woord nog enigsins relevant? Wat is die plek van die preek, oftewel Woordverkondiging, in die erediens?


Timoteus se bediening in Efese
Vir ons antwoord keer ons na die Bybel en kyk na die Timoteus se bediening in Efese. Paulus het vir Timoteus agtergelaat as jong bedienaar van die Woord in hierdie stad wat gewemel het van growwe afgodery. Timoteus het van die begin af teenkanting ervaar teen die boodskap wat hy gebring het. Ons weet dat Timoteus maar nog bloedjonk was en dat hy soms ernstig in sy bediening geworstel het en dat die aanvegtinge hom geteister het. Alle aanduidings is dat Timoteus dit selfs sou oorweeg het om die evangelieboodskap af te water ter wille van die vrede – en daarom waarsku Paulus hom in 2 Timoteus 1:8 baie ernstig: “Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God …”


Verkondig die Woord

Dit is uit die
hele brief duidelik dat Paulus ’n tyd voorsien het waarin die wêreld agter
valse predikers sal aanloop wat hulle na die gehoor streel, en ’n weersin en
afkeur van die waarheid sal hê. So groot sal die weersin vir die waarheid wees
dat die verkondigers daarvan vervolg sal word (’n kenmerk van die valse kerk).
Paulus stel dit duidelik in 2 Timoteus 4:2: “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan
in alle lankmoedigheid en lering…”

Die woord wat ons
vertaal het met ‘verkondig’, kan ook verstaan word as ‘preek’; ‘proklameer’,
‘uitroep’ of ‘bekend maak’. Die persoon wat die verkondiging doen kan as ’n boodskapper, of ’n ambassadeur, gesien
word, wat bloot die boodskap van sy sender aan die ontvangers van daardie
boodskap bring.


Prediking bring mense tot geloof

Dit is besonders
om daarop te let dat hierdie prediking of proklamasie ’n bepaalde gebeurtenis aankondig – die
deurbraak van die Koninkryk van God. Dit is die woord van die kruis wat die
krag van God is vir dié wat gered word (1 Korintiërs 1:18). Verkondiging verwys na die
werklikheid van die verlossing in Christus, iets wat vir die wêreld na
dwaasheid lyk.

Suiwer
Skrifprediking kondig die vergifnis van sondes aan God se kinders aan, dit
proklameer God se genade en maak God se eise vir ons lewens bekend. Dit dui die
weg tot bekering aan, en wys vir die gelowige dat die hele aarde onder God se
gesag val. Daarom kan daar absoluut niks wees wat ons van God kan vervreem nie
(Romeine 8).


God stuur verkondigers

Romeine 10 leer
ons dat God deur die prediking mense tot geloof roep, en dat Hy verkondigers stuur (vers 14-15).
Die woord ‘verkondig’ veronderstel dus dat God boodskappers roep, bekwaam maak
en ’n baie spesifieke taak aan hulle opdra. Dié wat gestuur word om die
waarheid van God te proklameer, doen dit in gehoorsaamheid aan hulle Sender; en
dra God se Woord (sy Boodskap) uit. ’n Boodskapper het nie volmag om, wanneer
hy ’n Godgegewe taak het, dit te vertroebel met soetsappige boodskappies en
staaltjies oor homself nie. Hy verklaar en tree op ten behoewe van die Een wat
hom gestuur het. Enigiets anders is blote propaganda van menslike oorsprong.


Mense gaan nie wil luister nie
Paulus stel dit verder baie duidelik aan sy jong medewerker, Timoteus, dat sy verkondiging nie altyd goed ontvang gaan word nie. Trouens, daar gaan ’n tyd kom waarin dinge van kwaad na erger sal gaan, en die mense júís nie wil luister nie. Nietemin, wees getrou. Preek met vrymoedigheid, preek duidelik, en preek getrou die Woord. Wees gereed om die evangelie te proklameer as die mense reg is om dit te ontvang, en preek dit nietemin wanneer hulle daarteen rebelleer en dit verwerp. 


Prediking is nié opsioneel nie

Ons kan hieruit
tot ’n belangrike gevolgtrekking kom – nie omdat ons teen nuwe dinge gekant is
nie, maar omdat die Skrif ons so leer: Die prediking van die Woord is nie
opsioneel nie. Dit is sekerlik die belangrikste element in die erediens, want
dit is God wat Self aan die Woord kom en so met sy kinders praat. Paulus maak
dit duidelik in sy betoog aan die Korintiërs (1 Korintiërs 2) dat daar baie sogenaamde
beter maniere van gespreksvoering of diskoers is – die Grieke het in
gesprekskuns en retoriek uitgestaan in die antieke wêreld. Deur dialoog en
gespreksvoering moes die mense self tot ’n tipe waarheid kom. 

Daarteenoor is
die proklamasie van die Woord, met God as sender – die Waarheid. Daarin lê die
kerk se sekerheid. Die prediking, waarin die Woord uitgelê en verstaanbaar
verkondig word, kan nie met enige beter metode vervang word nie omdat enige
ander manier van verkondiging vir God verplaas. Die fokus moet altyd op die
inhoud van die boodskap wees, en nie op die metode waarop dit oorgedra word
nie.