Is jy besig om hoop te verloor?

’n Ysblokkie wat smelt. ’n Doodloopstraat. ’n Uurglas wat leegloop. ’n Tikkende tydbom. Beskryf dit hoe jý voel? Onthou die woorde van Psalm 37:4-5.

Deur ds. Hentie Krüger

’n Ysblokkie wat smelt. ’n Doodloopstraat. ’n Uurglas wat leegloop. ’n Tikkende tydbom.
As jy eerlik moet wees, beskryf hierdie vergelykings nogal goed hoe jy dalk nou binne in jou voel. Jou hoop is besig om stadig weg te sypel. Dalk het jy onlangs jou werk verloor. Dalk het jy ’n miskraam gehad. Dalk is jy met ’n gevreesde siekte gediagnoseer. Dalk is die bank op pad om jou motor of huis te kom terugvat. Of dalk het jy net ’n aaklige baas en jy weet nie hoe jy deur die dag gaan kom nie. Luister dan na die Psalmdigter se woorde in Psalm 37:4-5: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Lees dit oor en oor; bêre dié belofte in jou hart en vertrou op God vir jou uitkoms. Ek kan jou waarborg, Hy gaan jou nie deurdra nie, Hy gaan jou sterker aan die anderkant uitbring – én met iets waarmee jy diegene rondom jou se lewens kan inspireer.


Jy is in God se hande

God lei ons altyd met sagte hande! Selfs al voel dit soms vir ons of sy hand swaar op ons druk, is dit eintlik die strelinge van sy genade. God “omsluit my van alle kante” (Psalm 139:5). Ek kan aan geen beter prentjie dink waarmee ons die toekoms tegemoet kan gaan nie. God se hande wat rondom ons planeet gevou is, soos die liedjie lui: He’s got the whole world in His hands!

O, ’n mens sien dit natuurlik nie altyd raak nie. Trouens, sonder geloof sien jy niks nie of min van hierdie hande van God raak. Want daar is soveel hande wat aan die werk is in die wêreld, soveel hande wat na jou gryp, wat hulle aan jou wil vergryp, wat jou wil rondskuif soos ’n pion op ’n skaakbord, wat jou wil vasdruk en versmoor of liefdeloos wil weggooi in die wind. Hande van mense, of die Bose … of wie weet, dalk jou eie hande. Tot dit vir jou voel of ook God se hand teen jou is, of dat Hy ten minste sy hande van jou af teruggetrek het en nou met gevoude arms na jou staan en kyk.

Dit is eers wanneer ons besef dat ons onder en in God se hand is, dat ons kan doen wat Psalm 37:7 vir ons sê: “Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ’n skelm nie” want sê vers 18: “die Here sorg vir die lewe van die opregtes.”


Jy hoef nie bekommerd te wees nie

Ons hoef nie bekommerd en ontsteld deur die lewe te gaan nie. Is daar ’n troosryker gedagte in die Bybel as hierdie een? Ons almal ken bekommernisse. Vir die vroeë Christelike kerk was dit konkrete bekommernisse oor lyding, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar en swaard (Romeine 8:35). Vir ons kan dit ander dinge wees. Bekommernisse is so veelkleurig soos menswees: dit kan siekte wees, ’n doring in die vlees, sorge oor kinders of ouers of finansies of werksomstandighede. Dit kan die druk van verpligtings, of die slapelose nagte van teleurstelling wees. Trouens, dit kan soms vir ons voel of ons lewe net van bekommernisse en sorge aanmekaargesit is.

Die Woord van God sê net een ding daaroor: Neem afskeid daarvan, staan terug daarvan, word bevry daarvan, gee dit oor in die hande van die Here. En dan nie net ’n gedeelte daarvan nie, maar alles. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Filippense 4:6). Wat is gebed anders as om al jou bekommernisse op die Here te werp?


God sorg vir jou

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7).

Ek weet nie van vier mooier woorde in die Bybel as dit nie: Hy sorg vir ons. Wie kan beter vir ons sorg as die Here? Wie weet beter as Hy wat ons gemaak het wat ons nodig het? Hy het die hare op ons kop getel en Hy weet ook van al die gedagtes wat ons gaan dink; Hy weet ook van al die bekommerde gedagtes wat ons hare in die toekoms nog gaan grys maak; Hy weet van ons bang en bekommerde gedagtes, nog voordat hulle by ons opkom. Hy ken die somtotaal van ons woorde wat ons gaan uitspreek, nog voordat hulle op ons lippe gekom het (Psalm 139:2, 4). Hy het die aantal kere wat ons hart gaan klop en ons asem gaan haal in sy boek opgeskryf. Hy weet van elke mossie wat op die grond val. Hoeveel te meer sal Hy nie vir ons sorg nie (Matteus 10:29, 30)? Hy sorg vir ons, vir jou! Laat daarom jou sorge aan die Here oor. Wees stil, en beleef God se troue sorg.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui