Jou roeping begin by die gemeente

God het jou deel gemaak van ’n gemeente en dis waar jou roeping begin. Lees
hier wat die Nuwe Testament ons oor ons roeping leer.


deur ds. Jan-Louis Lee

Aan die begin van ’n nuwe jaar het mense gewoonlik ’n aantal
nuwejaarsvoornemens. Baie wil meer oefen, ander wil gewig verloor en nog ander
wil van slegte gewoontes ontslae raak. Dit is nie verbasend dat
nuwejaarsvoornemens so groot rol in mense se lewens speel nie, want ’n nuwe
jaar verteenwoordig telkens ’n nuwe begin, met ’n nuwe geleentheid vir
bestekopname en verandering. Dit is egter ’n groot jammerte dat baie van
hierdie voornemens nie altyd die einde van Januarie haal nie.
’n Rede hiervoor is dat hierdie voornemens in ’n sekere sin baie op die mens
toegespits is, op behoeftes van die eie-ek, dit verteenwoordig net ’n bo-langse
verandering. Dit kan ook wees dat baie ’n korttermynoplossing vir ’n langtermynprobleem
soek. Dikwels vergeet so ’n siening God se plan en roeping vir my lewe.
Dit gee ons dan die geleentheid om vanjáár anders te begin; die bolangse
verandering agter te laat, en te konsentreer op die roeping van die Here.


Die gemeente en my roeping

So vreemd as wat dit dalk klink, begin ons by die feit dat God elkeen van
ons deel gemaak het van ’n gemeente. Jy sal al gehoor het dat die Here ons
saamvoeg as sy kinders, sy huisgesin (1 Timoteus 3; Efesiërs 2), maar daar lê
iets baie spesiaals in die feit dat die Here ons ook deel maak van sy gemeente.

Telkens, wanneer daar in die Nuwe Testament van ‘gemeente’ gepraat word, word die Griekse woord ‘ekklesia’ gebruik. Die stam van hierdie
woord is ‘roep’. Letterlik beteken dit ‘uitgeroeptes’. Aanvanklik is hierdie
term gebruik om te verwys na ’n sekulêre samekoms van mense. Mettertyd het die
Christene egter die term oorgeneem om hulle radikaal te onderskei van die
Joodse sinagoges.

Dit het daarom dié term geword waarmee die Christene ’n pragtige belydenis
wou maak: Ons is dié wat deur God uit die donkerte en ellende van sonde geroep
is tot sy heerlikheid, ons is deel van die ewige kerk; wat waarlik in Christus
glo, wat van die begin van die wêreld af bestaan, en tot die einde toe sal
leef.

1 Korintiërs 1:2 het ’n pragtige woordspeling wat die gedagte van roeping mooi beklemtoon: “Aan die gemeente (uitgeroeptes) van God … die geroepe heiliges … wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep…” Hulle wat deur God tot ’n lewe van heiligheid (afgesonder van die wêreld) geroep is, kan nie anders as om op hulle beurt in geloof Hóm aan te roep nie.

1 Korintiërs 1:2 sê dan verder: “…
saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep,
hulle sowel as onse Here
…” Dit herinner ons dat elkeen wat God aanroep,
onlosmaaklik deel van ’n groter liggaam van gelowiges is, nie outonome
eilandjies wat in afsondering van die ander lede van die liggaam van Christus
bestaan nie.


Die roeping van die kerk

’n Ander woord wat gebruik word om na die kerk te verwys, is die woord ‘kuriake’, wat afgelei is van die woord ‘kurios’. Kurios beteken Here, meester of
besitter. Wanneer ons dan praat van ‘kuriake’ of kerk, sê dit eintlik – ‘hulle
wat aan die Here behoort’. 

Die kerk as skeppingswerk van God in Christus het daarom ’n besondere
roeping, wat so pragtig in ons naam na vore kom. Ons behoort aan Hom wat ons met
sy bloed gekoop het (1 Korintiërs 6:20). In die woorde van Handelinge 20:28: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde
waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het, om as herders die
gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het
...”


God sonder ons af sodat ons, ons roepings kan uitleef

Of ’n mens dit daarom wil weet of nie; jou roeping begin en is opgesluit in
die wese van die kerk. Baie keer hoor ons dit, ons weet ons is saamgevoeg in ’n
gemeente; maar dit gaan soms moeilik tussen mense. Maar tog sê Efesiërs 4:1: “Ek vermaan julle … om te wandel waardig
die roeping waarmee julle geroep is
…” Paulus verduidelik daarna die
eenheid van die kerk, en hoe daar in die een liggaam ’n verskeidenheid van
gawes is. Wanneer die gemeente in geloofsvolwassenheid hulle verskillende gawes
tot eer van die Here gebruik, is daar vrede en standvastigheid, en word die
gemeente goed opgebou (Efesiërs 4:14). 

1 Korintiërs 12 sluit mooi hierby aan wanneer Paulus in vers 4 tot 6 die volgende skryf: “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.”

Kortom leer ons dat die Here gawes gee met die oog op bedieninge en dat Hy kragtig in sy kinders werk sodat die gawe in ’n bediening aangewend word. Dit is daarom so belangrik om te onthou dat die gawe wat die Here vir jou gegee het nie eintlik joune is nie. Dit is ’n gawe wat die Here aan sy uitgeroepte kind vir sy uitgeroepte gemeente gegee het. Dit moet daarom eerstens tot opbou van die gemeente (waarvan jy onlosmaaklik deel is) gebruik word.

Die Here verwag van ons om daardie gawes, wat dit ookal mag wees – tot sy eer te gebruik en met dankbaarheid ’n beroep te beoefen. Vir sommiges is ons gawes opgesluit in ’n besondere roeping – soos om predikant te wees. Ander het die gawe om met geld te werk en ander kan dinge bou en goed met hulle hande werk. As ons gawes het, weet ons die Here wil dit in sy diens gebruik, en dan weet ons ook dat Hy ons bekwaam vir ons taak sal maak.


Kom ons vergeet van voornemens in 2020, kom ons
soek in alle erns in gebed en in die Skrif na die gawes wat die Here aan ons
gegee het, en gebruik dit daar waar Hý ons roep om te arbei.