Jy is belangrik!

Deur ds. Dinant Zwemstra

Voor God is ons almal belangrik. ’n Klein dogtertjie se getuienis bring ’n sondaar tot bekering. Hoe onbelangrik jy ookal voel, jy kan ’n verskil maak.


2 Konings 5:2-3

Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ‘n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. Sy het vir die vrou gesê: ‘Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.’


’n Belangrike man

Dit is belangrik dat ons Naäman se agtergrond ken‚ om die wonder wat met hom gebeur het beter te verstaan.
Naäman was die militêre hoof van Assirië se weermag. Sy land was geleë aan die westelike oewer van die Tigrisrivier. Hulle staatsgod is Assur genoem‚ die oorlogsgod. Nineve‚ Jona se bekende sendingveld‚ was hulle hoofstad. Met militêre mag het sy land ’n imperialistiese moondheid geword wat die hele wêreld wou verower en beheer. In kort: Naäman‚ was ’n belangrike man. Hy het die hoogste trap van die leer bereik.
Naäman was belangrik, maar hy was melaats. Melaatsheid is ’n dodelike siekte. As jy van melaatsheid doodgaan‚ is dit nie ’n vreeslike roemryke dood nie. Stuk vir stuk‚ ledemaat vir ledemaat vrot letterlik af.  Daarom is ’n melaatse as lewendig dood beskou.


’n Onbelangrike dogtertjie

Deel van die groot plan van God was juis dat ’n klein Israelitiese meisietjie slavin moes word in Naäman se huis. Die Hebreeus vertel vir ons dat dit ’n jong dogtertjie was. Jonger as twaalf jaar. Letterlik staan daar dat sy onbelangrik jonk was. Destyds was meisies maar as onbelangrik gesien, en as hulle jonger as 12 was, was hulle eintlik nog minder werd, want hulle kon nog nie geboorte skenk nie.
Maar juis hierdie onbelangrike jong dogtertjie getuig dat daar ’n profeet in Samaria woon wat hom sal kan genees.


God het ’n plan

Tog interessant hoe God werk! Ons dink soms dat God met donders‚ aardbewings‚ rukkende winde praat – soos Elia hom die keer by die grot van Horeb (1 Konings 19) misgis het. Soms dink ons dat ons nie geskik is om die werk van die Here te doen nie, maar hier gebruik Hy die sagte stemmetjie van ’n klein dogtertjie. So is ’n klein dogtertjie verantwoordelik vir Naäman se genesing. Fisies en geestelik. Deur ’n kind se eenvoudige belydenis, en ten spyte daarvan dat sy ’n slavin was, ontmoet Naäman nie net vir Elisa nie, maar ook die God van die hemel en die aarde.


Almal is ewe belangrik vir God

Net so kan elkeen van ons ontsettend baie beteken vir God se koninkryk. Ongeag van hoe oud jy is, of wat jou stand in die lewe is. Jongmense kan vir ander vertel wat God vir ons deur Jesus Christus gedoen het. Jongmense kan hul ouers bly help om te glo. Kinders is van onskatbare waarde in die koninkryk van God. Die Bybel vertel vir ons dat die dissipels wou keer dat die kindertjies na Jesus toe kom, maar Jesus het gesê, moenie hulle verhinder nie, want die koninkryk is juis vir mense soos hulle. Onthou, kinders is ten volle deel van God se kerk.

Dink jy, jy is te onbelangrik om iets vir die Here te beteken? Dink jy dat jy eers een of ander graad moet hê om werklik te kan werk in God se koninkryk? Dink aan die uitwerking van ’n klein dogtertjie se getuienis.


In God se wingerd is daar plek vir almal om te werk. Deur Christus het ons almal skoon harte, is ons genees van ons melaatsheid, ons sondes. Deur die krag van die Heilige Gees kan ons almal ’n verskil maak, iets beteken vir ander mense.  Doen dit net.