Laat God jou jaar vorm

God het reeds die goeie werke voorberei wat Hy wil hê jy hierdie jaar vir Hom moet doen. Is jy ontvanklik daarvoor?


Deur ds. Piet Venter (GK Potchefstroom-Oos)

Nuwejaarsvoornemens is ’n gewilde onderwerp aan die begin van elke jaar. As jy aan mense se voornemens dink, tref dit jou dat meeste van hierdie voornemens gewoonlik om hulself draai. Sommige mense wil meer tyd aan hulself spandeer, gesonder eet en ander wil weer innerlike vrede beleef of meer blydskap ervaar.

As gelowige weet jy egter dat daar meer om die lewe draai as goeie bedoelings en voornemens. Die sin van jou lewe word net gevind wanneer jy jou Godgegewe roeping vervul. Daarom behoort Christene se nuwejaarsvoornemens heeltemal anders te lyk. Neem jou voor om al die dinge te doen wat God vir jou voorberei het om te doen.

Hoekom kan dit nie net oor my gaan nie?

Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!” (Efesërs 2:4-5).

In hierdie verse sê God hoekom Hy jou uit ’n sinlose bestaan gered het en ’n nuwe lewe gegee het. Uit genade is jy gered. Dit kom nie uit jouself nie, maar uit God. God het jou gemaak en daarom het Hy volle seggenskap oor jou lewe. Hy bepaal wat vir jou in hierdie jaar voorlê.


Laat God jou vorm
Is jy bereid dat God jou nuwejaarsvoorneme se lysie mag vul? Of wil jy self besluit wat vir jou die beste is? Efesiërs 2:10 sê God het ons in Christus geskep om te doen wat Hy wil. Behalwe dat jy elke dag gehoorsaam aan God se wil moet leef, wil Hy ook dat jy jou besondere roeping waarvoor Hy jou bestem het doen. God het dus in hierdie jaar iets besonders net vir jou in gedagte. Voordat Hy jou nog gemaak het, het Hy geweet wat Hy wil hê jy hierdie jaar vir Hom moet doen. Wat ’n wonderlike gedagte: God het reeds die goeie werke voorberei wat Hy wil hê jy hierdie jaar vir Hom moet doen. Jou lysie van nuwejaarsvoornemens is klaar deur Hom geskryf.


Hoe doen ek wat God wil hê ek moet doen?

Selfs al sukkel jy om jou eie voornemens te vervul, sal Christus dit vir jou moontlik maak om vir Hom te werk. “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Efesiërs 2:10). Die antwoord lê hierin: dat jy “in Christus” geskep is.

Christus het vir jou sonde betaal en jy het saam met Hom in ’n nuwe lewe opgestaan. Die krag van die nuwe lewe lê dus in Christus – Hy maak alles vir jou moontlik.

Deur in ’n noue verhouding met Christus te lewe gaan jy God se voornemens kan uitleef. Hou elke dag aan Hom vas en vind elke dag deur Hom versoening. Hy het dit juis moontlik gemaak dat God die Heilige Gees oorvloedig in jou uitstort. Vanuit jou verhouding met Christus en ’n biddende lewe met die Gees, kan jy doen wat God wil hê jy moet doen. Die Here is ’n wonderlike genadige God: Hy stel jou in staat om dit wat Hy van jou verwag te kán doen.


Hoe weet ek wat God se voornemens vir my jaar is?

Jy leer dit ken deur die Woord te bestudeer en baie te bid. Die goeie werke is natuurlik alles wat God vir jou in die Bybel leer om te doen. Dit is die vrug van die Gees soos dit in Galasiërs 5:22 beskryf word, of soos Paulus dit in Efesiërs 4:1-2 beskryf. God se goeie werke wat Hy vir jou voorberei het, het te doen met waar die Here jou in hierdie jaar gaan plaas en gebruik. Dit kan binne jou gesin, jou werkkring, binne die skool waar jy is of die pos wat jy beklee wees. Dink aan hoe jy gaan optree hierdie jaar. Uiteindelik gaan dit oor hoe God in jou lewe verheerlik word.


As jy wil weet wat die Here wil dat jy moet doen, moet jy elke dag uit die Woord leef en volhardend bid dat die Here elke dat vir jou sal wys wat daardie dag se goeie werk is.


Hierdie artikel is verwerk uit ’n preek van ds. Piet Venter. Lees die volledige preek hier.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui