Laat jou geloof groei

Geloof wat groei, is ware lewende geloof. Die Here leer ons in 2 Petrus 1:5-7 hoe ’n mens se geloof groei. Hy leer ons ook wat elkeen, ook jy, kan doen om jou geloof te laat groei.

Deur ds. Johan Nel
Verwerk deur Kruispad-redaksie

Geloof beteken om God as volmaak betroubaar te aanvaar. Hierdie aanvaarding van God bind jou geestelik aan Hom, sodat jy ’n verhouding met Hom het. Geloof is die lewende verhouding met God. Daarom kan jou geloof nie net bly soos dit is nie. Ware geloof wat jou aan God in ’n verhouding bind, is geloof wat leef en groei.


Geloof wat nie groei nie, is dood

Daar is ook geloof wat nie groei nie. Twee voorbeelde is Saul in die Ou Testament en Judas Iskariot in die Nuwe Testament. Saul is as eerste koning oor Israel gekies, maar in plaas daarvan om nader aan die Here te groei, het hy al verder van God af geleef. Judas Iskariot is as dissipel gekies, maar in plaas daarvan dat hy nader aan Christus geleef en gegroei het, het hy geestelik al verder van Hom af geleef, al was hy elke dag by Jesus. Altwee hierdie mense se lewens op aarde het rampspoedig geëindig. Geloof wat nie groei nie, is dood en eindig in die ewige dood.


Die Here leer ons in sy Woord deur twee beelde dat geloof óf dood kan wees óf kan lewe en groei.

1. Geloof soos ’n kaal bossie in ’n droë wêreld

Dink aan ’n bossie wat in ’n droë woestyn staan, op klippe waar daar baie min water is. Hierdie bossie het geen blare nie, maar staan daar kaal en is besig om dood te gaan. Hierdie bossie beteken vir niemand enigiets nie.

2. Geloof soos ’n boom by water

Dink nou aan ’n boom wat by water geplant is. Die water is ’n rivier of spruit wat altyd vloei. Die boom stoot sy wortels uit na die waterstroom. Die wortels is later in die water. Die boom word aanhoudend gevoed deur die water en die grond wat heeltyd nat is. Wanneer daar hitte kom of selfs droogte, raak dit die boom nie, want die boom kry genoeg kos uit die water en die nat grond. Die boom het verder altyd groen blare en dra elke seisoen vrugte. Mens en dier kan voordeel kry van hierdie mooi boom.


Die boom is die beeld van elke mens met ware geloof

  • Die waterstroom wat die boom voed, is God in Christus. God voed jou deur sy Woord met sy genade in Christus. Hy voed jou met die Evangelie dat Christus vir jou gesterf en opgestaan het, sodat jy heeltemal van sonde verlos is. Hy voed jou ook met die doop en die nagmaal dat jy deur Christus verlos is en nie verlore sal gaan nie.
  • Die wortels in die water is jou geloof in God. Mens kan ook sê dit is jou verstand vol kennis van God en jou hart vol sekerheid oor God. Hoe meer jy van God leer, hoe meer wil jy nog leer. Hoe vaster jy in Hom vertrou, hoe meer wil jy vertrou. Jou kennis en vertroue word al meer en meer.
  • Die hitte en droogte wat oor die boom by die water kom, wys op die beproewinge van die lewe. Tydens beproewings moet jou optrede by jou geloof pas. Dit is die Here se opdrag aan jou. So groei mens se geloof. Jou geloof groei wanneer jy God steeds as volmaak betroubaar aanvaar selfs wanneer jy swaar beproef word.
  • Die groen blare en die vrugte van die boom is die beeld van die vrugte wat by ’n ware geloof pas. Sterk en goeie morele waardes pas by die Here se wil. Sterk morele waardes begin by ’n lewende verhouding met God en is vir Hom aangenaam. Sterk morele waardes bly sterk deur bekering. Hoe ons praat, hoe ons in ons voertuie ry, hoe ons aantrek, hoe ons werk, hoe ons ontspan, ons hele lewe moet pas by ons verhouding met God.

Jou lewe moet by jou geloof pas

En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense” (2 Petrus 1:5-7).

Wie ’n ware geloof het, se lewe moet pas by iemand met ’n ware geloof. In 2 Petrus 1:5 is deugsaamheid een van die eerste goed wat genoem word waarmee jy jou geloof kan verryk. Die woord deugsaamheid beteken dit wat pas of dit wat ooreenstem. Die Here se opdrag is dus, verryk jou geloof met ’n lewe wat pas by jou geloof.


Jy kan net jou geloof verryk indien jy alles wat jy doen, uit geloof in God doen. Daar staan in Romeine 14:23 “En enigiets wat ’n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.” Jy verryk jou geloof en maak dit sterker deur niks sonder God te doen nie, en deur jou hele lewe by jou geloof in God te laat pas.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui