Cum Boeke

>>Artikels<<

Artikel: Om te verstaan of om lief te hê? Dit is die groot vraag!
Skrywer: Thomas Dreyer
Uitgawe: 9

Om te verstaan of om lief te hê? Dit is die groot vraag!

DIT is vir my 'n groot voorreg om met julle iets te kan deel van wat die Here vir my kom leer het oor een van die mees besondere wesens in sy skepping. Vir dié van julle wat wonder, dit is natuurlik die vrou! Laat my egter, ter wille van oorlewing, die volgende disclaimer toe:

Ek, Thomas Dreyer, wil op geen stadium van hierdie skrywe die indruk skep dat ek my eie vrou of enige ander vrou (wat my ma en my dogtertjie insluit) verstaan nie. Indien ek met dit wat hierop volg enigsins die indruk skep dat ek my eie vrou of enige ander vrou (wat my ma en dogtertjie insluit) verstaan, vra ek nederig om verskoning en distansieer ek my van daardie woorde wat die verkeerde indruk kon skep.

Daarso. Nou's dit van my hart af! Ek hoop ek het jou so bietjie laat lag. Maar op 'n manier is ek regtig ernstig. Dit was een van my grootste ontdekkings oor die afgelope paar jaar wat ek en Erna in 'n verhouding leef. My werk is nie om haar te verstaan nie. Ek gaan tien teen een nooit by 'n punt uitkom waar ek kan sê "nou verstaan ek haar" nie. Wat ek wel kan en moet doen, is om vir haar lief te wees! Dis immers die Here se opdrag aan my in Efesiërs 5:25: "Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het."

Waarom hierdie opdrag aan ons manne? Omdat God weet dat juis dít die diepste verlange van enige meisie se hart beantwoord. Die opdrag wat God vir my gee, pas mooi netjies by haar diepste behoefte in. Hoor mooi: Jou meisie, jou verloofde, jou jong vroutjie het 'n diep begeerte dat jy haar met alles in jou moet liefhê! Dis die kernbeginsel as jy graag die vrou in jou lewe gelukkig wil maak. Beteken dit ek moet dit net gereeld vir haar sê? Dis belangrik, ja. Maar dis nie genoeg nie. Nianell sing in een van haar liedjies: "You say you love me a thousand times. Make me feel it once in a while!" Jou mooi woorde gaan net iets beteken as jou dade dit bevestig. En nou volg my praktiese raad aan jou.

Vyf eenvoudige waarhede:

Jou gesindheid
Dis waar alles begin. Filippense 2:1-11 spel dit vir ons uit. As jy regtig eenheid wil beleef in jou verhouding met jou meisie (of verloofde, of vrou, of cherry, of bokkie) moet jy haar hoër ag as jouself (vers 2-4). Haar belange moet in jou hart brand (vers 3 & 4) net soos ons belange in Jesus se hart gebrand het (vers 5-11). Dit het gemaak dat Hy sy voorregte as God in die hemel opgegee het en hier op die aarde in ons plek aan die kruis kom sterf het (vers 5-8). As jy jou meisie gelukkig wil maak, moet hierdie gesindheid van Jesus in jou hart wees!

Sy wil spesiaal voel
As jy met die regte gesindheid na jou meisie kyk, word sy op die plek baie spesiaal vir jou. Dis nou nie net meer jy wat haar gekies het nie. Nee, die Here het haar vir jou kom gee. Haar belange word nou jou belange. Dit is so 'n groot taak dat daar nie plek vir enigiemand is anders nie, en dit is juis wat sy wil voel: "Daar is in my ou se hart nie plek vir enigiets of enigiemand anders nie."
Moet ek die heeltyd groot dinge doen en baie geld spandeer om haar so te laat voel? Nee. 'n Lekker aandjie uit en 'n groot bos blomme is natuurlik 'n opsie. Dis egter die klein aanhoudende dingetjies: Die briefie in haar pennesakkie of kosblik, die vinnige blommetjie uit die tuin waar julle verby stap (moet net nie gevang word nie!). In kort opgesom: Vind uit wat haar spesiaal laat voel en doen moeite. Hoe vind ek uit? So

Sy wil hê jy moet luister
Die regte gesindheid maak van jou iemand wat stadig is om te praat en gou is om te luister (Jakobus 1:19), en luister is die sleutel wat jou gaan help om haar hart oop te sluit. Dit werk op twee maniere. In die eerste plek help dit jou om uit te vind wat haar regtig spesiaal laat voel. Jy kan gaan boeke lees om jou te help, maar hier's die groot verrassing: Nie twee eksemplare van die vroulike spesie is dieselfde nie! Joune is totaal en al uniek. Die gawe van "luister" is al wat jou gaan help om haar te ontdek. So luister die heeltyd met hierdie vraag in jou gedagtes: Wat kan ek doen om haar te laat voel dat sy die enigste meisie op hierdie aarde is wat my hart laat chocolates pomp? Luister as sy praat, maar luister ook met jou oë.
In die tweede plek is luister op sigself 'n geskenk wat jy kan uitdeel. Dit het my jare gevat om te besef dat Erna nie wil hê ek moet al haar probleme oplos nie. Sy kom vertel nie vir my van alles wat haar bekommerd maak en pla sodat ek dit kan fix nie. Sy wil net gehoor word. Sy wil weet daar's een iemand wat regtig na haar luister. 'n Ou wat regtig luister om te hoor wat sy meisie sê, het al 95% van haar hart gewen.

Sy wil raakgesien en waardeer word
As daar nou iets is waaraan ek skuldig is, is dit hierdie sakie. Ek gaan baie maklik in cruise control mode in. Alles werk. Ek en Erna is gelukkig. Elkeen doen wat hy moet en hierdie skip seil lekker. Ek aanvaar al haar moeite en haar harde werk in ons verhouding as vanselfsprekend. Niks laat die wiele makliker afkom as dit nie. Weet jy wat doen wondere? "Bokkie, ek sien hoe baie moeite jy vir my doen en ek wil net vir jou sê, ek waardeer dit verskriklik baie." Dit dra natuurlik baie meer gewig as jy dit by 'n kersligete sê wat jy self voorberei het J.

Sy wil hê jy moet geestelik leiding neem
Soveel keer het daar al meisies by my gesit en gesê: Ek wens so hy kan vir 'n slag die een wees wat sê, "ons moet kerk toe gaan" of "kom ons lees saam Bybel". Skeep jy hierdie belangrike verantwoordelikheid af wat die Here aan jou as man opdra? Hou op! Daar is min goed wat so duidelik vir jou meisie sal sê dat jy vir haar lief is as wanneer jy geestelik voor loop. As sy sien dat jy erns maak met julle twee se gesamentlike verhouding met die Here sal haar vertroue in jou groter en groter word. Sy sal beleef dat sy self en julle verhouding vir jou baie belangrik is!
Soos ek sê: Haar verstaan? Nie sommer nie. Haar liefhê? Ja, dit kan ek doen. Ek kan, omdat God my eerste liefgehad het. Ek moet, omdat Hy my juis dáárvoor roep wanneer Hy een van sy skeppingshoogtepunte aan my toevertrou.


 

 

 

 

© Kruispad 2008-2010
Opgedateer 01 September 2010