Cum Boeke

>>Artikels<<

Artikel: Eva en die fat free fruit
Skrywer: Willem Groenewald
Uitgawe: 9

Eva en die fat free fruit

NA wie luister jy? Na God, na die GPS-girl in jou ou se kar of na die mooi meisie op die grimeringadvertensie wat sê: You're worth it? Hoe jy aantrek en hoe jy gebou is, bepaal blykbaar wie jy is. Westerse kultuur sê 'n girl moet slank wees, maar nie maer nie; gedefinieerd, maar nie gespierd nie; ge-tan, maar wel UV-beskermd; sexy, maar nie sletterig nie.

Onthou jy die heel eerste sonde in die Bybel? "Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet," (Genesis 3:6). "Mooi om na te kyk …" Mooi goed het 'n sekere estetiese waarde. Soos Satan dit daar reggekry het om die vrou te oorreed tot sonde met "mooiheid", kry hy dit nou nog reg om vrouens te laat dink dat voorkoms belangriker is as ander minder opsigtelike kwaliteite, soos vertroue en gehoorsaamheid. Mense leef ongebalanseerd, want hulle konsentreer slegs op die fisieke – óf op die geestelike. Maar God verwag van ons om aandag aan beide te gee. Die antieke Griekse filosofie was: "'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde Gees"*.Paulus voer dit verder: "Besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik," (1 Korintiërs 6:19-20). Indien ons 'n ongebalanseerde leefstyl leef, beïnvloed dit ons hele wese.

God is goed, en Hy seën ons met goeie kos wat Hy self geskep het (Psalm 22:27). Eet is nie verkeerd nie. Inteendeel, dit is heeltemal in orde. Dit is slegs wanneer ons ons liggame misbruik deur te óóreet of verkéérd te eet, dat dit sonde raak.

Ons is soms geneig om te vergeet dat daar wel leefstylsondes is. Om lekker te eet en lekker te drink en lekker te rook en lekker rond te slaap, is sosiaal aanvaarbaar. Sondag gaan ons darem kerk toe, so ons dink ons is fine (vergelyk met 1 Johannes 2:15-17). As Christene moet ons versigtig wees om iets wat gawes van God af is (soos kos en drank en verhoudings), in "wêreldse begeertes" te verander.

Wanneer raak hierdie gawe van God af 'n ongesonde, ongebalanseerde, wêreldse begeerte? Onder andere die oomblik as jy begin dieet! Diëte is die hoofoorsaak van oorgewig mense. Daardie Quick weight loss-program wat jy op die TV sien, die wondermiddel wat waarborg om jou die lyf "waarvan jy nog altyd gedroom het" te gee. Ja, daardie produkte op die mark wat belowe dat jy 3 tot 5 kg in 6 dae kan verloor, but wait there's more, jy kan 10 kg in twee weke verloor, sommer terwyl jy slaap! Vriendin, 95-98% van die mense wat gewig op so 'n program verloor, tel dit weer binne 6-24 maande op. En 90% van hierdie mense tel méér gewig op as wat hulle verloor het.

Kom ek vertel vir jou 'n paar groot geheime: DIT IS GESOND OM 2-4 KG PER MAAND TE VERLOOR! Hoe stadiger jy gewig verloor, hoe groter is die kans dat jy vet verloor en nie vog nie. Jy is tog opsoek na lewenslange sukses en gesondheid, of wil jy net goed lyk op jou honeymoon?

Kom ek vertel jou nog 'n groot geheim: Eet gesond. Maak dit 'n lewenstyl. Doen dit omdat jou liggaam 'n tempel van God is. Begin om nuut te dink oor jou eetplan. Begin om net twee of drie veranderings te maak. Moenie alles op een slag probeer verander nie, anders gaan jy dalk moedeloos raak en moed opgee.

  • Eet ontbyt.
  • Hou op om gaskoeldrank te drink.
  • Eet kleiner porsies.
  • Eet eerder ses kleiner maaltye per dag, want dit versnel jou metabolisme.
  • Vermy kitsdiëte.
  • Bid en vra vir God om jou te help om selfdissipline toe te pas rondom jou nuwe leefstylgewoontes.
  • Eet "lewende kos" (soos vars groente, vrugte, graan, vleis en suiwel).
  • Vermy geprosesseerde kos (soos wegneemetes, blikkieskos en snacks).
  • As 'n produk nie minder as 10% vet (10g per 100g) bevat nie, dan is dit nie laevet nie. Byvoorbeeld: Light Mayonaisse is eintlik net Lighter Mayonaisse. Wanneer daar dus in vetdruk light/lite op 'n etiket staan, beteken dit nie dat dit jou nie gaan vet maak nie.
  • Dit is belangrik om konsekwent te wees en aan te hou, en jy sal gewaarborgde resultate kan sien. So if you are not reading this on the treadmill, you are not training hard enough!
  • 'n Laaste geheim: DRINK BAIE WATER! Water reinig die liggaam van afvalstowwe, versnel jou metabolisme, hidreer jou en is noodsaaklik vir al jou organe om behoorlik te kan funksioneer. Daarom is dit belangrik om ten minste 8 tot 10 glase water op 'n dag te drink.

God leer ons nie verniet in sy Woord van gesonde leefstylgewoontes nie, en Hy kies ook nie toevallig "brood" en "water" as metafore om Christus se werking in ons lewens te verduidelik nie. Net soos ons elke dag moet kos eet en water drink om aan die lewe te bly, moet ons vir Christus aanneem as ons Lewende Brood en Water om ons aan die Lewe te hou. Net soos ons nie net een keer 'n week moet oefen of reg eet nie, moet ons ook nie net op een dag van die week vir Jesus vra om ons geestelike te reinig en te voed nie. Jy moet daagliks omsien na jou geestelike én fisieke lewe.

Bo alles, onthou Spreuke 31:30: "Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word."

* Die Latynse frase hiervoor is Mens sana in corpore sano en is tydens die eerste of tweede eeu na Christus deur die Romeinse digter, Juvenalis, in een van sy satiriese gedigte gebruik. Die oorspronklike Griekse frase is: ΝΟΥΣ ΥΓΙΗΣ ΕΝ ΣΩΜΑΤΙ ΥΓΙΕΙ. Vra maar vir een van jou Teologiese vriende (of jou dominee) om jou met die uitspraak te help!

fiksie: Aërobiese oefeninge is die beste manier om gewig te verloor.
feit: Aërobiese en anaërobiese oefeninge gekombineerd met 'n goeie eetplan is die beste manier om gewig te verloor.

fiksie: Om met gewigte te oefen, gee meisies groot en bonkige spiere.
feit: Meisies het lae testosteroonvlakke, die hormoon wat spiergroei beïnvloed.

fiksie: Jy kan vet op spesifieke areas van jou liggaam verloor deur slegs daardie gedeeltes te oefen.
feit: Daar is nie so iets soos spesifieke vet as dit by oefen kom nie. Jy verloor gewig regoor jou hele liggaam.


 

 

 

 

© Kruispad 2008-2010
Opgedateer 01 September 2010