Cum Boeke

>>Artikels<<

Artikel: Tieklysie: Wat elke meisie nodig het
Skrywer: Tim Theron
Uitgawe: 9

Tieklysie: Wat elke meisie nodig het

Ons word geleer dat vroue gemaak is omdat arme Adam bloot te eensaam sonder haar sou wees. Dis waar, maar ek dink sy het 'n baie groter doel – sy herinner van haar skepping af elke Adam wat nog ooit sy voete op hierdie aarde gesit het, aan hoe awesome die Here is.

Sy is die Here se een groot herinnering aan ons ouens – wat altyd alles kan uitsorteer, en wetenskaplik en logies kan verduidelik – dat ons Hom nodig het. Want ons kan dalk 'n man maan toe stuur, maar vir haar, die Eva in ons lewe, sal ons nooit verstaan nie. Hierdie artikel was eers veronderstel om uit 'n man se oogpunt te sê wat elke goeie meisie moet hê. Maar miskien moet ons eerder die fokus verskuif van wat sy nodig het, na wie en wat die Bybel in Spreuke 31 sê sy reeds is:

'n Goeie vrou is meer werd as edelstene …
In sommige kulture gaan dit nie net daaroor om die meisie te kry nie. O nee, meneer. Jy kyk nie eers van ver af na haar totdat jy so paar honderd kamele of beeste het om vir haar pa te gee nie. Dit impliseer dat hy een van sy waardevolste "besittings" vir jou gee. Dink daaraan as jy dalk volgende keer net weer lus is vir 'n vry …

Haar lewe lank bring sy vir hom net voordeel. Sy is nooit 'n oorlas nie …
Moenie dink hierdie beteken 'n meisie maak die lewe vir jou makliker nie. 'n Verhouding is baie dinge, maar dis nie maklik nie. Dit beteken wel dat sy jou lewe beter maak. As jy gedink het dis lekker om saam met die ouens rugby te kyk, of Playstation te speel, wag tot die regte meisie net een keer vir jou kyk op die manier wat net sy kan. Op daardie oomblik is jou lewe nie net beter nie, dis perfek.

Almal in die poort ken haar man. Hy dien op die raad van die leiers van die land …
Ok, ok, die regte meisie gaan jou ook in ander se oë baie cooler laat lyk.

Skoonheid is soms misleidend. 'n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie. 'n Vrou wat ontsag het vir die Here verdien om geprys te word …
Niemand sê jou girl moet lelik wees, of dat dit verkeerd is om van mooi meisies te hou nie. Die Here sê wel hier dat daar niks mooier is as 'n meisie wat vir Hom lief is nie. En dat dit 'n skoonheid is wat vir ewig hou, selfs wanneer die plooie meer word, en die lyfie 'n bietjie sagter. 'n Goeie meisie is dalk nou mooi van buite, maar haar hart sal vir altyd mooi bly.
Hierdie was net 'n paar gedeeltes uit Spreuke 31, maar volgende keer as jy van 'n meisie hou – voor jy selfs met haar praat – gaan lees bietjie wat nog daar staan. Besluit dan of sy al daaraan voldoen, en nog belangriker, of jy al so 'n meisie verdien.


 

 

 

 

© Kruispad 2008-2010
Opgedateer 01 September 2010