|
|
| |
>>Artikels<<
|
|||||
![]() |
Artikel:
Getuienis: My Damaskusreis Skrywer: Pieter Venter Uitgawe: 10 |
![]()
My Damaskusreis My naam is Pieter. Ek wil graag met julle deel hoe ek die Here se genade beleef het! Dit is al meer as 'n jaar en 'n half sedert my eie "reis na Damaskus". In die vyf jaar voor my Damaskusreis het ek gereeld hoofpyn gehad. In die laaste jaar, 2006, het die hoofpyne meer intens geword en meer gereeld voorgekom. My oë het sensitief geword vir skerp lig, my koördinasie het agteruitgegaan en ek het van tyd tot tyd koue rillings gekry. Geestelik was ek ook nie gesond nie: ek het ver van God af gevoel. Dit het gevoel asof my verhouding met die Here bly agteruitgaan, ek het geweet wie Hy is, maar ek het Hom nie meer geken nie. Aan die begin van 2007 het ek besluit om self te begin soek na die oorsaak van my hoofpyne. Ek het bloedtoetse laat doen en die oogkundige en mediese dokter besoek. Maar dit het niks opgelewer nie. My kollegas vertel dat ek die week voordat my Damaskusreis begin het, gekla het van hoofpyn en min slaap. Ek het deurmekaar, moeg en uitgeput gevoel … verlore, moedeloos, ongemotiveerd, onseker oor die rigting waarin ek moes beweeg by die werk en in my persoonlike lewe. Maandagaand, 21 Mei 2007, is ek Bybelstudie toe. Na die tyd het ons, soos altyd, afgesluit met gebed. Dié aand het elkeen geleentheid gekry om te bid. Toe dit my beurt was, het ek vir die Here gesê: "Ek weet ek is siek, daar is iets fout. Wys my asseblief wát of wáár dit is! My verhouding met U is nie reg nie – dit is troebel. Ek kan U nie sien nie. Ek voel soos 'n kind wat in die hoek sit en nie goed genoeg is om u kind te wees nie. Ek vra dat U die verhouding sal herstel, EK het SELF probeer en dit kom tot niks. Ek is moedeloos. Here, ek gee oor, in u hande gee ek my lewe, help my!" I SURRENDER. Ons het koffie gedrink en daarna is ek huis toe. Dit is die laaste wat ek kan onthou … Dinsdagoggend, 22 Mei 2007, het ek nie by die werk opgedaag nie. Teen middagete het my kollegas na my kom soek. Chrisna het my deur my kamervenster op die bed sien lê. Sy het na my geroep, maar ek het nie gereageer nie. Ek is met die ambulans Medi-Clinic toe geneem. Dáár is 'n CT-scan gedoen en daarna is ek dadelik Klerksdorp toe geneem. Die scan het gewys dat daar 'n gewas op my brein is. Ek het waarskynlik daardie Maandagaand 'n epileptiese aanval gehad – op my bed. Nie in my motor nie, nie terwyl ek gebad het nie. Op my bed. Daar moes geopereer word en ek is in ICU opgeneem. Ook hiervan kan ek net vae stukkies onthou … Donderdagmiddag het ek 'n agt uur lange operasie ondergaan waartydens die gewas (net kleiner as 'n tennisbal) aan die linkerkant van my kop verwyder is. Niekwaadaardig. Alhoewel dit 'n moeilike operasie was, het dit goed afgeloop en die chirurg was tevrede. Vrydag teen middagete het ek begin wakker word. My ouers was op daardie stadium nog baie bekommerd, want hulle het nog nie geweet of ek kan praat en of ek verstandelik nog normaal was nie! Tydens elke besoektyd was hulle langs my bed. Teen Saterdag was ek nog baie deurmekaar en terneergedruk en het nog nie regtig begryp wat gebeur het nie. Ek het gesukkel om te praat. Terwyl hulle gewag het, het my ma op 'n stukkie papier vir my iets geskryf. Met besoektyd het sy dit vir my gegee om te lees. Op daardie stadium was my sig dubbeld en skeefgetrek, so toe hou sy die een kant van die papiertjie vas en ek die ander. Ek lees dit toe, sukkel sukkel, hardop: "Ek is hier sê die Here. Jy kan my nie sien nie. Tog is Ek die lig waarby jy sien. Jy kan My nie hoor nie, tog spreek Ek deur jou stem. Jy kan nie My voel nie, tog is Ek die krag in jou hande. Ek is besig om te lei, al verstaan jy nie my weë nie. Net in stilte is Ek by jou vir Altyd! Vasbyt Pieter!" Ek kon God se teenwoordigheid voel en hoe daar iets binne my gebeur! Nadat my ouers weg is, het ek die suster, Tanya, gevra om my eie selfoonnommer te bel – my ouers het my foon by hulle gehad. Hulle het almal op hoogte gehou: "Naand almal, ons het vandag 'n baie moeilike dag saam met Pieter beleef, maar 8 uur vanaand het dit dramaties verbeter. Hy praat aanmekaar en begin onthou. Ons selfs gebel en nag gesê! Ons prys die Here. Fanie & Lorraine." Daarna het dit elke dag 'n klein bietjie beter gegaan. Vrydag, 'n week na die operasie, is ek ontslaan. My ouers het my kom haal, sodat ek by hulle op Standerton kon gaan herstel. Op pad Standerton toe hoor ek hoe God met my praat: "Pieter, Ek het vir jou werk." Saterdagaand bly ek wakker en weer kon ek voel hoe die Here besig is om my gesond te maak! Sondagmôre toe ek opstaan, voel ek vir die eerste keer regtig "wakker"! Toe eers het ek rêrig besef wat gebeur het, wat bésig was om te gebeur en wat kón gebeur het! My ouers se omstandighede was só dat hulle my dag en nag kon oppas en versorg. God het húlle huis gekies vir óns genesing en hier het Hy vir my weer 'n ma gegee (my eie ma, Gertjie, is in 2002 oorlede) en vir ma Lorraine weer 'n seun! (Haar seun, Lukas, is 'n maand voor my operasie na 'n motorfietsongeluk oorlede.) Elke dag het dit beter gegaan en deur my ouers het God begin om my ook gééstelik te genees! Ek het geleer om ook só te begin dink en leef: een dag op 'n slag. 'n Week later ontmoet ek vir Marina by die bank: "Hier is mý merk," sê sy. "Getuienis van God se liefde en genade." Sy het dieselfde operasie tien jaar gelede ondergaan. Nog voor ek kon begin bekommerd raak, bevestig God sy liefde vir my en verseker Hy my dat ek sal herstel! Hý het my daardie Maandagaand deur sy Gees gelei om te vra wat ek nodig gehad het. En dit is vir my gegee, uit genade en liefde, sonder verdienste! Hy het my geestelike "gewas" verwyder. Die Vader het my geleer om my lewe elke dag in sy hande oor te gee en gehoorsaam te wees – só gee Hy vir my vrede! Hy is die Christus, die Seun van die lewende God – my Verlosser! |
![]()
© Kruispad 2008-2010
Opgedateer 01 September 2010