|
|
| |
>>Artikels<<
|
|||||
![]() |
Artikel:
My rol as Profeet, Priester en Koning ... Wat vat dit om 'n man van God te wees? Skrywer: Adriaan van Wyk Uitgawe: 10 |
![]()
My rol as Profeet, Priester en Koning ... Wat vat dit om 'n man van God te wees? EWE skielik tref die woorde van 'n etiket in 'n winkel my eendag terwyl ek rustig stap: Three in one cleaner. Die produk se funksies is: It Cleans, Shines and Protects. Ek het nooit 'n eienaardige belangstelling in skoonmaakmiddels getoon nie, maar hierdie keer was dit anders … Die vraag is of die duurder produkte regtig al die funksies verrig waarvoor dit gemaak is. Ek gaan cut to the chase. 'n Man het drie groot rolle om te vervul. Die van profeet, priester en koning. Daar word baie gesê dat profete net "in die Bybelse tyd" rondgehardloop en geprofeteer het. Snert. Jesus is die Profeet van alle profete, die volmaakte beeld waarna ons moet streef! Jy moet vandag nog profeteer. Die mense het bely en bevestig dat Jesus die Een is wat moes kom as Profeet in die Bybel (Johannes 6:14). So wat is 'n profeet? Die Woord vertel dat 'n profeet iemand is wat verhelder, geïnspireer en gelei is deur die Heilige Gees om komende gebeure vir sy Koninkryk aan te kondig en lewe te spreek. Dus, spreek lewe waar ook al jy gaan en profeteer dit wat God aan jou as man openbaar. Laat jou lig skyn en profeteer! Die tweede rol is dié van priester. Die Ou Testamentiese priesterskap was slegs die voorreg van die vaders van families, prinse en konings. Net hulle kon self vir God offers bring. Ons merk in die Nuwe Testamentiese tye dat 'n priester enigiemand is wat deur God geroep is en so te sê eenkant gesit is om die Evangelie aan mense te verkondig. Ons het verskeie name vir die term begin gebruik: dominee, predikant, pastoor, geestelike leier, pous, minister, ensovoorts. Dit is maar net verskillende name vir een ding: priesterskap. Die waarheid is dat 'n priester nie voltyds hoef te preek nie. Waar jy ook al heen gaan, moet mense kan sien jy is 'n priester deur jou optrede en die woorde wat jou lewensfontein verlaat. Weereens het Jesus vir ons kom wys hoe om die verantwoordelikheid te dra. Hy is die toonbeeld van 'n priester! Die Priester van alle priesters! Soos daar geskrywe staan: "Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek," (Hebreërs 6:20). Die wonderlike feit is dat dit al geprofeteer is in die Psalms waar God gesê het dat Hy 'n eed afgelê het en dat Hy dit nie sal herroep nie: "Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek," (Psalm 110:4). Ek vra jou dus om dit wat die vyand vuil kom maak het, skoon te maak deur die leuen te beveg met die waarheid wat aan jou toevertrou is as 'n priester van God. Die laaste rol is die belangrikste en is dié van koning. Die woord "koning" kom 2 435 keer in die Afrikaanse Bybel voor! Ek glo God lê nogal klem daarop. Jesus bevestig dit weereens as toonbeeld dat Hy as Koning heers soos Hy sê in Johannes 18:37. 'n Koning heers, regeer en sy woorde dra gewig. So moet jou woorde as 'n man ook gewig dra. 'n Koning beskerm sy koninkryk bo alles en net soos Jesus moet jy dit beskerm wat Hy aan jou toevertrou. So wat het 'n regte man nodig? Soos die etiket van die produk moet jy as man 'n "drie in een" wees: om skoon te maak soos 'n priester, om blink te maak soos 'n profeet en om te beskerm soos 'n koning. Jy het al drie reeds in Christus Jesus. Gryp dit vas met beide jou geesteshande en word die man wat God nog altyd wou gehad het jy moet wees! |
![]()
© Kruispad 2008-2010
Opgedateer 01 September 2010