Etiek met Suzan Venter
MAAK 'N SLAAI
Benodighede:
Slaaiblare (slaaikop of klaargewasde slaaiblare in 'n sakkie), tamatie (groot of cocktail-tamaties), komkommer, fetakaas, olywe (opsioneel), avokado (opsioneel), geel-/groen-/rooi pepper (opsioneel, maar 'n goeie idee vir ekstra punte!), sout en peper.
1: Haal die boonste laag van die slaaikop af en gooi weg – gebruik net die vars blare. Spoel die slaaiblare, tamatie, komkommer en pepper goed onder lopende water af.
2: Breek slaaiblare in eetbare stukkies. (Ons weet ouens kan 'n hele slaaikop op 'n slag in hul mond kry, maar breek dit in kleiner stukkies vir die ander gaste se ontwil!)
3: Sny tamaties in blokkies (cocktail-tamaties hoef jy nie te sny nie).
4: Sny die komkommer in skyfies, as dit nog te groot is, kan jy die skyfies in die helfte sny.
5: Sny die fetakaas ook in blokkies (nie te klein nie anders is dit net krummels).
6: Sny die pepper in lang dun repies.
7: Sit nou slaaiblare onder in 'n mooi, groot glasbak, en versprei die res van die bestanddele mooi eweredig bo-op. Eers tamatie, komkommer, dan avokado, feta, olywe en pepper, gooi sout en peper oor.
8: Gooi al die skille en vuilgoed weg, vee die kas af en bêre die kos wat oorgebly het in die yskas.
Ns: Om te voorkom dat die avokado bruin word, sit die avokado-pit bo-op die slaai. (Haal dit asseblief net uit voor jy die slaai voorsit!)

HOE OM 'N TAFEL TE DEK
Benodighede:
Tafel, tafeldoek, bord, kleinbordjie, mes, vurk, lepel, bottermes (dié mes is so klein bietjie kleiner as 'n gewone mes), glas/wynglas (onthou 'n rooiwynglas is bietjie groter as 'n witwynglas), servet, sout en peper. (Die bord, kleinbordjie, mes, vurk, lepel, bottermes, glas/wynglas en servet word gemaal met die aantal persone wat saam gaan eet.)
1: Sorg dat die tafeldoek skoon is. (Óf sorg dat die kol toegemaak kan word met die bord!)
2: Plaas die borde op die tafel waar jy en jou gas/gaste wil aansit.
3: Plaas die mes aan die regterkant, die vurk aan die linkerkant (trouringhand) en die lepel bokant die bord (die lepel se steeltjie moet na regs – mes se kant toe – wys).
4: Plaas die kleinbordjie links van die bord.
5: Plaas die glas/wynglas bokant mes.
6: Die servet kan op die kleinbordjie of in die glas/wynglas geplaas word. (Ons vou nie meer waaiers, swane of lelies, nie. Dis só laasjaar!)
7: Die bottermes kan langs die mes of in die kleinbordjie bo-op die servet geplaas word.
8: Plaas die sout en peper in die middel van die tafel. En onthou om matjies vir warm kosse in die middel van die tafel te sit, sodat jou tafel en tafeldoek nie brand nie.
BON APPETIT!
Tip: Steek 'n ou kersie aan, laat lekker rustige musiek in die agtergrond speel en … geniet jou braaivleisie (#9) en jou slaai!
|