|
|
Boeke


|
Geloof in Aksie-Bybel
Jan van der Watt, Stephan Joubert en Johan Smith
Christelike Uitgewersmaatskappy
|

Jy lees gou 'n stukkie, jou oë wil-wil toeval, dis immers al na 23:00 en die boek Kronieke pas nie lekker in jou verwysingsraamwerk nie (dis tog net geskiedenis). Nou nog net 'n vinnige gebed, kop op die kussing, en droomland toe! Die volgende oggend kan jy nie mooi onthou wat jy gelees het nie, wat nog te sê toepas op jou lewe! Klink dit bekend?
Die Geloof in Aksie-Bybel fokus op geloof wat oorgaan in aksie. Wat kan ek byvoorbeeld uit Manasse se lewe leer? Hoe pas ek dit toe op my eie lewe? Hoe deel ek dit met iemand anders? Die bestaande teks kom uit Die Boodskap, 'n baie vry vertaling van die Bybel. Voor elke Bybelboek is daar 'n inleiding met die hoofdele van die boek. Hiermee saam het die skrywers temas geïdentifiseer en dit in drie kategorieë ingedeel:
- Om te glo: Beskrywings van die dinge wat gelowiges moet weet oor God, hul-self en ander mense. Dit bespreek geloofsake.
- Om te gehoorsaam: Wat is God se wil en hoe moet ek vir Hom leef? Hoe deel ek dit met ander?
- Om te volg: Kort karaktersketse oor meer as 'n 100 mense in die Bybel – hier leer jy oor hulle lewenskeuses, mislukkings en oorwinnings.
Bogenoemde temas word regdeur die Geloof in Aksie-Bybel as inligtingblokkies weergegee. Daar is ook ander interessante afdelings soos Deel jou geloof, Waarom kan ons die Bybel glo? en Simbole in die Bybel. Dit beslaan egter slegs ses bladsye en kon myns insiens meer uitgebrei geword het. Veral die hoofstuk Waarom kan ons die Bybel glo? is baie aktueel en sou gebaat het met 'n meer volledige beskrywing.
Gaan kyk gerus na 'n kort onderhoud van Johan Smith met Victor Matfield oor hierdie Bybel. Dit is op Youtube beskikbaar by die volgende skakel: http://www.youtube.com/watch?v=v0hb2BbzDeM. |

|
|