Cum Boeke

Boeke

Manne wat bemoedig - Priester
Francine Rivers
Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

Elke persoon het seker al op een of ander stadium gewonder wat God se plan vir jou lewe is. Hoekom gebeur sekere dinge in die lewe met jou, goed en sleg? Mense sê dikwels dis die kaarte wat vir jou uitgedeel word, en dit impliseer jy moet die spel van die wêreld speel, waarmee ons as gelowiges natuurlik nie saamstem nie. God beskik dat sekere gebeure oor ons pad kom, en elkeen van hierdie gebeure het 'n doel, wat ons dikwels eers jare later besef (of miskien nie eers in ons leeftyd nie). Dit is hierdie doel waarmee Aäron worstel, en met hierdie worsteling kan ons ook in ons leeftyd assosieer.

Wat weet ons van Aäron? Hy was Moses se broer en die eerste hoëpriester van Israel. Hy was ook die middelkind – tussen 'n ouer suster (Mirjam) wat braaf genoeg was om die Farao se dogter te nader om haar ma as vroedvrou aan te beveel, en 'n jonger broer wat van die begin af as spesiaal beskou is (Moses se ma Jogebed het van die begin af geweet Moses sal die volk se bevryder wees). 'n Mens dink nie altyd so daaraan nie, maar Aäron het Moses vir amper 80 jaar nie geken nie – Moses was die eerste 40 jaar van sy lewe deel van die Farao se huishouding, en die volgende 40 jaar het hy by die Midianiete in die woestyn gebly.

Op 80-jarige ouderdom het God vir Moses geroep om die volk Israel te verlos, en Aäron was toe reeds 83 jaar oud. Kon hy Moses verstaan en vertrou? Hy het hom dan skaars geken. Hoe moeilik moes dit nie vir 'n man van 83 wees om sy "vreemdeling-broer" teen die volk te beskerm nie? (Die volk het hulle gereeld teen Moses verset). En mens kan jouself net indink dat hy ook by God gewonder het (en moontlik getwyfel het) hoe Hy hierdie twee ou manne kan gebruik om die volk uit die mag van die Egiptenare te verlos.

Maar Aäron is diep gelowig en vertou dat die Here hom geroep het om Moses te ondersteun en sy segsman te wees. Hy begin goed met sy taak as medeleier en Moses se regterhand, maar struikel langs die pad, byvoorbeeld waar hy die Israeliete toelaat om 'n goue kalf te maak en te aanbid toe Moses die Here op die berg Sinaï gaan ontmoet het. Hieruit kan 'n mens aflei dat hy ten alle koste vrede probeer bewaar en die volk wou gee waarvoor hulle vra, 'n people pleaser. Die kontras tussen die goed bedoelde doelwitte van sy hart en die mislukkings van sy vlees maak dat ook ons met sy lewe kan assosieer.

Hierdie is die eerste karakter in die reeks Manne wat bemoedig wat in die skadu van ander die ewigheid verander het. Dit bied 'n baie deernisvolle en interessante blik op wie Aäron kon gewees het, en word beslis aanbeveel vir enigiemand wat net 'n goeie storie wil lees, tot iemand wat hierdie karakter in diepte wil bestudeer.

Gaan besoek gerus www.francinerivers.com vir interessante inligting oor die skrywer, Francine Rivers, se lewe en haar boeke.

 

 

 

 

 

 

 


 

 

 

 

© Kruispad 2008-2010
Opgedateer 01 September 2010