Cum Boeke

>> Fliekresensies <<

Faith Like Potatoes
Uitgewer: Global Creative Studios, 2006
Regisseur:Regardt van den Berg
Akteurs: Frank Rautenbach, Jeanne Neilson
Genre: Drama
Tyd: 97 minute

.

WOW! Wat ’n wonderlike inisiatief van ’n groep Christen-rolprentmakers. Faith like potatoes is die eerste van ’n hele paar inspirerende rolprente deur die produksiemaatskappy Global Creative Studios. Hulle volgende rolprent waarna ons kan uitsien, is The Hansie Cronjé Story, wat baie binnekort in ons bioskope vertoon gaan word.

Faith like potatoes vertel die verhaal van Angus Buchan, 'n boer van Skotse herkoms, wat uit Zambië na Suid-Afrika immigreer met die hoop om 'n bestaan te maak in Kwa-Zulu Natal.

Dit beeld op 'n baie realistiese en aangrypende manier uit hoe geloof in God die Buchan-gesin help om staande te bly te midde van armoede, swaarkry, natuurrampe en politieke twis.

Daar word baie verskillende relevante temas aangespreek, maar een tema wat sentraal staan, is geloof. En aangesien hierdie rolprent 'n ware lewensverhaal vertel, laat dit mens, nadat jy dit gekyk het, baie nadink oor die sterkte van jou eie geloof, en in hoe mate jy jou vertroue in God stel.

Doen jouself 'n guns en gaan kyk Faith like potatoes. Eerstens is dit 'n eg Suid-Afrikaanse rolprent wat ons alreeds 'n goeie rede gee om dit te ondersteun. Tweedens is dit egter ook 'n uiters verrykende, Christelike rolprent wat jou na die tyd goed laat nadink. Anders as met Amerikaanse of ander internasionale films wat in ons bioskope verskyn, kan ek en jy elkeen met die karakters in hierdie rolprent identifiseer, want hulle bly waar ons bly (in Suid-Afrika) en beleef alles wat ek en jy elke dag beleef en mee te doen kry (byvoorbeeld rassisme, geweld, armoede en droogtes).

Geluk aan Regardt van den Berg en sy span met die rolprent. Ons almal hier by Kruispad bid hulle seën toe met die volgende projekte wat hulle gaan aanpak.

- Adri Breed

.

 

 

 

 

 

 


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 03 Augustus 2009