Cum Boeke

>> Fliekresensies <<

.

Artikel: Harry Potter: Onskuldig of Okkulties?
Skrywer: Adri Breed
Uitgawe: 3

.

Harry Potter: Onskuldig of Okkulties?

Op 11 Julie 2008 is die nuwe Harry Potter-film (Harry Potter and the Order of the Phoenix) vrygestel, en twee weke later het die laaste boek in hierdie reeks (Harry Potter and the Deathly Hallows) op boekwinkels se rakke verskyn.

Persoonlik het ek sover al die films gaan kyk, en ek was nog altyd pro Harry Potter. Nadat ek egter die laaste twee films gekyk het (The Prisoner of Azkaban en The Goblet of Fire), het ek skielik nie meer so luidkeels hierdie nuwe fantasie-reeks verdedig nie. En nou moet ek, soos jy ook, besluit – gaan ek die nuwe Harry Potter-film kyk, of gaan ek liewers ver daarvan af wegbly?

Kyk, kom ons wees eerlik: Harry Potter is nie Liewe Heksie nie, en Lord Voldemort is nie Kerrie of Borrie (die geel Gifappeltjies) nie ... Liewe Heksie was ’n onskadelike, suiwer fiktiewe fantasieverhaal. Maar die wêreld en ervarings van Harry Potter stem nie net ooreen nie, maar is gebaseer op ware en egte toordery, heksery, afgodery, Satanisme en die okkulte.

Soek jy bewyse? Daar is baie! Jy is welkom om jou eie Google-soektog te doen. Tik net “Harry Potter” saam met sleutelwoorde soos “Christian”, “occult”, “satanism” en “symbols” in.

Ek het self ’n soektog gedoen, en alhoewel ek baie moes sif aan die inligting, het ek tog ’n paar duidelike waarskuwings gekry. Die mees opvallende kenmerkte van die okkulte en afgodery in die Harry Potter-verhale was onder andere die volgende:

Die weerligstraal op die voorkop:
Op Harry se voorkop is ’n litteken in die vorm van ’n weerligstraal. Die weerligstraal is ’n bekende Sataniese simbool (dit simboliseer Satan se val uit die hemel – vgl. Luk. 10:18). Hierdie simbool is onder andere deur die stigter van Die Kerk van Satan, Anton Szandor Lavey1, gebruik. In Openbaring leer ons dat God se kinders Hom sal aanskou, en dat sy Naam op ons voorkoppe geskryf sal wees (Op. 22:4). Die voorkop is dus ’n plek wat gereserveer is vir God se Naam. Is dit toevallig dat die merk van Satan op Harry se voorkop is? Ek weet darem nie ...

Okkultiese doktrine of beginsels verkondig in Harry Potter2:
’n Mens kan sonder ’n siel bestaan (Prisoner af Azkaban, bl. 247); Reïnkarnasie en nekromansie (Prisoner af Azkaban, bl. 427-428); Disrespek of verontagsaming van gesag (in byna al die boeke verontagsaam Harry en sy vriende direkte bevele van hul onderwysers of voogde); Onduidelike skeiding tussen die bose en goeie (The Sorcerer’s Stone (VSA) - The Philosopher’s Stone (oorspronklike VK-titel)); Mag is die enigste realiteit wat bestaan (The Sorcerer’s Stone, bl. 30). Die scary ding hier is dat die aanhaling uit die Harry Potter-boek – “Death to the weakling, wealth to the strong!”, feitlik net so uit die Sataniese Bybel3 kom; Okkultiese mag mag gebruik word om bose toordery te bestry; Fortuinvertelling (in al die boeke); Tarot-kaarte; Die uitspreek van vloeke en towerwoorde; en die aanmaak van toordrankies.

Die “Sorcerer’s Stone”:
Hierdie een was die meeste shaky van almal! Wanneer iemand blykbaar by Satanisme betrokke raak, is daar vyf fases waardeur ’n persoon moet beweeg. Dit word die “Vyf fases in die transmutasie van die Siel” genoem. Wanneer iemand die vyfde fase bereik, verwerf hy die Sorcerer’s Stone. In Satanisme beteken dit dat iemand wat die Sorcerer’s Stone verwerf het, die “siedende mag van Lucifer in sy hande het”. Uhm ... Harry Potter and the Sorcerer’s Stone?

Kontak met Bonatuurlike geeste:
Ag, daar is hoeveel spoke, geeste, demone, trolle en aard-geeste (dwerge – wat eintlik bose karakters is) in al die Harry Potter boeke; Harry sien o.a. sy ouers in ’n towerspieël (terloops, Sataniste sien spieëls as poorte waardeur hul kan reis na die bonatuurlike wêreld).

Sataniese gebruike wat op so ’n wyse uitgebeeld word, dat dit ooreenstemmend is met ware Satanisme:
Om maar net ’n paar te noem – Astrale projeksie; die uitspreek van vloeke; die gebruik van gelukstene vir beskerming; die onderskeid tussen Wit- en Swart toordery; die beginsel dat towerspreke eerder tydens ’n volmaan uitgespreek moet word; die vermoë om met slange te kan praat (dit was vir my nogal skrikwekkend toe Harry in die film begin het om met ’n slang te praat); sekere kledingstukke kan jou onsigbaar maak; die Basilisk slang (in Chamber of Secrets) wat die boosste en magtigste serpent in Satanisme is; die Spinnekop-koning (in Chamber of Secrets) wat soortgelyk blyk te wees aan die beskrywing van die demoon, Baal; en die Phoenix as simbool van herlewing na opsetlike selfmoord en ook die simbool vir die Antichris. Daar is ook vele Sataniese tekens in die films, byvoorbeeld die pentagram. Kyk net mooi, jy sal sien dat dit uitgekerf is in die houtdeure en klippilare.

Hierdie lysie is báie langer, maar jy kan dit self gaan opsoek4. Ek dink jy kry die boodskap!

Jy ken die ou gesegde: “Waar daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie ...”. Met die Harry Potter-verhale is die rook so dik, jy kan nie die vuur onder die rook sien nie. Deur Harry Potter te lees of te kyk, word jy gewoond gemaak en blootgestel aan goed wat jy as ’n goeie, getroue dienaar van Christus, nóóit onder oë sou kry nie. Jy leer goed van die okkultiese metodiek, en jy begin verstaan hoe demoniese praktyke uitgevoer word. As jy dus nou besluit of jy Harry Potter gaan kyk, vra jouself die volgende vraag af: “Gaan ek, op enige wyse ook al, vir die duiwel ’n geleentheid gee om my gewoond te maak aan en/of te onderrig in iets soos duiwelaanbidding, afgodery of toordery?” En dan kan jy vir jouself ook die volgende vra, wat dalk moontlik vir jou die gevaar kan aandui van dié tipe fiksie: “Hoekom wil Satan so graag hê ek moet vertroud en bekend wees met sy bose dade en invloed?”

- Adri Breed

1 http://www.spotlightministries.org.uk/harrypotterarticle.htm
2 Vir aanhalings uit die boeke, besoek self http://www.cuttingedge.org/news/n1377.cfm
3 Volgens die bron, bl. 34 van die Sataniese Bybel
4 http://www.cuttingedge.org/news/n1391.cfm

.


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 03 Augustus 2009