Juno handel oor 'n 16-jarige meisie en haar onbeplande swangerskap. Sy kry met die hulp van haar vriendin die perfekte aanneemouers vir haar baba en met die ondersteuning van haar ouers, maak sy dit deur die nege maande.
Juno is 'n intelligente en skreeusnaakse fliek. Ek het die karakters, die musiek en die storielyn baie geniet. Dit is 'n prettige reis wat jy saam
met Juno beleef oor die nege maande periode van haar swangerskap. Die verhaal is geskryf deur Diablo Cody wat, behalwe vir al die witty one liners, dit ook regkry om vir die karakters 'n dieper dimensie te gee sodat die kyker elke oomblik se emosies saam met hulle kan ervaar. Juno het vroeër vanjaar 'n Oscar vir Beste Draaiboek ontvang.
Ellen Page lewer 'n puik vertolking in die hoofrol as Juno. Dit sal nogal interessant wees om haar loopbaan dop te hou en te sien waarin sy volgende speel. Jennifer Garner en Jason Bateman vertolk die uptight aanneemouers, Vanessa en Mark. Vanessa ondergaan heelwat karakterontwikkeling en die keerpunt word bereik in die toneel waar sy vir Juno by die hysbak kry en die baba voel skop. Hier kom haar ware begeerte – om net 'n ma te wees – na vore. Die manier waarop Juno se ouers die swangerskap hanteer, is kostelik.
Maar alhoewel Juno 'n fun-movie is om te kyk, moet 'n mens egter besef dat dit oor 'n baie ernstige saak, naamlik tiener-swangerskappe, handel. Die effek wat voorhuwelikse seks op tieners het, word baie lig aangeraak. In Juno word hierdie swangerskap amper as 'n nege maande lange verkoue, sonder enige neweeffekte, beskou. Het Juno en Bleeker enige berou gehad oor dit wat hulle gedoen het? Nee, hulle het dit maar hanteer as iets wat hulle nader aan mekaar gebring het. 'n Mens kan in 'n mate redeneer dat Juno se karakter, en die mense rondom haar, baie gegroei het tydens hierdie nege-maande periode. Die gesin het nader aan mekaar beweeg, Bleeker en Juno het hulle liefde vir mekaar besef en Juno het liewers aanneming bo aborsie gekies.
Alhoewel die taalgebruik in Juno matig is, word daar wel gelaster. Daar word ook baie seksuele slang gebruik, wat sorg vir die 13LS ouderdomsbeperking. Verder is daar in Juno se sluitkassie 'n plakker van 'n kruis met 'n streep daardeur.
Juno is 'n intelligente fliek met lekker humor en drama, asook karakters wat jy nêrens anders sal kry nie. Die storielyn is vinnig en die musiek voel amper soos jou eie soundtrack wat op jou iPod speel. Jy kan lekker met jou vriende oor Juno gesels, die kwessie van tiener-swangerskappe aanvat en die gevolge daarvan bespreek. Dit is 'n realiteit, so praat daaroor en neem die regte besluite.
-
Dirk Kruger |