Cum Boeke

>> Fliekresensies <<

Passion of the Christ
Ouderdomsbeperking: 16 V
Uitgewer: Icon Productions
Regiseur: Mel Gibson
Akteurs: Jim Caviezel, Monica Belucci
Genre: Drama
Tyd: 121 minute

.

Goed, miskien is hierdie film al ’n bietjie oud, maar Kruispad het nog nie bestaan toe dit gewys het nie. As ons wel toe al bestaan het, sou ons verseker ’n filmbespreking daaroor geskryf het. Boonop is die DVD van The Passion of the Christ beskikbaar op die rakke van elke videowinkel, en jy wonder dalk nog steeds of jy hierdie film moet/mag/kan kyk. Kruispad gaan nie vir jou sê of jy hierdie film moet of mag kyk nie. Daar gaan ook nie regtig aandag gegee word aan die teologiese gesprekke rondom die film, óf die teologiese motivering hoekom jy dit moet (of nie mag) kyk nie. Daar is al heeltemal genoeg daaroor geskryf, en jy kan op verskeie plekke genoeg leesstof bymekaarmaak om self ’n verantwoordbare besluit te neem of jy tog op die ou end dit gaan kyk of nie. Kruispad gaan in hierdie resensie poog om jou voor te berei op die film, indien jy sou besluit om dit wel te kyk. Jy behoort na te dink oor die volgende vóór jy The Passion of the Christ kyk:

1. Onthou, ’n film soos The Passion of the Christ is nie ’n doodgewone film nie. Dit is close to home vir elke Christen. Dit gaan oor Jesus Christus, die God waarin jy glo, jou enigste Verlosser en jou Saligmaker. Berei jouself voor vir ’n uiters intense en emosionele belewing van sy laaste ure. Jy gáán ontsteld wees na die film;
2. ’n Groot hoeveelheid tonele in hierdie film is uiters eksplisiet en gewelddadig. Dit is nie bedoel vir sensitiewe kykers nie.
3. Hierdie film is ’n gerepresenteerde (m.a.w. ’n “voorgestelde”), visuele interpretasie van Skrifgedeeltes deur ’n groep filmmakers. Daar is onder andere ’n regisseur, kameraspan, akteurs en musikante aan die werk om die verhaal op die mees geloofwaardige wyse moontlik voor te stel. Deel van die aard van film is om met die kyker se kop te smokkel. Onthou voortdurend terwyl jy die film kyk, dat dit ’n voorstelling is, en nie noodwendig werklik só gebeur het nie. As jy weet jy is ’n kyker wat jouself maklik in ’n verhaal inleef, moet jy mooi dink of jy genoeg oordeelsvermoë aan die dag gaan lê om hiérdie film te kan kyk;
4. Die filmmaker het gebeure in die film geplaas wat nie in die Bybel vermeld word nie, om ’n bepaalde konteks of betekenis uit te beeld (byvoorbeeld Judas se worsteling met die Bose). Daar is dus groot gedeeltes van die film wat nie letterlik geïnterpreteer kan word nie, en simbolies behoort gesien te word;
5. Jy word groot in ’n era waar kruisiging, marteling en selfs die doodstraf iets onvoorstelbaar en vreemd is. Boonop lyk die prentjie wat jy van Antieke Israel het moontlik heeltemal anders as wat dit werklik was. Hierdie film kan vir jou ’n bietjie meer realistiese konteks skep van hoe die plek waar die Bybelse verhale afspeel, gelyk het, asook van hoe ’n ware kruisigingsvonnis gewerk het;
6. Laastens, die kruisiging van Christus is ’n verhaal wat jy al vele male, van ’n baie jong ouderdom af, gehoor het. Jy is baie bekend daarmee. Dit is moontlik dat jy die werklike wyse van die kruisiging vir jouself kon versag het. Hierdie film kan jou dus ontnugter. Maar hierdie film kan jou egter ook weereens bewus maak van watter groot opoffering Christus gemaak het om die sondige mensdom te red. Dit kan, sou jy die film met insig en verantwoordelik kyk, ’n persoonlike besef van God se liefde vir jou aan die gang sit.

- Adri Breedt

.


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 03 Augustus 2009