Son
of Man is 'n parafrase van Jesus se lewe en dood, en is
gebaseer op die verhaal wat ons in die Nuwe Testament lees.
Die verhaal word egter opgedateer en weergegee as 'n verhaal
wat afspeel in 'n brandarm plakkersbuurt in 'n fiktiewe staat,
Judea, in Suidelike Afrika.
'n
Jong vrou, Maria (Pauline Malefane), word tydens 'n burgeroorlog
deur 'n engel besoek wat aan haar vertel dat sy geboorte sal
skenk aan die Seun van God. Wanneer dié seun, Jesus (Andile
Kosi), volwasse is, begin hy om 'n nuwe geloof te preek, wat
meegevoel en vrede verkondig en terselfdertyd die korrupsie
en brutaliteit van die politieke leiers verwerp. Die film is
visueel 'n meesterwerk wat gevul is met Afrika-simbole, en meesleurende
danse en melodieë.
Albei
die hoofakteurs (Malefane en Kosi) speel hulle rolle oortuigend.
Veral die toneel waar Maria vir die diktator, Herodes, moes
vlug wat al die kinders onder twee jaar laat doodmaak het, het
my diep geraak. Alhoewel die film uitgegee word as "'n
hedendaagse, Afrika-verteenwoordiging van die Christusfiguur",
skiet die karakter en die storie ver tekort aan die kernelemente
van Christus en word die hele betekenis van die Evangelie daardeur
verander en vervlak.
Ons
het as Christene 'n plig om die verlossing deur Jesus Christus
aan die wêreld te verkondig, maak nie saak wat nie. Ons
moet onthou dat dit nie nodig is om kulture te vernietig nie,
maar dat dit aangepas moet word om volgens die Woord ooreen
te stem. Dit lyk of die regisseur van Son of Man probeer
het om die evangelie met 'n hedendaagse kultuur en omstandighede
te meng en om dit sodoende toeganklik te maak vir 'n moderne,
Afrika gehoor. Die film kon groot potensiaal hê as 'n
Evangelistiese hulpmiddel as – en dit is 'n groot AS –
die woorde uit die Evangelies (in die Bybel) gebruik was. 'n
Goeie weergawe kan baie help om Afrika te evangeliseer, maar
die regisseur het dit nie hiermee reggekry nie. Sy probeerslag
het eerder gelei tot 'n godslasterlike film vol dwaalleer en
'n verdraaiing van wie Jesus werklik is.
Son
of Man tas die goddelikheid van Jesus aan en stel Hom nie
voor as die Bevryder van sondaars nie, maar eerder as 'n menslike
bevryder van onderdruktes. Jesus is hierin 'n politieke bevryder
wat skares "vreedsaam" opstook en klem lê op
die mens se ingebore goedheid. Dit is 'n blatante leuen wat
heeltemal teenstrydig is met wat die Bybel ons leer, naamlik
die mens is van nature boos en sondig (Romeine 5:12; Heidelbergse
Kategismus, Sondag 3; Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel
15). Jesus het self gesê: "Dié wat gesond
is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.
Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie,
maar sondaars," (Markus 2:17).
In
Son of Man word Jesus doodgeskiet en dan in 'n graf
begrawe. Maria kom grawe sy lyk uit en hang sy liggaam aan 'n
kruis. Dit is NIE wat met Jesus gebeur het nie. Jesus moes juis
aan die Kruis sterf, omdat die kruisdood deur God vervloek is
(Deuteronomium 21:23). In Son of Man toi-toi Jesus
se volgelinge onder die lyk en skree voertsek vir die
militêre magte wat voor hulle staan (weereens 'n blatante
verdraaiing van die Evangelie). Verder word die engele voorgestel
as klein seuntjies wat met vere beplak is. Leuen! Lees gerus
vanaand hoe engele hulself aan Bileam se donkie (Numeri 22),
Gideon (Rigters 6), Manoag en sy vrou (Rigters 13), Daniël
(Daniël 8&9) en aan Johannes (Openbaring) openbaar
het!
Die frase, Son of Man, wat as die titel van die film
gebruik word, kom 85 keer voor in die King James-vertaling
van die Nuwe Testament. Dit is jammer dat hierdie godslasterende
weergawe van die Evangelie hierdie titel dra. Is dit miskien
om die Christenmark te bereik met gekamoefleerde dwaalleer en
dan ook die sekulêre mark omdat dit so omstrede is? Na
my mening is dit swak smaak, swak styl en blatante laster. Vermy
gerus Son of Man.
- Die resensie vir Son of Man is geskryf deur Thys
Lourens met insette van
Marco le Roux, SD de Kock, Bruwer Malan en Dirk Kruger. Met
dank aan
Humble Pie Entertainment vir die uitnodiging om Son
of Man te kon kyk.
|