|
|
| |
>>
Hulp <<
|
||||
Authentic ... eerste uitgawe jy! Hoekom kan 'n mens meestal met oortuiging sê "Twee plus twee is vier" en nie "Ek het die reg om te bestaan" nie? Dis tog altwee feite! Is dit omdat mense in jou eksterne wêreld veranderlik en onvoorspelbaar is, en omdat jy op hulle reageer? Indien jou maag draai as jy die bogenoemde "verbode" uitspraak maak, is die kanse goed dat jy nie voel jy is belangrik genoeg om jou eie opinie te lug nie en skrikkerig is om openlik te wees oor wie jy werklik is. Dit is noodsaaklik dat jy glo jy is belangrik genoeg om op te staan vir jouself en om jou waardes te eer. Ek glo jy is al tot vervelens toe geïrriteer met die woord groepsdruk, so ek gaan jou bekendstel aan die fantastiese wêreld van assertiwiteit! Ek glo jy is slim genoeg om die nodige afleidings te maak! Hier is 'n beginsel wat aandag geniet: "Ons altwee maak saak." Dit is die beginsel van assertiwiteit, die vaardigheid om jou gedagtes, gevoelens en behoeftes uit te druk terwyl jy ook die regte en gevoelens van ander in ag neem. Die basis hiervan is 'n besluit om te sien, te dink, bewus te wees en hierdie bewustheid in die wêreld in te bring (met ander woorde – jy neem deel en is nie net 'n toeskouer nie). In die proses bou jy respek en begin om jouself net so waardig soos ander te ag. Wanneer jy jouself laat geld, is jy bereid om op te staan vir jouself, om jouself met respek te behandel en te weier om jou persoonlikheid te fake, sodat ander van jou sal hou. Assertiwiteit word gekoppel aan integriteit. Jy moet dit wat jy sê, ook doen. Jy moet jouself en ander regverdig en met aanvaarding hanteer. Eer jou integriteit deur die waarheid te leef. Een van die doelwitte wanneer jy jouself laat geld, is goeie, gesonde verhoudings (gebaseer op wedersydse respek), asook duidelike kommunikasie en die doeltreffende oplos van konflik. Jy pas dit toe wanneer jy in verhoudings is – sonder om jou bestaansreg agterweë te laat, goedgesind en goedhartig is – sonder om jouself in die steek te laat, en wanneer jy leer om saam met mense te lewe en te werk – sonder om jou eie standaarde en oortuigings te verraai. Party mense is nie assertief nie want hulle wil konflik vermy, ander please, iemand manipuleer, óf hulle wil doodgewoon net inpas. Jy glo dalk dat jy 'n swak indruk by ander sal maak wanneer jy sê wat jy dink, of dat ander gegrief gaan voel teenoor jou wanneer jy jouself aanvaar en jou bestaan bevestig. Ander vrese is dat dit jaloesie kan wek wanneer jy gelukkig met jouself is, en dat as jy uitstaan, jy dalk eintlik alleen staan. Jy verwag dalk dat ander bedreig of geïrriteerd voel deur jou, maar binne hierdie situasie kan jy moontlik die verskil maak. Al hierdie veroorsaak dat jy kwaad en gefrustreerd voel. Dit voorkom dat jy jouself kan wees en kan opstaan vir dit waarin jy glo. Assertiwiteit is nie onvanpaste aggressie nie. Dit beteken nie jy moet almal in die ry omstamp en wegdruk sodat jy voor kan staan nie. Dit beteken nie dat jy jou regte mag voorhou terwyl jy blind is vir ander s'n nie. Moet dit nie verwar met sinnelose rebelsheid nie. Assertiwiteit sonder bewustheid (bewus van die situasie, mense, kommunikasie en jouself) is soos om dronk te bestuur. Dit is reg om jou gedagtes, oortuigings en gevoelens uit te druk, behalwe as jou objektiewe oordeel binne-in die situasie waarin jy jouself bevind vir jou sê dat dit nie is nie. Jy het die reg om jouself uit te druk op gepaste maniere binne die gepaste konteks. Dis goed om mense se geluk in ag te neem en hulle sover as moontlik tevrede te hou, maar dit is nie goed om daaraan verslaaf te wees en verwerping as die gevolg daarvan te vrees nie (sien Johannes 12:42-43). Ons moet met suiwer motiewe, uit liefde vir God en vir ons medemens, handel (sien 1 Korintiërs 3:13-15; Matteus 6:1-7 en Kolossense 3: 12-17). Die behoefte vir aanvaarding kan jou beroof van jou lewensroeping. Wat vir jou moet saak maak, is dat die Here jou gedrag goedkeur (sien Galasiërs 1:10 en Kolossense 3:1). Dis nie goed om "ja" te sê wanneer jy jouself verag omdat jy nie "nee" kan sê nie. Onthou, jy gaan moet rekenskap gee oor jou lewe, oor niemand anders s'n nie (sien Matteus 12:36 en 1 Petrus 4:5). "Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor?" (Lukas 9:23-25). "'n Goeie naam is meer werd as groot rykdom," (Spreuke 22:1). Koppel integriteit en 'n goeie karakter aan jou naam, en bevorder 'n nalatenskap wat hierdie wêreld 'n beter plek maak vir ons nageslag. Wees authentic ... eerste uitgawe jy! |
![]()
© Kruispad 2008
Opgedateer 20 Junie 2009