Cum Boeke

>>Kunstenaarsprofiel<<

Kunstenaar: Anzil Kulsen
Skrywer: Dirk Kruger
Uitgawe: 9

Anzil Kulsen, die skrywer van Zita, is 'n jong Suid-Afrikaanse skrywer wat almal aan die praat het.

Anzil is in Upington gebore en het op De Aar grootgeword. Later is sy na Keimoes om haar hoërskooljare daar te voltooi. Tans bly sy op Upington en
sy is "versot op die plek". Sy wou kleintyd af 'n dokter word, maar sê dat sy op skool meer tyd aan opstelle en voorgeskrewe boeke, as aan leer, spandeer het. As sy terugdink, kan sy nie dink hoekom sy 'n dokter wou word nie. "Ek gril vir bloed en het nie soveel geduld om na ander mense se kwale te luister nie." Sy het egter op laerskool al besef dat sy 'n skrywer wil word. "Skryf was nog altyd terapie vir my siel, my manier om van issues ontslae te raak."

Haar debuutroman, Zita, vertel die storie van 'n jongmeisie wat nie haar Indiër pa ken nie. Dit speel in 'n plakkerskamp af en vertel hoe sy sukkel om in te pas by haar nuwe skool en om haar eie identiteit te vind. Sy is besonder intelligent, maar dit maak nie haar lewe makliker nie. Dan ontmoet sy die boerseun Waldo, en 'n nuwe vriendskap ontwikkel waarin hulle meer van mekaar se wêrelde begin leer. Met Zita hoop Anzil dat almal die boodskap sal kry dat ons in God se oë gelyk is. "Dat Hy elkeen se gebede hoor, hoe klein of groot ... en dat Hy elkeen met 'n doel hier geplaas het, maak nie saak wat die omstandighede rondom jou geboorte was nie!"

Anzil is tans besig om aan haar tweede boek te werk. Dit gaan oor 'n matriekmeisie, uit 'n meer gegoede huis, wat in haar naïwiteit met dwelms deurmekaar raak. "Die boodskap wat ek graag met my nuwe storie wil uitdra, is dat mense soms net bid, en vergeet om te waak …" Sy wil nie meer van die nuwe boek vertel nie.

Anzil het al vir verskeie publikasies geskryf en van haar artikels het al in onder andere De Kat en Dit verskyn. Sy skryf vir die afgelope vier jaar vir Carpe Diem Media as 'n medewerker aan hulle Christelike dagboeke. In September verskyn daar 'n verjaarsdagdagboek, met 'n maand se dagstukkies daarin wat deur haar geskryf is. 'n Paar van haar gedigte is ook deur die Poetry Institute of Africa gepubliseer.

Raad wat sy vir jong aspirantskrywers kan gee, is om professionele hulp te kry. "Doen wat nodig is om jou werk die lig te laat sien. Soms is dit nodig om kritiek te aanvaar, te verwerk en dan weer te werk aan jou storie. 'n Uitgewer wat kritiek lewer, is soos 'n goeie ouer, hulle sien die potensiaal in jou raak!" Anzil is 'n Christen. Haar geloof reflekteer baie duidelik in haar verhale en sy sê dat sy nie sonder die Here leef nie. "Ek sou nie 'n woord kon skryf sonder Hom nie. My karakters is dalk nie voorbeeldig nie, maar hulle weet waar om Jesus te kry. Ek is 'n instrument in sy hande en ek het maar net 'n boodskap om uit te dra." Sy glo ook dat ons moet ophou om Christenskap te sien as "iets" wat 'n mens doen en dat dit eerder as 'n leefstyl beskou moet word. "Dis soos om fiks te wees, of om 'n couch potato te wees. Almal sien jou keuses van ver af."

Om haar passie uit te leef, is vir Anzil baie belangrik. "Doen dit net. Weet wat jy wil hê en neem die eerste tree. Dit dood 'n mens van binne as jy nie word wat jy bestem is om te wees nie. En mens weet wat jy moet wees. Dit bly aan jou knaag. En as jy dit probeer ontwyk, knaag dit dieper en verlam dit jou later heeltemal. Moet nooit uitstel om jou beste te wees nie. Wees dit nou …"

Wanneer Anzil nie werk of skryf nie, bring sy soveel tyd as moontlik saam met haar gesin deur. Sy is gelukkig getroud en het twee kinders. Hulle hou van die natuur en besoek ook graag nuwe plekke in ons land.

As sy moet kies:

Mxit of SMS
Ek verkies om te bel of om iemand te sien (outyds!)
E-pos of Slakkepos
E-pos!
Samsung of Nokia
Ag, ek worry nie. Dit moet net 'n rooi en groen
knoppie hê. (En Windows, sodat ek kan skryf op my foon.)
McDonalds of Kentucky
Kentucky (sorry Ray Croc!)
Koffie of Tee
Goeie koffie!
DVD of Fliek
Fliek!
Amerika of Engeland
Engeland
Stap of Fietsry
Fietsry
Stad of Platteland
Platteland

>>terug<<


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 30 Junie 2010