Cum Boeke

Kunstenaarsprofiel

Kunstenaar: Danie Strydom
Skrywer: Dirk Kruger
Uitgawe: 12

Danie Strydom dien as aanbiddingsleier, skrywer van nuwe, vars aanbiddingsliedere, en doen ook verwerkings van ouer liedere en Psalms. Kruispad het onlangs by hom gaan inloer om vir ons bietjie meer te vertel van Passievol – 'n musiekbedieningsgroep onder sy leiding – en hom ook gevra om ons meer te vertel oor dit wat sy passie is in die lewe.

Wat is Passievol?
Passievol is 'n bediening aan die bruid van Christus om, deur musiek as 'n manier van aanbidding, 'n instrument in God se hand te wees wat streef na uitnemendheid, en om net die heel beste vir ons Koning te gee. Ons wil 'n instrument wees wat fokus op die uitbou en opbou van sy Koninkryk. Daarom is dit vir almal, vir verlore en gebroke mense, asook vir dié wat reeds die liefde van die kruis en opstanding beleef en verstaan. Die doel is om die Evangelie deur musiek in 'n eietydse stem by die bruid van Christus uit te kry. Dit moet dan kan bruikbaar wees as 'n instrument in God se hand om sy bruid in aanbidding voor te berei vir die koms van die Bruidegom, Jesus Christus. Ons wil ook gemeentes en individue help met raad vir die ontwikkeling en beplanning van musiekbediening binne hulle gemeentes.

Hoe het jy op die idee van Passievol gekom?
Ek weet en glo dit was nie my idee nie. Dit is absoluut van God af. Hy het my deur sy Woord iets geleer van wie Jesus is en wie sy kerk moet wees. Die verhouding tussen Christus en sy kerk. Die persoonlike verhouding tussen jou en die Here, jou God.

Hoe belangrik, dink jy, is aanbiddingsmusiek in die erediens?
Dit is 'n wonderlike middel om te gebruik om God in die erediens te aanbid en te eer. Dit sal ook great wees as ons dit kan gebruik in 'n erediens, solank dit Skrifgetrou is en bly.

Is die Psalms wat ons sing vandag nog relevant in die kerk?
Ek dink nie ons kan enigsins sê die Psalms is irrelevant vir die kerk vandag nie. Ons moet ook nie enige ander lied of melodie verhewe bo die ander stel nie, maar eerder fokus op Skrifgetrouheid. Ek sê altyd as jy met 'n opregte hart en 'n passie die Here aanbid, maak die tipe lied of musiek nie meer saak nie, maar dit wat tot eer van God is en tot opbou van sy kerk is.

Wat doen jy as jy nie musiek maak nie?
Doen goedjies saam met my vrou, kuier saam met ons vriende, en doen bietjie fly-fishing.

Wat sê jy van die groot debat: Orrel vs Band?
Ek glo nie dat ons die een ten koste van die ander moet gebruik nie, maar aanvullend tot die gemeente se aanbidding tydens eredienste. Ek sal graag die orrel nog saam met die band wil gebruik.

Watter raad het jy vir die Kruispad-lesers wat betrokke wil raak by musiekbediening in hulle eie gemeentes of elders?
As jy glo die Here het vir jou 'n gawe gegee, gaan voluit daarvoor. Begin by jouself en in jou binnekamer, nooi dan later ander om saam met jou te sing en musiek te maak vir die Here. Jy sal sien hoe God dit laat groei. Onthou dit gaan nie oor ons fame of glory nie, maar net oor Hom en sy eer. Onthou 'n ware hart vir God doen wat tot opbou van die liggaam van Christus is, en partykeer moet 'n mens jou eie idees opsy plaas vir God se plan met sy Kerk.

Wat dink jy van die Gee-jaar van die GKSA wat gaan afskop in 2010? Kan Passievol daar ook 'n rol speel?
Ek dink die Gee-jaar is briljant en ek sien uit na die afskop daarvan in 2010. Dit sal 'n voorreg wees as Passievol deel kan raak of 'n rol kan speel in die opleiding van die Gee-jaar studente, veral in musiekbediening om so ook vir hierdie jongmens die geleentheid te gee om hierdie talente vir God voluit uit te leef.

Is daar 'n CD in die toekoms van Passievol?
Verskeie mense het al gevra wanneer 'n CD vrygestel word. Ander gee my weer die opdrag dat dit moet gebeur. Ek glo as dit die Here se wil en plan is met Passievol, sal dit gebeur. Passievol gaan oor die bediening van Jesus Christus deur aanbiddingsmusiek aan sy kerk.

Is daar 'n webblad wat die lesers kan besoek vir meer inligting?
Nee, daar is nog nie 'n webblad nie. Daar is wel 'n Passievol groep op Facebook en op WATU Youth Village. Maar vir enige navrae, as jy dalk meer wil gesels oor musiekbediening, raad wil vra, of betrokke wil raak by Passievol, e-pos my by dan2stry@ gmail.com of bel my by 082 448 7098.

Wat is jou inspirasie in die lewe?
Verseker die Here. Sonder Hom sou ek nie eens vandag nog geleef het nie. 2 Korintiërs 12:9: "My genade is vir jou genoeg …"

En jou passie?
Om die Here met my kitaar en my stem te aanbid.

Enige embarrassing oomblikke in jou lewe wat jy met die lesers wil deel?
Die dag toe ek my vrou ontmoet het en sy kom kyk het hoe ek saam met 'n ander band oefen. Skielik kon ek nie 'n noot hou terwyl ek sing nie … Dit is 'n duur les in musiekbediening: as jy nie op daardie oomblik dit vir die regte rede doen nie, en byvoorbeeld 'n girl wil beïndruk, kan jy nie verwag dat dit goed sal gaan nie.

Vir die pret:

iPod of ander MP3-speler?
iPod

Bungee of skydiving?
Skydiving (I believe I can fly …)

Go-carts of quads?
Quads (offroad)

Kat of hond?
Hond (My Jack Russel 'Laaitie')

Chips of wedges?
RIO Café in Potch se slap tjips

KFC of MacDonalds?
MacD's verseker

Mango of Kulula?
Kulula (nog nie Mango gevlieg nie)

Afrika of Amerika?
Jabulani Afrika

See of bosveld?
Albei

Fliek of DVD?
Fliek

Pepsi of Coke?
Coke

>>terug<<


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 30 Junie 2010