Glaskas is 'n bekende Afrikaanse band wat al regoor Suid Afrika opgetree het en gereeld die MK Top 5 met hul musiekvideo's bereik. Hulle tweede album, Engele wat skree, is in die begin van die jaar uitgereik en was 'n hit onder jeug. Ons het met Deon Meiring, die hoofsanger en kitaarspeler, oor Glaskas en die inspirasie agter Engele wat skree gaan gesels.
Waar en hoe het Glaskas ontstaan?
Dit was maar op skool. Eers het ek en 'n CSV-vriend saamgespeel. Hy was die drummer. Hy het geweet ek skryf liedjies, en ons het later 'n band begin saam met 'n ander vriend wat altyd saam met my kitaar gespeel het. Ons het maar saam geoefen en later vir Jip Rockspider 2004 ingeskryf. Dit was 'n cool geleentheid om by te begin optree. Ons het baie shifts gehad met drummers en basists, maar vandag bestaan Glaskas uit ek, Buddah Claassen (dromme & agtergrondstem) en Chris van Dyk (baskitaar & agtergrondstem).
Waar kom jy vandaan?
Ek kom van Humansdorp af. Dis so 15 km van Jeffreysbaai af, in die Oos-Kaap. Ek was daar in Nico Malan Hoërskool.
Hoe het gevoel toe julle besef dat julle 'n hit is onder die jeug?
Toe ons net begin het, was ons eerste video vir 'n ruk uit en ons het by Hoërskool Rustenburg gaan speel. Dit was die eerste keer dat ons vir heavy baie kinders gespeel het. Die saal was packed. Toe kon ek dit nie glo nie – al hierdie mense is excited om ons musiek te hoor! Dit is iets waaroor jy droom, jy sien dit nie gebeur nie. Ja, dit was die eerste keer. Ek moet sê ek was heavy gespanne en het naar gevoel, want die oomblik was net te groot. Ek was ook baie dankbaar om uit te vind, wow, die droom werk actually uit.
Julle nuwe album, Engele wat skree, wat is die inspirasie agter die album?
Ek het 'n opinie oor die dinge wat met my gebeur en dit wat ek sien in die land. Omdat ek al na Revolusie Romantiek besef het dat daar 'n following vir ons onder die jeug is, en ek is self nog 'n jongmens, wil ek graag van die issues van die jeug aanspreek, soos dat ons baie keer so apaties is dat ons voel ons is hulpeloos, dat ons niks kan doen nie, dat ons niks kan verander nie. Tog is daar soveel mense wat sal sê, maar jy is die jongmens van vandag, jy is die leier van môre. Ek voel net, dit sal cool wees om bietjie van die goed wat my pla aan te spreek . Met Engele wat skree, wil ek meer 'n vibe hê van, kom ons kyk wat fout is, wat aangaan. Kom ons spreek hierdie issues aan, maar ons wees nie aanvallend nie. Ons kyk liewer na wat ons kan doen en waar ons eie doel in hierdie hele kwessie lê.
Julle het baie sukses behaal. Was daar al oomblikke wat alles net onmoontlik gelyk het?
Ek kom van 'n klein dorpie af. As ek partykeer sit en net terugdink, sjoe, om uit dit uit te kom en nou sit ek hierso. Ek toer die land vol, en sien plekke. Dit lyk onmoontlik, maar solank dit jou passie is, kan jy dit waarskynlik bereik. Daar is 'n rede hoekom dit jou passie is. Jy moet net eerlik met jouself wees.
Wat is jou gunsteling liedjie om te perform? Ek sal sê Kleurvol, omdat ons dit nie baie doen nie. Omdat Kleurvol 'n acoustic vibe het, pas dit nie altyd by 'n show nie. Al die energetic liedjies is ook baie lekker.
Die grootste blaps wat julle in 'n show gehad het?
By 'n show op Aardklop 2008 het ek, ek weet nie hoe dit gebeur het nie, per ongeluk die mikestand van die verhoog af geskop. Dit was erg, want ek het nie 'n mikrofoon gehad om mee te sing nie. Toe staan ek net daar en speel kitaar. Die klank-ouens het nie daarvan gehou nie en dit het groot stories veroorsaak.
Enige opkomende projekte vir 2009/2010 wat jy met die fans wil deel?
Ons gaan nie noodwendig dit doen nie, maar ons hoop om binnekort 'n live DVD op te neem. Dit is nogal opwindend, want ons live shows is vir ons 'n belangrike deel van wat Glaskas is. Ons wil dit graag met die fans deel wat nie by die shows kan uitkom nie. Die res van die tyd is dit maar net optredes. Ons het altyd 'n Desembertoer langs die kus af wat heavy exciting is.
Wat hou die toekoms in vir die ouens van Glaskas?
Ons sê altyd, ons hoop ons kan musiek vat, sover as wat ons dit kan vat. Ons was nog nooit nie amazed met wat met ons gebeur nie, so ons hou daarvan om te glo dat ons hopelik nog veel meer kan bereik. Ons sal een of ander tyd 'n bietjie op van die oorsese festivals wil speel. Ek sal daarvan hou as Glaskas se musiek gevestig sal wees as musiek wat nie net aan 'n sekere tyd gebonde is nie. Dat dit musiek is wat betekenis en invloed het vir nog 'n hele ruk.
Wat sal jy sê is die grootste probleem met ons jeug vandag?
Ek dink een groot probleem is identiteit. Mense sukkel baie om hul identiteit te vind. Dit word veroorsaak deur dinge soos gebroke huisgesinne. Dit veroorsaak dat jy insecure is oor jouself en wat jy moet wees, dat jy begin opkyk na verkeerde rolmodelle en dink jy moet iets doen om in te pas. Jy moet net jouself vind. Jy moet uitvind wie jy is en jy moet daarmee gemaklik wees.
Enige boodskappe of raad wat jy vandag vir jongmense kan gee, veral vir die
Christen jongmense.
Die groot ding is om by die Here uit te kom, juis na aanleiding van wat ek nou oor identiteit gesê het. Dit is waar jy jou identiteit gaan kry, as jy na Christus gaan en jy by Hom hoor wat sy plan vir jou lewe is. Ek glo Hy het ons elkeen uniek gemaak. Ek is in 'n rock band. Ons kom in plekke waar daar ander bands speel wat nie dieselfde siening oor geloof en oor God het nie. Die ding is, waar jy ook al gaan wees, jy gaan uit in die wêreld daarbuite en almal gaan nie noodwendig saamstem met wat jy sê nie. Dit is hoekom jy na God toe moet gaan. Jy moet elke dag by Hom uitkom. Daar is klomp resepte en oulike boekies daarbuite, en jy kan kerk toe gaan en na preke luister, maar op die ou einde moet jy sorg dat jou verhouding met die Here reg is. Dit is my raad. As jy by God uitkom en jy het 'n lewende verhouding met Hom, want dit is 'n lewende God, dan is jou saak reg. Jy moet vir God soek in alles wat jy doen, want dan sal Hy jou die regte antwoorde gee.
Hoe voel jy oor die genre van Christian rock?
Dit is heavy cool om te sien dat daar ouens is wat goeie rock musiek uitbring en dat dit 'n Christelike boodskap of 'n Christelike ondertoon het. Ek dink jy moet ook baie versigtig daarmee wees, net omdat dit die label Christelik op het, is dit nienoodwendig altyd reg nie. Ek is opgewonde oor Christian rock en ek dink sulke bands het 'n groot verantwoordelikheid om getrou te bly.
Wat dink jy is nodig om uit die glaskas van jou lewe te breek?
Definitief 'n verhouding met God, want Hy gaan jou help deur jou kwessies. Wat ook al jou glaskaste is, Hy sal jou help om dit te oorkom. Vir ons is dit musiek, omdat dit ons help om hierdie goed te ontlaai. Jy gaan baie goed moet face. Face dit en verander dit.
Het jy 'n gunsteling Bybelkarakter?
Nee, ek dink nie daar is iets soos 'n gunsteling Bybelkarakter nie. Die afgelope tyd lees ek Daniël en ek is mal daaroor om na hom te kyk en te sien dat hy werklik 'n verhouding met God gehad het. Dawid is ook 'n legend. Dit is net cool om te sien hy was 'n hero en 'n leier. Hy was 'n man na God se hart en hy het ook foute gemaak.
Gunstelinge:
Mp3-player of iPod: iPod
Pizza of 'n burger: Pizza met Tabasco. (Jy moet net
pasop, daar is nagevolge!)
iTunes of Media-player: Winamp
Fender of Gibson: Fender, want dit werk vir my.
Kleur: Groen
Boek: Biografieë
Akteur: Will Farrel
Bands: Bob Dylan, Blink 182, Jimi Hendrix
Christian band: Jars of Clay