IS jy
dalk iemand wat nie regtig lief is daarvoor om te lees nie?
Met springmielies in die een hand en 'n Coke in die
ander hand is jy in jou element. Tog voel jy jy het iets meer
voedsaam nodig as 'n paar pitte wat in 'n kits in die mikrogolfoond
warm gemaak is. Iets waaraan jy kan kou. Vaste kos. Behalwe
vir al die films wat 'n Christelike grondslag het, is daar
ook 'n paar ander DVD's op die rakke wat spesiaal vir jou
bedoel is. Nee, dis nie Jamie Oliver se kookboeke nie! Dis
geestelike kos wat jy nodig het om die hand van God raak te
sien, te groei in jou geloof en te verstaan wat ons as mense
werklik in die oë van ons Skepper is.
Louis
Giglio het hierdie leemte raakgesien. Saam met sy span by
The Passion Conference en 268generation
het hy 'n paar DVD's vrygestel in 'n taal wat enigiemand kan
verstaan en wat suiwer oor God se grootheid handel. Saam met
duisende jongmense wie se lewens al deur sy boodskappe aangeraak
is, kan ek enigeen van sy reekse aanbeveel.
Hier is
'n kort bekendstelling:
Indescribable
Het jy al gewonder hoe groot die hemelruim werklik is? Giglio
is nie 'n wetenskaplike nie, maar met die hulp van NASA sit
hy dit bietjie om in woorde wat ons kan verstaan. Glo my dis
groot. Maar wat is sy rede om dit aan ons te wys? Sodat ons
klein kan voel? Nee, sodat ons weet ons is klein. Sodat ons
kan sien hoe groot die heelal is en tog hou God alles in sy
handpalm. Die groter gedagte wat Giglio by ons wil tuisbring,
is die feit dat selfs al is God onverstaanbaar groot en almagtig,
is ons wat so klein is, uiters belangrik vir Hom.
How
Great Is Our God
'n Opvolg op Indescribable. Hierdie is seker die
boodskap wat die grootheid van God die beste beskryf het.
Met sy beeld "as die aarde 'n gholfbal was" vergelyk
hy dit met vyf van die grootste sterre waarvan ons weet. Daar
is ook 'n draaipunt in sy boodskap – Giglio keer terug
na die mens en mikrobiologie. Sy boodskap is dit: God ken
ons en het ons wonderbaarlik aanmekaar geweef. En deur die
kruis hou Hy ons vir altyd bymekaar.
Alive
Weet jy hoe jy gevorm is? Hoe funksioneer jou liggaam? Hierdie
is vrae waaraan ons nie elke dag dink nie, maar tog is dit
die vrae wat lei tot 'n besef van hoe wonderlik ons wel geskape
is. Ons is wonderwerke wat elke dag plaasvind. Dit is hoe
Louis Giglio in Alive die skeppende hande van God
benader. Saam met David staan ons in verwondering oor hoe
God ons gemaak het. Maar dis nie waar dit eindig nie. Ons
liggaamlike geboorte is net die begin van 'n tydelike lewe
op aarde, maar 'n geestelike geboorte is die begin van iets
wat met niks op aarde vergelyk kan word nie.
Hope:
When life hurts most
Wanneer dit sleg gaan, voel ons so maklik dat God nie bestaan
nie. Met Hope wys Giglio dat God juis in sulke tye
die naaste aan ons is. Dat Hy die anker is wat ons hoop stewig
hou, maak nie saak waar ons is nie. En wanneer God ons in
daardie hoop herstel, is dit die grootste megafoon om sy glorie
mee te besing.
Daar is
ook 'n paar ander reekse op pad Suid- Afrika toe. Een daarvan
is History waar Giglio koppe bymekaar gesit het met die bekende
outeur en leraar, Andy Stanley. Giglio som die reeks eenvoudig
op: "History is truly His story."
Springmielies
enigiemand? Of is jy gereed vir vaste kos?