'n Kort agtergrond van jou lewe. Waar het jy grootgeword, waar was jy op skool, ensovoorts?
Ek is in Bloemfontein gebore en het my kleuterjare in Kroonstad deurgebring ('n genoegsame fondament vir 'n lewenslange Cheetah ondersteuningsbasis). My eerste skooljare was egter in Kempton Park en my hoërskooljare is deurgebring in die koel skadu's van Hoërskool Die Wilgers waar ek ook gematrikuleer het. Ek dink met dankbaarheid terug aan gelukkige kinderjare in 'n huis waarin beide my ouers die Here gedien het, soos dit vandag steeds die geval is.
Wat wou jy geword het toe jy klein was?
Ek onthou nie die standaard polisieman-brandweermanhunkering nie, maar het gedurende my hoërskooljare in mediese rigtings begin belangstelling. Na 'n fratsongeluk in 1984 is hierdie belangstelling verder geprikkel, maar na afloop van oorweging oor die praktiese implikasies van eenhandigheid in so beroep, het ek dit laat vaar. Interaksie met mense was hoog op my prioriteitslys en my regter-oupa het seker ook 'n rol gespeel in my uiteindelike beroepskeuse.
Soos ek verstaan is jy 'n prokureur. Geniet jy dit en hoe leef jy jou geloof in die werkplek uit?
Alhoewel ek 'n toegelate prokureur is, werk ek vir 'n aantal jare reeds as 'n regsadviseur in grondgebruiksregte en munisipale reg. Dit is baie interessant, aktueel en soms baie uitdagend. Ek glo dat ek verantwoordelik is om in woord en daad ook daar 'n getuie en ambassadeur vir Jesus te wees. Ek stry en worstel ook soms, maar is letterlik omring met kollegas wat ook die Here met hart en siel dien en my sodoende op my tone hou.
Is daar enige sporthoogtepunte in jou lewe?
Ek is dankbaar om van verskeie te kan vertel: Die eerste was my terugkeer – 'n wedloop 'n jaar na my elektriese fratsongeluk waar ek tydens die huissport vir die eerste keer teen sogenaamde abled bodies moes aantree in die 100 m en 200 m. Om steeds die skolespan te kon haal, was loutere genade. Tweedens was die 200 m finaal in Barcelona tydens die Paralimpiese Spele in 1992 voor 'n skare van om en by 60 000. Ek het brons gewen in 'n wedloop waarin 'n wêreldrekord, wat steeds bestaan, opgestel is. In 1999, tydens die Afrika-Spele in Johannesburg, het my beurt egter gekom om met die einste wêreldrekordhouer van Nigerië af te reken en goud te wen in die 200 m. Die feit dat ek in drie opvolgende Paralimpiese Spele kon deelneem was opsigself 'n hoogtepunt in my internasionale sportloopbaan. Die geleenthede wat hieruit voortgespruit het, soos om mense reg oor die wêreld te ontmoet en vriendskapsbande te smee, het die podium daargestel om my Christenskap uit te leef. Dit gee uiteindelik vir my sin en waarde aan hierdie opwindende seisoen in my lewe.
Is jy steeds aktief betrokke by sport?
Wel, deur die genade, het ek verlede jaar April nog kompeterend deelgeneem, maar aan die einde van die jaar het ek finaal my spykerskoene opgehang na meer as agt geseënde jare in die internasionale arena. Ek oefen vir deelname aan 'n mini-driekamp – 'n reeks wat oor 'n paar maande strek – veral fietsry en swem is wonderlike nuwe uitdagings. Ek kan nou maar eenmaal nie stilsit en slegs toekyk nie. Ek het darem vir 'n aantal jare mini sport help afrig waarin al drie my seuns (Francois (12), Niel (10) en Hanro (5)) vroeër of later deelgeneem het of steeds doen. Ek is steeds aksie-honger alhoewel die klem op die blote genot daarvan en persoonlike uitdagings val, en nie meer om onder die bestes gereken te word nie.
Wat doen jy wanneer jy nie werk nie?
Ek ontspan voluit en is soms aktief. Soms gryp ek 'n skilderdoek, kwasse en olieverf en leef my uit in natuurtonele, straattonele of karaktervolle portrette. Ander kere spring ek op 'n fiets of gaan swem in die gimnasium. Ek probeer egter sover moontlik my vrou en kinders te betrek en tyd saam te geniet soos in die swembad of op die tennisbaan. Op 'n geestelike (en baie ernstige) noot lei ek omgeegroepe en/of bemoei ek my met sending en evangeliese aktiwiteite.
Jy was onlangs saam met 'n groep oorsee. Wat het dit behels?
Ek was die leier van 'n groep wat op 'n gebedsreis wasna 'n land in Noord Afrika. Ons hoofdoel was om vir die betrokke land en sy inwoners te gaan bid (hetsy by 'n gebedsentrum in die woestyn of strategies elders in die land), asook om die plaaslike kerk te ondersteun en te bemoedig. Dit was wonderlik geseënd en lê my baie na aan die hart.
Wat is jou inspirasie en jou passie indie lewe?
My dinamiese, intieme, persoonlike en lewende verhouding met die Koning van die konings. My ganse bestaan is hierin gesetel en spruit hieruit voort. My passie is om 'n Koninkryksbouer te wees en saam met die Liggaam van Christus deel te hê aan die uitvoering van die Groot Opdrag – veral in Suid Afrika, Noord-Afrika en die Midde Ooste, hetsy deur sportbediening, gebedsbediening of blote evangelisasie.
Watter raad het jy vir Christen-jongmense vandag?
Indien jy cool wil wees, sal jy anders moet wees as die deursnee-jongmens van vandag. In plaas daarvan om saam met die hoofstroom meegesleur te word, sal jy moet opstaan en uitstaan vir dit waarin jy glo. Jy sal radikaal eg moet wees in woord en daad sonder om te compromise. Jy moet wys hoe great dit is om 'n kind van God te wees – jongmense soek dit en is bereid om dit uit te toets, en die Here beloon dit – natuurlik geskoei op die onverdunde waarheid van sy Woord. Wees passievol daaroor, maar kommunikeer dit met groot deernis en nederigheid aan onwillige luisteraars, en bou verhoudings juis met hulle.
Wat sou jy sê is 'n hoogtepunt in jou lewe?
Die dag toe ek besef het, in die begin van 1985, dat ek nie alleen deur my geloof in Christus sedert 1982 gered is nie, maar dat ek weens 'n wonderwerk van God 'n tweede kans in die lewe gekry het en eintlik dood moes gewees het. Die feit dat ek 'n elektriese fratsongeluk van 11 000 volt oorleef het op 26 Desember 1984, het my laat besef dat God 'n baie spesifieke doel en plan met my lewe het. Die amputasie van my linkerarm het nuwe wêrelde vir my laat oopgaan waarop ek andersins sou uitgemis het.
Enige gunsteling Bybelverse?
'n Verpleegster het in die Intensiewe Eenheid van die eertydse HF Verwoerd-hospitaal Psalm 16 vir my voorgelees. Veral vers 6 wat lui: "'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi." Dit het profeties waar geword in my lewe. Romeine 8:38-39 – God se belofte dat NIKS ons van sy liefde kan skei nie – het egter 'n baie spesiale plek in my hart.
Is daar enige rolmodelle wat 'n impak op jou lewe gehad het?
Op aarde sou ek sê dat my Pa onder andere 'n rolmodel was. Alhoewel baie meer teruggetrokke en saggeaard as ek, was hy vir my die voorbeeld van 'n man wat eerstens die Here, daarna sy vrou en kinders onvoorwaardelik liefhet. Christen-sportlui in die sportwêreld van die fisies gestremdes soos Krige Schabort (mede-atleet met 'n dubbele hoë-beenamputasie) het 'n groot impak op my eie deelname en sukses gehad. In die Skrif bly Paulus se geesdrif en radikale uitsprake (soos in Filippense 3:7-10) my altyd by en streef ek ook daarna om so oor die lewe te voel.
Aangesien jy 'n getroude man is, wat sou jy sê is die belangrikste elemente in 'n verhouding tussen man en vrou?
Om saam te bou op die enigste ware fondament, naamlik Jesus Christus en om sy beginsels rondom alle fasette van die verhouding uit te leef, veral die spesifieke rolle vir man en vrou. My raad is om op gereelde basis saam God te aanbid, te bid vir mekaar, openlik te kommunikeer, te bely en te vergewe, saam te werk aan die verhouding, te beplan, te droom, maar ook saam te ontspan, te geniet, te lag en sommer net goed te wees vir mekaar as geesgenote op die lewenspad. Ek en Hannelie kan na 17 jaar se getroude lewe net getuig van God se handvol vars genade en ryke seëninge vir elke dag.
Gunsteling boek
Secret Believers van Brother Andrew
Gunsteling movie
Passion of the Christ
Gunsteling akteur
Russel Crowe (veral in Gladiator)
Gunsteling musiek/kunstenaar
Michael W Smith en Louis Brittz
Gunsteling kos
Mediterreens
Gunsteling wegbreekplek
Kalahari/Namibië/Suid-Kaap
Gunsteling tydsverdryf
Skilder, fotografie en sport
Gunsteling quote
"It is not the arm that I lost that really
matters, but all the countless blessings
I have gained in this race of life."