Cum Boeke

Kunstenaarsprofiel

Kunstenaar: Retief Burger
Skrywer: Dirk Kruger & Rynhardt Pretorius
Uitgawe: 10

Retief Burger is een van ons land se voorste Christelike sangers. Hy het onlangs 'n SAMA vir Luidkeels Hersien ontvang vir die beste Afrikaanse gospel-album. Hy het al voor gehore van alle groottes opgetree en selfs onlangs 71 000 mense by Loftus vir Jesus met sy musiek bedien. Kruispad het 'n paar vrae vir dié jong man gevra om hom bietjie beter te leer ken en uit te vind wat hom inspireer.

Hoe het jy by musiekbediening betrokke geraak?
Ek het na my bekering elke tweede oggend saam met drie ander vriende aanbidding by ons skool gelei. Ek is na skool C-Kruis (nou 13th floor) toe waar ek kon leer hoe om saam met 'n band te speel. Ons het landswyd getoer om jongmense te bedien, en ek moes tydens die toer die aanbidding lei. Dit was maar 'n lang proses van foute maak en leer gewees, maar ek is so dankbaar vir elke les. Ek en Louis Brittz ken mekaar al jare lank en hy het my geïnspireer om Luidkeels op te neem waarvan hy ook uiteindelik die regisseur was.

Ons verstaan jy het Teologie op die PUK studeer. Wat het jou laat besluit om dit te doen?
Ek het vier jaar lank by C-Kruis in die uitvoerende kunste bedien en daar besef my roeping lê in voltydse bediening. Ek is Potchefstroom toe beroep om die musiekdirekteur by 'n gemeente te wees en wou dit graag met studies kombineer. Ek het geweet dis baie belangrik om teologiese opleiding te kry en het my vier jaar by die fakulteit aangepak!

Watter raad het jy vir jongmense wat betrokke wil raak by musiekbediening?
Leer hoe om in jou eie gemeente te dien. Baie jong kunstenaars wil dadelik "groot gaan". Omdat die kunste so gevaarlik is, bedoelende dat hoogmoed en kompetisie so groot versoeking is, is dit nodig om te dien. Kabels op te rol, toerusting rond te dra, in selgroepe ander mense in sang te lei, ensovoorts. Gaan leer by reeds gevestigde musiekleiers en vra vir die Here om werklik jou karakter te bou. Dalk het jy werklik 'n besonderse gawe, maar onthou your character must sustain your gift.

Waarvandaan kry jy jou inspirasie?
My binnekamer. Ek glo werklik ministry is born out of intimacy. Dít wat die Here oor 'n lang tyd in ons eie tyd saam met my deel, vloei gewoonlik uit in die vorm van 'n lied. Die tawwe tye en die goeie tye leer 'n mens so baie oor die lewe en die Here. Ek het ook baie vriende en mentors wat my aanhou inspireer en my nader aan die Here bring.

Hoe kan jongmense hulle geloof in vandag se tyd uitleef?
Ons lewe in sulke exciting tye. Dit wat die Here in ons land doen is ongekend en al is daar baie uitdagings, is dit nou die tyd om jou lewe vir iets groters te gee. Die Here daag ons uit om deel te wees van 'n groter koninkryk en realiteit as wat ons eie oë kan sien. Jy kan jou geloof uitleef in alles wat jy doen, en dan word dit aanbidding voor die Here. Die kerk, wat mense is en nie 'n gebou nie, moet
werklik 'n verskil begin maak in die krisisse van ons tyd. Armoede, vigs, politiek … Koninkryk-gefokusde leiers, wat vir meer as hulle eie gemak lewe, moet in hierdie land opgelei word. Laat toe dat die Here jou oprig vir hierdie enorme taak om ons land se toekoms te help skryf …

Almal skryf deesdae worship-songs en gee CD's uit. Waaraan meet 'n mens die kwaliteit van worship?
Sjoe, goeie vraag. Ek glo daar moet werklik goeie Woordgefundeerde, teologies korrekte lirieke in die liedjies ingeskryf word. Die rol van predikante is dus belangrik in die proses om die liedjieskrywers te begelei. Die motiewe en karakter van die skrywer sal deurslaan in die liedjie, maar uiteindelik moet ons die Here vra wat Hy dink van die worship en ons kan dit nie altyd oordeel nie. Ek weet net Jesaja 29:13 leer dat ons met ons harte meer as enigiets anders moet aanbid. Die styl van musiek, instrumentasie, ensovoorts bring nie egte worship na vore nie; net 'n hart wat in gehoorsaamheid in lied en lewe voor God die knie buig.

Enige nuwe projekte in die pyplyn?
Luidkidz, 'n CD/DVD vir laerskoolkinders tussen 9 en 12 jaar is nou op die rakke en bevat baie nuwe songs wat ek help skryf het vir die projek. Dis 'n energiebelaaide produk wat ek glo nuwe dimensies van aanbidding in kinderharte gaan laat losbreek!

Watter raad het jy vir 'n jeug-band wat 'n CD wil uitgee?
Sjoe, neem eers 'n demo op en gaan sien 'n platemaatskappy – hulle sal julle goed kan begelei. Soms is die liedjies en die sangers goed, maar die musikante is nog jonk. Hulle is dalk goed genoeg vir live optredes, maar die studio is 'n ander storie. Kry baie begeleiding, vra baie vrae en moenie blindelings in enigiets inloop nie.

Wat wou jy word toe jy klein was?
'n Veearts … tot ek besef het ek kan nie diere na die Here toe lei nie. Ha!

Waarmee hou jy jouself besig wanneer jy nie sing nie?
Ek is 'n groot gesinsman en hou daarvan om tyd saam met my vriende te spandeer. Ek speel graag gholf en doen ook driekamp. 'n Af-tydjie in die gym is ook welkom, maar as ek werklik wil wegbreek, vat ek my tentjie en gaan slaap 'n paar aande in die wildtuin.

Meer oor Retief:
Gunsteling band
Delirious

Gunsteling boek
Divine romance

i-Tunes of Windows Media Player
i-Tunes

Gunsteling movie
Gladiator

Gunsteling dorp/stad
Hermanus

Steak of Sushi
Steak!

Gunsteling Bybelkarakter
Josua

Cappuccino of Café Latte?
Cappuccino

>>terug<<


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 30 Junie 2010