Straatligkinders is vier vriende wat 'n passie vir musiek en 'n gebroke verhouding met die Here het. Hulle wil graag (jong)mense help om God se hart te leer ken.
Waar en hoe het julle ontstaan?
Die band het begin as 'n musiekstokperdjie van Hein, Bennie en Ruan. Ons het later vir Bouwer gevra om vir ons te sing. Alles het nogal vinnig gebeur en na twee jaar se harde werk funksioneer Straatligkinders nou voltyds as volwaardige band.
Die naam is bedink in 'n kreatiewe oomblik – dit gebeur gereeld met ons dat straatligte waarby ons verbyry aan- of afgaan. Vandaar dus die naam Straatligkinders.
Vertel ons bietjie van prestasies of enige interessanthede/grappige staaltjies wat al in julle groep gebeur het.
Na ons verskyning op 7de Laan het daar nogal vreemde goed begin gebeur: "Ek [Bouwer] was in Spar en 'n vreemde tannie het na my toe gestap, my 'n drukkie gegee, gesê dat sy ons op die kassie gesien het en dat sy net wil sê dat ons goeie werk doen. Ek het haar glad nie geken nie. Dit was vreemd … maar tog ook cool op 'n manier. Sy was opreg en nie freaky nie." Eenkeer met 'n optrede by 'n koshuis in Johannesburg, het Bennie en Hein só rondgespring dat die verhoog gebreek en hulle daardeur geval het. Dit was baie snaaks.
Julle het onlangs 'n nuwe CD uitgebring – vertel ons meer hieroor?
Die album, Sweef soos 'n vuishou, is onlangs vrygestel. Dit het glad nie 'n gewelddadige konnotasie nie, maar gaan daaroor om te veg en op te staan vir wat reg is, sonder om geweld te gebruik. Die sweef van 'n vuishou kan gesien word in die footage toe Nelson Mandela uit die tronk gestap het. Meestal handel die liedjies oor persoonlike gebeure en dinge waarmee mense kan relate. Ons skryf gereeld oor foute wat ons al gemaak het, om mense daardeur te help. Ruan en Bouwer skryf die lirieke en dan help almal saam aan die musiek.
Wat is julle gunsteling liedjie en waarom?
'n Liedjie getiteld Gewonde standbeeld wat handel oor Mandela se invloed op die Straatligkinders en op Suid-Afrika. Ons is groot fans van Mandela se werk, en die liedjie speel lekker live met 'n treffende reffrein.
Hoe sal julle julle musiek/styl beskryf? En wie is julle teikenmark?
Ons musiek is hard en eerlik met 'n catchy chorus! Sommige mense wat in hulle 40's is luister na Straatligkinders, maar ons grootste mark is tieners en studente.
Wat is die boodskap wat julle deur julle musiek wil uitdra?
Die boodskap aan luisteraars is om altyd eerlik en eg te wees. As mens 'n verhouding met die Here het, dink jy soms dat alles perfek moet gaan, maar daar gaan soms 'n af-dag wees waarin niks sin maak nie en dit is fine. Dit is deel van menswees. Ons gooi nie 'n Bybel in die moshpit nie en ons probeer ook nie mense bekeer nie. Ons wil net vir mense wys God is eg en dat Hy bestaan sonder dat ons judgmental of arrogant raak.
Hoe voel julle daaroor om saam met bands soos die Polisiekarre op te tree terwyl julle 'n Christelike beeld probeer uitdra?
[Bouwer]: "… my favourite vraag! As jy jouself 'n Christen noem, beteken dit dat jy in Jesus se voetspore volg. Jesus se lewe getuig van samesyn met tollenaars en moordenaars. Die houding wat Jesus teenoor hierdie mense ingeneem het, was nie hoogmoedigheid nie. Net so mag ons nie neersien op enigiemand anders nie. Ons het al goeie vriende geraak met die manne van die polisie-orkes en hulle het nét soveel vrae soos enige ander Christen … Ons moenie die fout maak en dink ons is beter as ander nie …"
Wat beplan julle in terme van toere en optredes vir die res van 2009? Is daar moontlik binnekort nóg 'n nuwe CD van julle op die rakke te sien?
Vir die res van die jaar wil ons met die nuwe album (Sweef) toer en dan hopelik 'n DVD-opname aan die einde van die jaar of vroeg in 2010 maak, in kombinasie met 'n akoestiese album. Ons koester ook 'n droom om in die Verenigde Koninkryke te gaan toer, maar sal eers heelwat moet spaar voordat dit kan realiseer.
Wat is julle toekomsvisie, en waar sien julle julself oor 10 jaar?
Ons vat dinge soos dit kom en beplan nie regtig so lank vooruit nie. Suid-Afrika is 'n baie klein land en mense raak gou verveeld. Ons dink ook dat 'n band waarskynlik nie so lank sal kan bestaan nie, maar hoop steeds dat ons oor 10 jaar nog in die musiekbedryf, iewers in die wêreld, sal besig wees.
Hoe lyk 'n tipiese dag in die lewe(ns) van Straatligkinders?
Bouwer en Bennie staan vroeg op om te gaan werk. Hein en Ruan staan so 11:00 op en sny dan die gras en kyk na hulle huis … hehe … joke! Almal werk deur die dag aan Straatligkinders. Daar is altyd 'n interview wat gedoen moet word of 'n hemp of CD wat gepos moet word. Almal het hulle dagtakies.
Gunsteling plek waar julle al opgetree het, en hoekom?
KKNK 2008 – MK Kaktus sessies! Dit was 'n eerste keer en die mense het absoluut mal gegaan tydens hulle vertoning. Dit was lekker om te besef dat ons actually fans in die Kaap (1 400 km weg) het en dat mense ons lirieke ken.
Grootste fout (blaps) wat julle al in 'n vertoning gehad het?
Tydens ons eerste Oppikoppi optrede het Ruan met 'n drumbeat begin wat almal deurmekaar gehad het. Hy het gestop en weer begin, maar almal was steeds deurmekaar en het net ingeval – dit was chaos en was ook ons slegste optrede nóg.
Hoe het die feit dat julle nou deel is van Straatligkinders, wat byna oornag populêr geword het, julle lewens beïnvloed?
Dit is vir ons vier 'n groot voorreg en verantwoordelikheid om musiek te kan maak vir 'n lewe. Ons glo nie in die hele fame-ding nie; vir Straatligkinders maak dit nie sin hoe akteurs, musikante, sportsterre en politici belangriker as onderwysers, verpleegsters, polisiemanne en dokters kan wees nie. Daarom probeer ons altyd die fame-ding downplay deur te wees wie ons is. Ons aanvaar egter steeds die verantwoordelikheid en probeer ons bes om dit met integriteit te hanteer, sonder om onsself belangriker as ander te ag.
Wat dink julle is die grootste probleem onder die jeug vandag, en hoe behoort hierdie probleem aangespreek te word?
Jeugdiges vandag ervaar 'n grootskaalse aanvaardingsprobleem en wend hulleself daarom tot drank, dwelms, seks of wat ook al, om gehoor en raakgesien te word. Alhoewel kinders heeldag connected is op Facebook of MXit, voel hulle disconnected met familie en vriende. 'n Mens se grootste behoefte is om aanvaar en liefgehê te word, as daardie behoefte nie vervul word nie, word dit elders gesoek. 'n Terugkeer na substansiële menseverhoudings is die antwoord.
Wat is julle raad aan jongmense oor die navolging van 'n droom?
Die beste drome word gedroom as jy slaap, maar dan is jy nie wakker om dit te geniet nie. Om actually wakker te wees in jou droom, verg harde werk. Daar is nie tyd vir slaap in jou droomwêreld nie; slegs harde werk gaan jou bring waar jy wil wees. Bou verhoudings met mense wat jy weet 'n rol gaan speel in die uitleef van jou droom en wees altyd oop vir kritiek.
Wat is julle boodskap aan jongmense wat 'n sukses van hulle lewens wil maak in die tyd waarin ons leef?
Wees sterk en moenie altyd glo wat mense vir jou sê nie. Vergeet van die persoon wat gesê het dat jy nooit 'n sukses van jou lewe sal maak nie. Sukses beteken nie noodwendig baie geld, mooi karre of baie meisies/ouens nie, al daardie goed is aardse dinge. Sukses lê in verhoudings met mense en jou verhouding met die Here en hoe jy dit uitleef.