Cum Boeke

Kunstenaarsprofiel

Kunstenaar: Vertikaal
Skrywer: Stefan Grobler
Uitgawe: 6

My pad het onlangs gekruis met dié van ’n besondere groep musikante wat hulle passie voluit vir God uitleef.Hulle staan bekend as Vertikaal. (Die groep sal ’n bietjie meer bekend wees aan dié van julle wat by die bekendstelling van Kruispad was.) Wat ’n beter manier is daar nie om hulle te leer ken nie, as ’n vinnige onderhoud met Zander van der Westhuizen, een van die groeplede en ’n leraar by die NG Kerk Lynnwood:

Waar en hoe het julle ontstaan?
Ons het so vier jaar terug begin saamspeel in die musiekgroep wat die lofprysing tydens die aanddienste van NG Lynnwood lei. Ons is vriende en maak saam musiek. Ons het gedroom daarvan om ’n CD te maak, sommer vir die gemeente, en uiteindelik begin om dit op te neem. Ons moes ’n naam kies vir die naamlose groep musikante wat laat aande sit en record en so het Vertikaal die lig gesien met ons eerste CD, Uit Dieptes. Sedertdien het ons wyd begin toer en optree.

Hoe sal julle julle musiek of styl beskryf?
Ons musiek is akoesties van aard. Die mees prominente instrumente is die akoestiese kitare en die klavier. Ons het al meer begin doen met ander instrumente, soos die baskitaar, elektriese kitare en dromme. Maar die klank wat natuurlik kom, is ’n akoestiese klank. Ons verwysings van musiekstyle is dié van Jars of Clay, The David Crowder Band en dan het U2 natuurlik ’n paar van ons regtige goeie songsgesteel en eerste opgeneem (hehe – ons wens!).

Enige vooruitsigte vir ’n nuwe CD?
Verseker! Ons is tans besig met opnames vir ons groot, nuwe album, Stil, wat teen Maart/April in die winkels sal wees. Ons doen ons opnames by Merchant Music. Gideon Botes en Louis Brittz vervaardig dit. Dit is ’n wonderlike voorreg om hierdie tipe ding te kan en mag doen. Julle kan uitsien na splinternuwe musiek op hierdie album. Ons kan self nie meer wag om die eindproduk te hoor nie.

Enige prestasie of iets interessant wat met die groep gebeur het?
Ons het in 2005 drie ATKV Lier-nominasies verwerf (ons het dit glad nie verwag nie). En dan is dit altyd ’n prestasie as een van ons nie iets dom op die verhoog sê nie, of betyds opdaag vir ’n vlug! Verder is dit interessant om te weet dat Leon eintlik ’n swak selfbeeld het, Jattie hou van lang, romantiese wandelings op die strand en Zander bel gereeld vir Jattie vir ritmeklasse op die klavier!

Wat is julle siening van die Woord en die verband daarvan met julle lirieke?
Ons love dit om sommer stringe Psalms in ons lirieke in te skryf. Ons gebruik soms ook beelde uit tekste uit in ons musiek. Ons hou verder van die gesprekke wat ons voer oor die teologie agter die lirieke. As ons saam sit en skryf aan ons musiek, tel elke woord se betekenis vir ons. Daarom is dit uiters belangrik om getrou aan die Bybel te skryf en te sing.

Op hulle debuutalbum, Uit Dieptes, is daar tussen al die bekender liedere ook ’n paar waar hulle hulle eie lirieke gebruik en waarin hulle hul hart op die mou dra. My opinie? Hierdie groep sal ver gaan en in die lyn van lofprysing kan ons baie by hulle leer. As ek hulle mag vergelyk, sal dit wees met ’n Apple iPod – hulle hou dit eenvoudig, maar dit wat hulle vir God doen, doen hulle uitstekend. Is dit nie eintlik wat ons almal moet doen nie?

>>terug<<


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 30 Junie 2010