By die onlangse MTN SAMA Toekennings het Vertikaal met 'n goue beeldjie in die hand vir die Beste Afrikaanse Gospel Album weggestap. Hulle album Stil is ook vanjaar met die ATKV se Liertoekenning bekroon. Ons het by Zander van der Westhuizen, tans 'n predikant by NG Lynnwood, gaan inloer om te hoor wat hy sê oor die SAMA en wat hy doen wanneer hy nie saam Vertikaal optree nie.
Vertikaal het onlangs die SAMA-toekenning vir Beste Afrikaanse Gospel Album van die jaar gekry. Het julle so iets verwag toe julle begin het met Vertikaal? Wat het deur jou gedagtes gegaan toe dit aangekondig is?
Ons het dit nie eers die aand van die toekennings verwag nie! Dit was 'n groot eer! Ons het die aand gegaan sonder om eers te oorweeg dat ons moet dink aan 'n speech! Ons het sulke sterk kompetisie gehad (onder andere die BALA BROERS, Louis Brittz en Cornel Driessen) dat ons regtig nie onsself ingestel het daarop nie. Toe die aankondiging gemaak is, die musiek speel en die goue beeldjie wag, het ons na mekaar toe gedraai en gevra: "Is dit werklik ons?". Op pad verhoog toe het ek net geloop en dink oor wat ek moet sê! Na die tyd het ons nog lank in die gange van Backstage Sun City gestaan en gewag dat dit moet insink! Dit was 'n wonderlike oomblik vir elkeen van ons. En net genade!
Jy is die enigste predikant waarvan ons weet wat 'n SAMA-toekenning het. Hoe voel jy daaroor?
Ek dink dit is belangrik om te weet dat ons 'n span is wat 'n SAMA gewen het. Ek sou nie deel gehad aan die titel as dit nie vir Jattie en Leon was nie. En ons weet al drie dat mense soos Gideon Botes, Louis Brittz en ook ander 'n groot rol in ons album gespeel het. So hierdie is regtig 'n toekenning vir die span! En dit voel great om deel te wees daarvan – predikant of nie!
Waar het jy groot geword, skool gegaan en studeer?
Ek het grootgeword in Heidelberg (Gauteng) en later verhuis na Amanzimtoti (Shark en Surfer omgewing!) waar ek matriek gekryf het. Daarna het ek dadelik kom teologie studeer aan TUKS en het uiteindelik laasjaar klaar gemaak (met een van daai ou studentenommers) met my PhD. Sedertdien is ek in Pretoria en woon in Lynnwood.
Jy is tans predikant by NG Lynnwood. Hoe handhaaf jy 'n balans tussen predikant wees en Vertikaal?
My gemeente is my werk en bediening in die eerste instansie en geniet voorkeur. Vertikaal gebeur oor my afnaweke of aftyd en soms neem ek maar verlof om dit te doen. Die ander manne in Vertikaal werk ook voltyds en moet maar op dieselfde basis by hul werksverantwoordelikhede verbykom. Dit maak dit nogals moeilik omrede baie gemeentes ons Sondagaande nooi om op te tree – en dit is net nie altyd moontlik vir my om dan te gaan nie. Musiekbediening is in elk geval deel van my gemeentekonteks en dit is wonderlik!
Daar word soms gesê dat 'n predikant nie ook in 'n band kan speel nie, want sy roeping lê by woordbediening en dat iets soos 'n band 'n mens se fokus daarvan kan aftrek. Wat is jou opinie hiervoor?
Ek dink bediening in al sy fasette is roeping. Die sleutel is om jou roeping uit te leef – 'n deel daarvan vir my is woordbediening en musiekbediening. Ek is in 'n gemeente waar dit moontlik is. Enige predikant moet sy verskillende passies en verantwoordelikhede kan uitleef in balans met sy gemeente-verantwoordelikheid. Die sleutel bly integriteit! Gemeentes moet ook leer om predikante se gawes so ver moontlik in ag te neem en in die liggaam van die Here aan te wend. Dit hang alles af van hoe ons kerk en koninkryk verstaan!
Waar kry jy jou inspirasie vandaan wanneer jy musiek en lirieke skryf?
My reis met die Here en waar ek is, is die grootste inspirasie. Vir Vertikaal skryf ons drie baie saam en dit is ook deel van my inspirasie. Ons is beste vriende en almal op dieselfde bladsy oor die tipe lirieke wat Vertikaal graag skryf. Die styl van die musiek is ook baie spesifiek – so binne die verwysing skryf ons graag. Ekself skryf my eie musiek die beste alleen by 'n nice klavier, iewers as die oomblik reg is.
Is daar 'n rolmodel in jou lewe?
Daar is verskeie. Die Here het regtig die afgelope jaar in my lewe die waarde van betekenisvolle een-tot-een verhoudings kom oopbreek. Ek dink dit is nodig om mentors en meesters in jou lewe te hê. In my lewe is daar mense soos Malan Nel, Retief Burger, Julian Müller, Stephan Joubert, Elrico van Rooyen, kollegas, Jattie en Leon, my vrou en ander wie almal op 'n manier vir my 'n rolmodel is.
Speel jy ook orrel, of net klavier?
Ons gemeente het 'n briljante orrelis – so NEE! Hy laat my skaam kry as ek net probeer!
Vertel 'n bietjie meer oor die naam Vertikaal?
Vertikaal is 'n ingesteldheid. Alhoewel ons weet die Here is eintlik binne ons, het ons steeds die verwysing na Bo! So, Vertikaal gaan oor die idee dat ons die heeltyd leef met 'n ingesteldheid om te fokus op ons verhouding met die Here en ons aanbidding van Hom.
As jy nie preek of optree nie, waarmee hou jy jouself besig?
Te veel! Ek geniet muurbal en sulke dinge. Ek kuier graag saam met vriende en familie. Ek maak musiek. Ek spandeer tyd aan grafiese ontwerp en foto's – enigiets visueel is vir my lekker! En my gunsteling ding is reis. Ek hou van nuwe plekke ontdek – veral op in Afrika! Ek is ook besig met 'n klompie projekte op nasionale vlak wat my opgewonde maak!
Gunstelinge:
Pizza of Burgers – Pizza
MP3-player of iPod – iPod (Wat 'n vraag!)
Rob Bell of John MacArthur – Rob Bell
Bosveld of See – Bosveld
Somer of Winter – Somer
Hond of Kat – Hond!
Fliek of DVD – Fliek