I'm Only A Man is Emery se derde album en volg op The Question. Emery word beskryf as 'n post-hardcore band en is een van die min groepe wat regtig vandag uitstaan met hulle styl en musiek. Liedjies wissel van rustige tot meer intense songs waar die lirieke vanuit die hart geskreeu word.
I'm Only A Man bevat op die oog af nie 'n geestelike boodskap nie, maar omtrent al die liedjies handel oor alledaagse issues wat ons elkeen ervaar. Ons is almal net mense, en dit maak nie saak hoe hard ons probeer om perfek te wees nie, ons bly sondaars. Dit is nie 'n verskoning om in sonde te lewe nie, maar dit wys dat ons 'n Verlosser broodnodig het.
The Party Song is 'n dialoog met 'n vriend wat dwelms en alkohol misbruik om te ontsnap van sy issues. Hy besef nie dat hy 'n probleem het nie en wil nie luister na raad nie. "This is my last advice, leave with me 'cause you could die tonight / I've got this, so go ahead home." After The Devil Beats His Wife gaan oor mense wat die waarheid wil hê, maar nooit die seer daarmee saam soek nie. Dit begin op 'n lekker vinnige tempo en bereik 'n hoogtepunt aan die einde, wanneer die woorde "River wash me clean" oor en oor geskreeu word. Can't Stop The Killer handel oor 'n gesinsmoord en begin waar die pa te besig is om te werk. "Your family’s a joke and your job is your life …" Die song begin rustig en bou op tot die daad.
Don't Bore us, Get To The Chorus is 'n stunning song. Dit begin rustig, gaan oor na heavy guitar en dan na elektroniese klanke. Hierdie patroon herhaal deur die liedjie. Dit is amper soos 'n emosionele reis wat jy ondergaan en dit dra uitstekend by tot die lirieke. Die laaste snit From Crib To Coffin is meer as tien minute lank en 'n goeie afsluiting vir die album. Dit is soos jou eie emosionele rollercoaster ride waarop jy gaan, daar is tye van blydskap, van woede en weer rustige tye.
I'm Only A Man is definitief 'n album wat jy 'n kans moet gun. Alhoewel almal nie van die geskreeu gaan hou nie, is dit in elk geval so min, dat jy dit later sal waardeer vir die waarde wat dit vir die songs gee. Hierdie is 'n album vol emosie, vasgevang in metaforiese lirieke, catchy tunes en wisselende stemme.
Dirk Kruger |