THE Healing of Harms is Fireflight se debuutalbum en met Dawn Richardson aan die voortou, is Fireflight definitief 'n treffergroep. Fireflight staan uit tussen die harde Christelike Rock-groepe met hulle treffende wysies, en hulle draai ook nie doekies om met hulle boodskap nie. Alhoewel Fireflight 'n girl as hoofsanger het, moet jy nie dit verwar met 'n rustige chick band nie.
Daar is genoeg elektriese kitaar en dromme om jou ouma se perm weg te skrik. Serenity is 'n dialoog tussen God en iemand wat alles self wil doen en dan later besef dat dit nie moontlik is nie. "Oh my God I've worked so hard, I've gotten nowhere." Sonder God se helpende hand is ons tot niks in staat nie. Waiting wys ook daarop dat ons moet ophou om alles self te probeer doen en op God moet wag om beheer te neem. "I search for life, finding death."
Die langste song, You Decide, is ook een van dié wat vir my uitgestaan het op die CD. Hierin lê hulle klem op keuses: "You decide, Who will you run to?" Jy moet besluit wie jy gaan volg: God of mense? Ook, wie vorm jou siening oor God, mense of God self deur sy Woord? Josh Brown, van Day of Fire, dra ook met sy kragtige stem by tot die liedjie.
It’s You is 'n rustige worship song wat Fireflight saam met Ian Eskelin geskryf het. Dit gaan oor hoe ons tot ons kennis kom, dat ons ons ware skoonheid in God kry. Star of the Show wys uit dat God se plan vir jou lewe die beste een is.
Al die liedjies op The Healing of Harms bevat 'n boodskap en Fireflight steek dit nie weg nie. Alhoewel die album meestal harde rock-klanke het, is daar snitte wat wel rustiger is. Hierdie girl en ouens is trots om Christene te wees. Hierdie is definitief 'n album wat jy kan koop.
Dirk Kruger |