RÉANA het in 2000 die ATKV Crescendokompetisie gewen en hierdie selfgetitelde album is die produk daarvan. Réana se debuutalbum is moeilik om te beskryf, maar tog ook maklik. Dit is vol rou emosies, persoonlike getuienis en donker woorde, maar tussendeur alles, is God die middelpunt van die album. Sy neem ons op 'n persoonlike reis deur haar lewe. Van hoe haar lewe verander het toe sy God leer ken het, tot waar sy alleen op 'n vreemde plek is, met God as haar enigste hoop.
Die album begin met Oopmond, 'n kragtige song wat Christene oproep om 'n lig vir die samelewing te wees. "Waarom hou jy jou mond so stil, waarom hou jy God vir jouself?"
Ryg My Lippe Toe is baie donker, maar dit is ook 'n kragtige getuienis van Réana se lewe. God moet haar eerder stilmaak, voordat sy iets sing wat vals is: "As die helder son al bleker word, en in my wil vir lewe al hoe minder word en my boodskap 'n mening kort, pleit ek Jou om my nooit weer te laat sing." Wanneer ons, as God se instrumente, nie meer sy wil doen nie, het ons nie meer 'n doel vir ons lewe nie. Ons moet elke dag verander, elke dag reformeer, om nader aan God te beweeg.
Kruis vertel van eensaamheid en om ver weg te wees van alles wat bekend is, maar die hoop is, wanneer jy die Here volg, is jy nooit alleen nie. Jy moet alles laat gaan en die Here volg. "Om afskeid te neem van al die aarde besittings, om jou kruis op te neem en Hom te volg, dis hoe jy besef dat alles 'n gejaag is na wind, ewige frustrasie van iemand wat nooit vind." In Massa Mense is die deurlopende tema dat jy sal weet wie jy is wanneer jy naby God leef en jou Bybel ken.
Daar is drie Engelse snitte op die album waarvan Arrogant my gunsteling is. Ons moet bereid wees om enigiets wat tussen ons en God is, weg te gooi, maak nie saak wat dit is nie. Ons moet ook besef dat alles van God af kom en dat alles aan Hom behoort. Ons talente moet God vereer, nie onsself nie. O ja, moenie vergeet van die versteekte bonussnit aan die einde van die CD nie. Dit gee 'n mens behoorlik hoendervleis wanneer jy daarna luister.
Réana is een van ons land se mees talentvolle vroulike kunstenaars en die sentrale boodskap in al haar liedjies is dit: God is alles en ons is niks. Haar nederige boodskap, dat sy net 'n instrument in God se hande is en dat alle eer Hom toekom, vloei soos 'n goue draad deur elke liedjie. Luister dit kliphard, maak oop jou mond en skreeu saam met haar jou getuienis uit vir die wêreld.
Dirk Kruger |