Cum Boeke

>> Musiekresensies <<

End of Silence Deluxe Edition
Red

Essential Records
2006
8/10

DIE probleem met die meeste Christelike kunstenaars van vandag is dat hulle musiek nie baie oorspronklik is nie. Baie van die bands klink óf dieselfde óf hulle na-aap een van die sekulêre groepe. Dit is egter nie geval met Red nie. Alhoewel hulle om dieselfde kampvuur sit as Linkin Park en Evanescence, is Red tog uniek. Met End of Silence, hulle eerste album, kombineer hulle klassieke instrumente soos die viool en tjello met distorted pulsende rock-klanke. Daar is aggressiewe liedjies met Michael Barnes wat die woorde uitskreeu en dan rustige liedjies met viool en klavier wat soos 'n ligte bries deur die lug waai. Die Deluxe Edition sluit ook 'n DVD met 'n Live show en video clips in.

Die album spring weg met Breathe Into Me. Dit word ingelei deur 'n viool en 'n klavier, en tel dan die tempo op met kitaar en dromme. Breathe Into Me handel oor hoe 'n mens se lewe is sonder God. "I'm falling, Falling, Breathe Into Me." Ons is nuwe mense in Christus en ons moet elke dag smag om met die Gees gevul te word, vernuwe te word. Let Go handel oor teenspoed en versoeking wat ons in die lewe ervaar. "You keep breaking me, You can't have me anymore." Al word ons moedeloos, moet ons vashou aan die hoop en die redding wat daar in Christus is. Already Over is een van die rustige songs op End of Silence. Jy moet weghardloop van die versoekings in jou lewe, en as jy daarin val, moet jy opstaan en weer aangaan. Pieces is 'n stunning song en komplementeer die aggressiewe songs met rustige klavier- en vioolklanke. "Thought I could do this on my own, I've lost so much along the way, Then I see your face." Wanneer ons die lewe alleen, sonder God, aanpak, kry ons altyd seer en val ons hard, maar in hierdie gebrokenheid maak Christus ons weer heel. Daar is ook 'n bonussnit op die album, 'n akoestiese weergawe van Lost.

Die hoogtepunt is 'n DVD wat by die album ingesluit is. Daarop is sewe songs van hulle optrede in Nashville en 'n mens kry 'n idee hoe lewendig hulle shows is. Daar is ook die music video van End Of Silence, 'n dokumentêr en Video Blogs van die band op toer.

End of Silence Deluxe Edition is 'n album wat die moeite werd is om te koop. Die musiek is van hoë gehalte en die lirieke skreeu om gehoor te word. Die DVD is 'n bonus en Red se live show sal jou laat op en af spring voor jou televisie.

Dirk Kruger

 

 

 


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 03 Augustus 2009