|
|
| |
Rubrieke
|
||||||
![]() |
Rubriek:
Blou Anna Skrywer: Anneretha Combrink Uitgawe: 12 |
![]()
Kind Potchefstroom is amper so mooi soos Vermont in die herfs. Vlammende kleure net waar jy kyk. Ek en Griet sit en drink Earl Grey-tee op die balkon van Café Fiori. Ons is elkeen besig met ons eie gedagtes. Ek kyk na die mense onder op Tomstraat se hoek. (Deesdae is dit mos Steve Biko Rylaan.) So, ek kyk na die mense op Steve Biko se hoek. Daar is studente op fietse en 'n parkeerbeampte wat heen en weer hol met sy masjientjie. Oorkant die straat stap 'n jong pa met 'n dogtertjie aan elke hand. Die jongste een is seker omtrent vier. Sy is in haar eie wêreld. Ek word skielik 'n toeskouer van 'n klein snit uit iemand se lewensverhaal, asof ek 'n toneel uit 'n film voor my sien afspeel. Die dogtertjie los haar pa se hand en kyk geïnteresseerd na 'n voëltjie wat voor haar voete rondwip. Sy sak op haar hurke en hou haar hande uit na die voëltjie. Dit lyk of sy met hom praat, hom probeer nader lok. Die pa is al 'n paar treë verder en die ouer sussie roep oor haar skouer na die kleintjie. Sy luister nie, en begin agter die voëltjie aanloop. Ek sien hoe die voëltjie van die sypaadjie af op die teerpad wip, en begin pik na krummels. Hoe die kind hom blindelings volg. Hoe die kar naderkom en … voordat ek kan skree, sien ek dat haar pa net skielik dáár is. Hy pluk haar weg uit die straat 'n breukdeel van 'n sekonde voordat die motor haar tref. Ek sien hoe die kar uitswaai – te laat, maar darem – en ek hoor die skel klank van die toeter. Die dogtertjie huil kliphard – so 'n skreeuende skrikhuil – maar die pa het haar in sy arms. Sy is veilig. Ek voel hoe my hart stadig weer begin klop (want ek is seker hy het gaan staan). Griet het niks gesien nie. Sy het net die toeter gehoor. Baie later, toe ek nog 'n koppie tee met baie suiker in afgesluk het vir die skrik, dink ek weer aan wat gebeur het. Ek dink oor die kind en oor geloof en oor die lewe. Ek besef skielik dat ek 'n prentjie gesien het, 'n spesiale stukkie van hoe God se hart vir ons lyk. Dis wat dit beteken om Sondae te sê "Ek glo in God die Vader …" Mý Vader. Want skielik word ek die dogtertjie. My hand in God s'n. Hy lei my tree vir tree. En wanneer ek besluit om sy hand te los, is dit ék wat wegdwaal, my aandag wat afgetrek word deur wippende voëltjies. Ek klim van die sypaadjie af sonder om twee keer te dink. Toe-oë stap ek na my dood. En dan is Hy dáár. Hy gryp my, red my, kom haal my waar ek is. Hou my vas as ek huil van verlatenheid en vrees. Hy troos my. Ek glo in God die Vader omdat Hy my beter ken as wat ek myself ken; omdat Hy my liefhet ten spyte van myself en omdat Hy my kom haal as ek wegdwaal. Ek glo in God, my Vader! |
![]()
© Kruispad 2008
Opgedateer 08 Oktober 2009