Cum Boeke

>> Sending <<

Artikel: Jehovah se Getuies
Skrywer: Maureen van Helden & Rineé Viljoen
Uitgawe: 10

.

Ons almal ken Jehovah se Getuies as die mense wat aan ons deure klop en graag wil gesels oor godsdiens en wat ons glo. Maar wie is hierdie mense en wat glo hulle werklik? Wel, kom ons begin by hul geskiedenis.

Die beweging beweer dat hulle die enigste ware opvolgers van die oorspronklike 1ste-eeuse Christendom is en hulle handhaaf geen betrekkinge met ander Christelike kerke en groeperings nie. Hulle beskryf hulleself as die "Christendom" en verwys na die ander Christelike kerke en sektes as die "Christenheid". Die leerstellings is hoofsaaklik gebaseer op die apokaliptiese boeke van die Bybel, veral Daniël en Openbaring.

Die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies het meer as 'n honderd jaar gelede in die VSA begin. In die vroeë 1870's het Charles Taze Russell 'n betreklike klein Bybelstudiegroep in Allegheny, Pennsilvanië begin.

Dié groep het bekend gestaan het as The International Bible Students Association (Die Internasionale Vereniging van Bybelstudente). In Julie 1879 het die eerste kopie van die tydskrif Zion's Watch Tower and Herald of Christ's Presence verskyn. Teen 1880 het hierdie enkele Bybelstudiegroep gegroei tot talle gemeentes in nabygeleë state. In 1881 is Zion's Watch Tower Tract Society gestig, en in 1884 is dit, met Russell as president, geïnkorporeer. Die Genootskap se naam is later verander na die Wagtoring-, Bybel- en Traktaatgenootskap. Baie lede het van huis tot huis getuig en Bybellektuur vir die inwoners aangebied. In 1888 het 50 mense dit voltyds gedoen – vandag is daar wêreldwyd ongeveer 7 miljoen aktiewe lede en is hulle internasionale hoofkwartier in Brooklyn (New York).

Wat glo Jehovah se getuies? (Vergelyk hierdie tabel met die tabel in #8 oor dit wat ons glo):
(Bronne: www.beliefnet.com; www.carm.org; www.radio.cz/en/article/69067; www.towerwatch.com; www.watchtower.org; Nuwe Wêreldvertaling van die Heilige Skrif; http://af.wikipedia. org/wiki/Jehovah_se_Getuies)

Jehovah se Getuies

Wie is God volgens hulle?

Daar is net een ware God. Hy het alles in die hemel en op aarde geskep, maar daar bestaan nie 'n Drie-eenheid nie. God het baie titels maar net een naam. Daardie naam is Jehovah. Jehovah woon in die hemel, maar Hy kan alles sien.
Jesus het in die hemel as 'n geespersoon gelewe voordat hy aarde toe gekom het. Jesus is God se eerste skeppingswerk, maar nie God wat mens geword het nie. Hy is God se seun, na die aarde gestuur as 'n perfekte mens, en daarom word hy die "eersgebore" Seun van God genoem. Jesus is die enigste Seun wat deur God self geskep is. Jehovah het die voormenslike Jesus as sy "meesterwerker" gebruik om alle ander dinge in die hemel en op aarde te skep. Jesus en het dus 'n sekondêre posisie in tyd, kennis en mag.
God se heilige gees is sy werkende krag, nie 'n persoon nie.

Bron van Teologie

Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif wat die 66 boeke van die Bybel bevat.

Het hulle 'n menslike verteenwoordiger van God (hoof-lkerkleier) op aarde?

Geen hoofleier op aarde nie, maar die Wagtoringgenootskap word vanuit die hoofkwartier in New York-stad bestuur deur 'n liggaam van "ervare ouer manne" wat op 'n nie-demokratiese, outoritêr-teokratiese manier deur hul artikels in die Wagtoring toon wat God se waarheid is en wat nie.

Wat glo hulle van sonde?

Die Bestuursliggaam stuur elke jaar verteenwoordigers na verskillende streke regoor die wêreld om met die takverteenwoordigers in daardie streke te beraadslaag.

Metode van verlossing

Verlossing kom van God deur Jesus as losprysoffer. Geloof in Jesus Christus is noodsaaklik vir verlossing, maar dit is nie genoeg nie. Geloof moet ook met werke gepaardgaan. Jy moet ook die praktyke, gebooie, wette, en sakramente van die geloof nakom en behou. Om van hul geloof te "Getuig" en aktief met ander te deel, is fundamenteel. Hul moet ook gedrag vermy wat God nie behaag nie, insluitend die viering van verjaarsdae en vakansiedae wat hul oorsprong het in valse gelowe. "Om 'n persoon se naam geskrywe te kry in daardie boek van die lewe sal afhang van die persoon se werke en of dit in vervulling van God se wil en goedkeuring deur sy Koning en Regter is," (Wagtoring, 15 Augustus 1972).

Wat gebeur na die dood?

Geen siel bly aan na die dood nie. Jesus Christus sal binnekort na die aarde terugkeer om die dooies op te wek, en die siel en liggaam te verenig. Gehoorsame mense word van ewige lewe verseker. Net 144 000 gaan hemel toe en sal konings saam met Christus wees. Baie ander gaan op aarde lewe. Die wat as onregverdig veroordeel word, sal nie gemartel word nie, maar sal doodgaan en ophou bestaan. Hel is dus die mensdom se gemeenskaplike graf. Verder: "Omdat God hulle Vader is, is hulle almal ook goddelik van natuur. Alhoewel hul nou soos mense lyk, en almal natuurlik doodgaan soos mense, sal hulle met die opstanding tot hul ware karakter as gode verrys," (Wagtoring, Desember 1881).

Stuur gerus 'n epos na sending@kruispad.net met enige vrae of opmerkings.


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 03 Augustus 2009