Cum Boeke

>> Sending <<

Rubriek: Watokal die mens, ek sal verkondig!
Skrywer: Geopende Deure
Uitgawe: 8

Watokal die mens, ek sal verkondig!

EK bly in Yelwa, Nigerië. Tydens ons gemeente se oggendbiduur het ons skielik geweerskote gehoor. Verskeie broers en susters van ander denominasies het na ons kerk toe aangehardloop gekom. Ander inwoners het te voet uit die dorp gevlug. Groot konsternasie het geheers.

Die skare binne die kerk het na God om hulp geroep. My pa, Pastoor Zakka Ciroma, het na buite gehardloop om die situasie van nader te beskou. Hy en 'n paar mans het die hartseerste nuus wat ek nog ooit gehoor het, aan ons oorgedra: 'Ons gaan almal sterf. Die Jihadiste (Moslem militante) is hier.'

Ek kon my oë nie glo toe die militante die kerk binnekom nie. Hulle het ons begin vloek. My pa het ons in sy arms gehou en ons aangepor om getrou te bly aan God. 'n Jihadis het hom uit ons arms geruk. Hulle het al die mans van die kinders en vrouens geskei. Hierna het hulle begin om al die mans een vir een af te slag. Ek kon nie glo toe dit my pa se beurt was nie. My broer, Yusuf Zakka (3), is ook doodgemaak. Daarna het hulle Rubriek verskaf deur Geopende Deure die kerkgebou afgetakel. Die vrouens en kinders is aangesê om die gebou te verlaat. Ek het doelloos begin hardloop.

Met elke tree het my pa se marteling voor my oë afgespeel. Teen sonsondergang was ek in 'n naburige dorpie. Mense het my vir die aand gehuisves. Hierna is ek met my ma herenig en het ons genoeg moed bymekaar geskraap om terug huis toe te keer. Om net te oorleef, was regtig moeilik.

Toe ons nie meer verder kon nie, het Geopende Deure ons gehelp met voedsel, klere en geldelike ondersteuning. Ek gee aan God die eer vir sy getrouheid. Ek sal my pa se laaste woorde aan my nooit vergeet nie. Maak nie saak wat mense aan my doen nie, ek sal nie ophou om God te dien en om ander van sy goedheid te vertel nie. Met God aan my sy, sal ek my drome uitleef."

Vir verdere inligting rakende vervolgde Christene wêreldwyd, besoek Geopende Deure se webwerf by www.opendoors.org.za of kontak hulle hoofkantoor by 011 888 9341.

 

 

 

 


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 03 Augustus 2009