>>Stylgids<<

Hierdie
inligting is ook beskikbaar in PDF-formaat. Kliek
hier om dit af te laai.

Stylblad vir Kruispad
Riglyne vir 2009-uitgawes
Beste redaksielid, medewerker of gasskrywer,
Byvoorbaat baie dankie vir jou betrokkenheid by Kruispad. Ons waardeer elkeen se bereidwilligheid om 'n bydrae te maak tot die sukses van hierdie tydskrif, en ons bid dat jou skryfstuk 'n bydrae sal lewer tot die uitbou van God se koninkryk.
Kruispad is 'n tydskrif vir gelowige jongmense tussen die ouderdom van 17 en 24 jaar. Dit beteken met ander woorde dat ons hierdie tydskrif aan 'n spesifieke groep mense rig, en dit bied natuurlik 'n hele paar uitdagings aan die skrywers van artikels vir Kruispad. Hierdie informele stylblad is opgestel om vir jou as skrywer 'n riglyn te dien om jou skryfstuk binne die tydskrif se styl, formaat, of soos ons dit noem, look and feel te skryf. Ons wil nie jou eie persoonlike styl inperk of verander nie, maar ons wil wel graag hê dat ons lesers jou skryfstuk sal geniet, verstaan en veral geloofwaardig vind. Die redaksie van Kruispad gaan poog om ten alle tye konsekwent in styl, inhoud en formaat te werk te gaan in al ons uitgawes.
Voorskrifte aan skrywers
1. Ooreenkoms met skrywers Sommige skrywers word persoonlik deur die Kruispad-redaksieuitgenooi om rondom 'n betrokke onderwerp vir Kruispad'’n artikel of skryfstuk te skryf. Daar is ook skrywers wat uit eie inisiatief vir Kruispad artikels of skryfstukke skryf. Enige bydraes word verwelkom, en enigiemand wat iets te sê het wat gelowige jongmense van vandag moet hoor, mag inskrywings aan die Kruispad-redaksie voorlê.
Kruispad wil egter graag oorspronklike tekste publiseer. Die voorlegging van 'n artikel of skryfstuk aan Kruispad impliseer dat Kruispad alleenreg op die publikasie van die artikel het. Indien jy graag weer jou artikel êrens in 'n ander publikasie wil publiseer, moet jy eers die skriftelike toestemming van die Kruispad-redaksie verkry. Dit is dus uiteraard jou as skrywer se verantwoordelik om die redaksie mee te deel indien jou artikel reeds in 'n ander publikasie (van watter aard dan nou ook al) verskyn het.
2. Aard van bydraes Kruispad is 'n eietydse tydskrif met Reformatoriese inhoud, gefokus op aktuele sake, gerig op groeiende gelowiges van 17 tot 24 jaar, om toerusting te gee wat nodig is om ingeligte keuses te maak, wat lei tot geloofsgroei. Slegs artikels wat aan hiérdie doelwitte van Kruispad voldoen, sal vir publikasie in Kruispad oorweeg word.
3. Keuring Alle voorleggings sal deur die redaksie van Kruispad, of keurders wat deur die redaksie aangestel is, beoordeel word. Die redaksie het die reg om bydraes goed te keur, af te keur of ook te wysig. Veranderinge aan artikels sal in oorleg met die skrywers gemaak word.
4. Formele vereistes
4.1. Taal Kruispad is (op hierdie stadium nog) net 'n Afrikaanse tydskrif. Hoewel jongmense van vandag nie noodwendig altyd suiwer Afrikaans praat nie, en hoewel daar verskeie informele, uitgedinkte en soms onverstaanbare woorde in die jong volksmond val, gaan Kruispad altyd poog om aan goeie taalgebruik gekenmerk te word. Ons sal jou nie belet om hier en daar bietjie slang-taal, Engelse woorde of eienaardige uitdrukkings te gebruik nie, maar ons gaan dit definitief uithaal as dit onnodig, onvanpas of onverstaanbaar is. Kyk altyd eerder of jy nie dit wat jy wil sê, in Afrikaans kan sê nie.
Wat ons wel uiteraard 'n groot verbod op het, is kru-, vuiltaal en vloekwoorde. Ons is ook nie mal oor groot en moeilike woorde nie, en ook nie oor argaïese uitdrukkings nie. Vandag se jongmense hou daarvan om 'n ding te hoor soos dit is, so sê dit soos dit is …
4.2. Formaat Alle bydraes moet elektronies, d.w.s. deur middel van e-pos aan die redaksie gestuur word. Korrespondensie tussen die redaksie en skrywers sal ook meestal deur middel van e-pos gevoer word.
Die elektroniese formaat moet soos volg aangebied word:
-
Alle artikels word in Futura Lt BT-, Times New Roman-, of Arial-skrif geskryf.
-
Skrifgrootte: 9pt.
-
Lynspasiëring: Enkel.
-
Alle letters van die eerste woord van 'n artikel word in hoofletters geskryf.
-
Die titel van die tydskrif, Kruispad, word gekursiveer.
-
Alle name van publikasies, films, musiek en boeke word gekursiveer.
-
Engelse woorde word gekursiveer.
-
Vaste uitdrukkings word in aanhalings geskryf.
-
Aangehaalde Bybeltekse word gekursiveer en deur aanhalings aangedui, en die teks waaruit dit kom, in hakies (nie in die aanhalings), bv. “In die begin was die Woord,” (Johannes 1:1). Name van Bybelboeke word nie afgekort nie, maar volledig uitgeskryf.
-
Alle spelreëls soos in die nuutste AWS (Afrikaanse Woordelys en Spelreëls) geld natuurlik ook vir die spelling van woorde in artikels wat in Kruispad gepubliseer word. Wanneer 'n woord 'n wisselvorm het, word die eerste opsie gebruik.
-
Alle manuskripte moet reeds taalversorg en finaal geredigeer wees. Hoewel die Kruispad-redaksie ook die artikels sal proeflees, en ook die reg het om aan die artikels te redigeer of te verander (met toestemming van die skrywer, natuurlik), word daar van die skrywer verwag om self ook seker te maak dat alle spel- en taalreëls nagekom is.
Die lengte van die onderskeie artikels sal deur die redaksie bepaal word. Dié vereistes sal persoonlik met elke skrywer gekommunikeer word.
Kruispad verskyn ses maal per jaar (elke twee maande), en die inhoud van elke uitgawe word volgens 'n bepaalde tema uitgewerk.
5. Menings en kopiereg Menings wat in die artikels uitgespreek word, is telkens dié van die betrokke skrywer en is nie noodwendig dié van die Kruispad-redaksie nie. Die redaksie neem hom egter voor om baie streng te wees dat alle artikels wat aan die Kruispad-lesers gebied word, getrou aan God se Woord sal wees, opbouend vir elke jongmens se verhouding met God sal wees, van goeie smaak sal getuig, en dat daar voortdurend 'n hoë standaard gehandhaaf sal word.Kopiereg berus steeds by die skrywer.
6. Bydraes en korrespondensie. Bydraes en korrespondensie kan gerig word aan navrae@kruispad.net, red@kruispad.net of subred@kruispad.net.
Weereens dankie vir die tyd wat jy afstaan om mee te werk aan die sukses van Kruispad. Bid voortdurend saam met ons dat ons met hierdie publikasies gelowige jongmense geestelik kan versorg en só in God se koninkryk dienswerk kan doen.
Seëngroete,
Maureen van Helden
Redakteur: Kruispad
e-pos: red@kruispad.net
 |