Cum Boeke

Vervolgverhaal

Vervolgverhaal: Bostik - Deel 4
Skrywer: Anneretha Combrink
Uitgawe: 10

.

Bostik - Deel 4

KLANK is stadig besig om die stilte in Janien se kop binne te dring. Klank wat al hoe harder word, en dan opbreek. Dis stemme. Janien probeer haar kop skud om die watte weg te kry, maar dit is so seer dat sy kreun en maar weer so stil as moontlik lê. Sy weet sy is nie op haar bed nie, want daar is goed wat haar steek en krap, klippe en stokke wat haar rug seermaak. Sy probeer uitmaak wat die stemme bokant haar sê. Dis asof die klank na haar toe dryf.
"Nee!" Dis 'n skril stem. "Jy kan my nie alleen by haar los nie …"
Die ander stem is helder, 'n manstem. "Wat anders, Marike? Wil jý gaan hulp soek?"
"Ja. Ek het mos 'n kaart. En dit kan anyway nie meer ver wees nie. Dan kan ek die mense wys waar om julle te kom soek."
Hoekom moet hulle gesoek word? Janien kan nie helder dink nie, haar kop pyn te veel. Sy probeer met haar hand voel waar die pyn is. Dis taai, en dit voel of daar steeds iets in haar nek afloop. Sy bloei! Sy moes seker 'n geluid gemaak het, want skielik is daar iemand wat oor haar buig.
"Janien, is jy okei?" Schutte is sy naam, kom dit skielik terug.
Sy maak haar oë groter oop en forseer haarself om te antwoord. "Lýk ek dalk vir jou okei?"
Hy grinnik en sy blou oë is skielik nie meer so bekommerd hier bo haar nie. "Jy het duidelik nie op jou mond geval nie!" Hy sak langs haar neer en begin haar stapskoen se veters losmaak.
"Wat doen jy? Los my voet!" Sy probeer wegruk, maar die pyn wat deur haar enkel skiet maak dat sy hard op haar lip moet byt om nie te skree nie.
Schutte het gesien. "Ja, sien jy nou … lê liewer stil. Ek sal jou nie seermaak nie. Altans, ek sal probeer." Hy kyk oor sy skouer. "Kom help, Marike."
Marike kom nader, maar sy kyk nie eens in Janien se rigting nie. "Dit raak laat; netnou is dit donker. Ek weet nie van julle twee nie, maar ek gaan nou loop."
Schutte sê nog: "Wag, Marike …", maar sy het klaar haar daypack en die kaart van die grond af gegryp, en sy begin vinnig teen die berg afloop.
Schutte blaas sy asem geïrriteerd uit en mompel: "Dom vroumens …"
Ag nee! Nou is sy alleen saam met Schutte hier op die berg. No ways! Janien beur regop en voel met haar hand na haar agterkop. Bloed loop steeds teen haar nek af.
Schutte fokus weer op haar. "Lê liewer stil, toe.:" Janien is skielik onredelik woedend. "Wat van jý bly liewer stil, toe." Sy na-aap sy stemtoon moedswillig. Sy is nie 'n kind wat hy kan rond-order nie! Sy blou oë begin weer blink – hy lag wraggies vir haar!
Sonder om op haar woorde te reageer, haal hy sy waterbottel uit. Toe trek hy sy T-hemp uit. "Wat dink jy doen jy?" Selfs vir Janien klink haar stem klein. Sonder bravade.
"Ontspan. Ek wil net jou kop skoonmaak." Hy maak sy hemp nat, en beweeg nader.
Maar Janien druk hom weg, al is daar weer flikkers voor haar oë. "Jy ráák nie aan my nie! Gee hier, ek sal self …" Sy probeer om die hemp by hom te gryp, maar hy lag net en hou dit buite haar bereik.
"Is dit vir jou lekker om so moeilik te wees?"
Sy ignoreer hom, staar na die blou lug bo haar. Sy hou aan om hom te ignoreer toe hy nader kom, en met die hemp oor haar agterkop vee. Al kan sy nie help om haar asem in te trek toe hy aan die wond raak nie.
"Daarso, klaar. Lyk my die bloed het nou gestop." Sy stem is bokant haar kop, hy is in die middel van haar persoonlike ruimte. "Kan jy jou skoen uittrek?" Sy stem is onverwags simpatiek.
Skielik brand die trane agter Janien se ooglede. Sy wil soos 'n baba aan die tjank gaan. Nee, sy sal hom g'n die plesier gee om te sien hoe sy huil nie. Liewer weer aanval. "Natuurlik kan ek. Ek trek al my skoene aan en uit vandat ek drie is," sê sy in haar bitsigste stem.
Maar dis bitter seer. En teen dié tyd is haar voet so geswel dat sy nie die skoen uitkry nie. Schutte los haar uit, sit net terug op sy hurke en kyk hoe sy sukkel. Deksels! Toe Janien opkyk, sê hy nie 'n woord nie, begin net saggies voel aan die swelling om haar enkel.
"Eina! Jy maak my seer!"
"Sorrie. Ek's regtig jammer, maar ons moet jou skoen uitkry. Anders sal ons hom later moet afsny."
Uiteindelik is die skoen uit. Haar voet klop van die pyn. Hoe gaan hulle by die basis uitkom? Hulle kan tog nie vir ewig hier bly wag nie. Dis nie meer ver van donker nie.
"Janien, ek dink ons kan dit alleen maak tot by die basis," sê Schutte asof hy haar gedagtes gelees het. "Dis mos 'n sirkelroete, ek dink nie ons is meer ver nie. In fact, ek dink dis net af met die berg en om die draai."
"Ek het nie jou hulp nodig nie! Ek sal self regkom." Om haar punt te bewys, druk sy met haar hand agter haar teen die rots en kom regop. Die feit dat sy glad nie op haar seer voet kan trap nie, maak haar net nog kwater.
Schutte staan haar net en bekyk. Dit voel of hy regdeur haar siel kyk. Toe sê hy rustig, in 'n baie onboyband- stemtoon: "Ek gaan jou dra, en dis dit." Voor sy woorde mooi ingesink het, is hy by haar. Hy tel haar op asof sy 'n sak vere is, en swaai haar oor sy skouer, sodat sy kop-onderstebo hang.
"Nee! Sit my neer! Nou …" Haar vuiste wat teen sy rug hamer bereik absoluut niks.
Hy los hulle rugsakke net daar en begin in die paadjie afstap.
"Hei! Is jy doof? Jy laat my kop weer bloei!"
Schutte gaan staan. "Jy kan kies. Of ek dra jou heelpad soos 'n sak patats, of ek kan jou abba – wat heelwat gemakliker gaan wees vir jou én vir my."
"Ek sal sélf …" begin Janien weer, al weet sy daar is nie 'n manier waarop sy alleen by die basis gaan uitkom nie.
"Dit was nie een van die opsies nie," sê hy kalm. Té kalm. Dis asof hy weet hoe erg dit vir haar is om so naby aan hom – aan enige man – te wees. Dit maak haar van vooraf kwaad. Wie gee hom die reg om haar te wil red, of wat hy ook al dink hy doen?
"Okei, sit my net neer," sê sy toe haar kop te seer raak.
Hy doen dit dadelik. "Abba?" Sy antwoord nie, knik net dikmond.
Die ent teen die berg af voel soos ure en dae. Janien wil amper begin huil van dankbaarheid toe hulle teen sterk skemer die basis se afdraai bereik. Uiteindelik! Schutte het lankal ophou praatjies maak; sy kan hoor hoe jaag sy asem.
Toe die flitsligte van voor af begin aankom, klim Janien vinnig van Schutte se rug af. Sy moet seker dankie sê, maar haar moedswillige hart weier. Sy bly doodstil staan waar sy is, tot die naaste persoon by haar is. Hulle begin om haar kloek, en steeds weier sy om na Schutte te kyk. Eers toe sy tussen twee mense weghink, draai sy om en kyk terug. Schutte staan na haar en kyk. So 'n blou kyk wat haar bang maak. Omdat dit nie sy gewone tergkyk is nie, maar 'n doodernstige uitdrukking wat sy nie kan peil nie.

(word vervolg)

Bostik: Deel 5 (Uitgawe 11)

<< terug na inhoudsopgawe >>


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 08 Oktober 2009