Bostik
- Deel 5
JANIEN sit op die stoeptrappie buite die lesinglokaal met haar ken in haar hand gestut. Sy kyk na die volleyball-spel waarmee die res van die span op die gras besig is. Eintlik kyk sy nie regtig meer nie, sy dink aan 'n klomp ander dinge. Sy is so verdiep in haar gedagtes dat sy skrik toe iemand skielik aan haar skouer raak.
Dis Simon Bester.
"Waaraan dink jy so diep?" vra hy met 'n glimlag in sy stem.
"Ag, dit en dat," antwoord Janien ontwykend.
"Hoekom speel jy nie meer nie?"
Simon knik in die rigting van die baan. "Tyd vir Dominee Jan om 'n bietjie sy staal te wys." Hy sak langs haar op die trappie neer. "Sjoe, ek word oud!
Ek's flou … hoe voel daai enkel?"
Sy trek haar skouers op. "Okei. Dit raak al beter. Maar dis irriterend om heeltyd uit te sit en niks saam te kan doen nie."
"Ek kan dink. Toemaar, teen volgende week sal dit al baie beter wees."
Janien antwoord nie. Sy wil nie regtig met die ou praatjies maak nie. Maar sy kan seker ook nie ongeskik wees nie – en van die bietjie wat sy van hom gesien het die afgelope drie weke, lyk hy heel oraait. Nie eintlik soos wat sy dominees in die algemeen opgesom het nie.
"Wat dink jy as jy jou gesig so trek?" betrap hy haar onkant.
"Uhm … as jy regtig moet weet … ek het gedink jy lyk nie rêrig soos 'n dominee nie."
Simon lag. "Is dit so? Hoe lyk 'n dominee, as ek mag vra?"
Janien voel hoe sy rooi word. "Ek … wel, die meeste dominees wat ek ken, is ouerig." Great, Janien! Skitterende antwoord.
"Hmm … seker nie almal nie? Hulle is seker nie oud gebore nie?"
Sy kan hoor hy mock haar. So sy antwoord nie, trek net haar skouers op.
"Hmm …" sê Simon nadenkend. "Ek dink ek weet wat jy bedoel. Maar ek het jou so 'n bietjie dopgehou en weet jy wat dink ek?"
Wat wil hy nou eintlik hê moet sy sê? "Nee, ek weet nie, maar jy gaan my seker nou sê."
"Jip." Hy steur hom nie aan haar sarkastiese stemtoon nie. "Ek dink jy, Janien de Koningh, haat dit om in 'n blik gedruk te word of in 'n boksie gesit te word. Maar dis presies wat jy met ander mense doen. Sit elke mens wat jy teëkom in 'n boksie en tjap hulle: Dominees is so en so; rugbyspelers is so en so; surfers is só en ouens oor die algemeen só. 'n Dominee kan nie 'n rugbyspeler of 'n surfer wees nie, want dan spring hy uit die boksie uit. Is ek reg?"
Janien het haar al lankal gewip. "Jy weet niks van my af nie, Simon Bester. Moenie my soos 'n boek probeer lees nie. Buitendien, die meeste van die afleidings wat ek maak, is reg."
"Hoe weet jy dit?"
Die dekselse ou bly so rustig, kan hy nie net een keer kwaad word of ophou smile nie? Hoe het sy buitendien in hierdie gesprek beland? "Want … ek was nog altyd reg." Sy hoef hom nie te antwoord nie. Sy wil eintlik opstaan en loop, maar haar krukke lê anderkant Simon.
"Is dit hoekom jy nie met Schutte praat nie?" hou Simon aan.
"Wat bedoel jy?"
"Is jy bang hy bewys jou teorie oor mans verkeerd?"
"Ag hemel, dit het regtig niks met jou te doen nie, hoor!" As haar krukke nou naby was, het sy hom dalk aangerand.
"Ontspan, Janien. Ek kan sien ek maak jou kwaad … maar jy maak 'n fout. Dit hét iets met my te doen, want dis deel van my job om konflik in die span te hanteer, en om seker te maak julle is almal oraait. Emosioneel, nou."
Janien klik haar tong vererg. "Daar is absoluut niks met my emosies verkeerd nie!"
"Niks wat jy sal erken in elk geval nie, nè? Toemaar meisiekind, ek sal ophou om aan jou te karring. Wou maar net hê jy moet weet ek is hier – as jy besluit daar is iets waaroor jy wil praat."
Sonder om vir haar antwoord te wag, staan hy op en stap weg. Janien kyk hom opstandig agterna. Hoekom, hoekom kan hy so deur haar skanse sien? Sy wil huis toe gaan, sy mis haar ma wat nie aan haar karring nie en … skielik wil sy huil. Skielik het sy nie meer redes hoekom sy vir Schutte ignoreer en hoekom sy die meisies op 'n afstand hou en hoekom sy kwaad is vir Simon nie. Skielik pyn haar hart meer as haar voet. Janien gryp haar krukke, en sukkel in die rigting van die perdestalle. Sy het nou dinktyd nodig.
(word
vervolg) |