Cum Boeke

Vervolgverhaal

Vervolgverhaal: Bostik - Deel 6
Skrywer: Anneretha Combrink
Uitgawe: 12

.

Bostik - Deel 6

JANIEN het die pad gevat. Alleen. Teen die reëls van Koninkryk, maar wie gee om? Sy kan uiteindelik weer sonder krukke loop, en sy begeer al vir hoe lank om net 'n bietjie weg te kom. Vandag is Saterdag, en die ander was nog besig met ontbyt toe Janien weggeglip het. Hulle kan tog in elk geval vandag doen wat hulle wil; hulle is net nie veronderstel om alleen rond te loop nie.
Eintlik kon sy seker maar vir Doreen saamgebring het; hulle het die laaste tyd goeie pêlle geraak. Sy is half-uitasem teen die tyd wat sy op die strand kom. Sy is lekker onfiks van al die rondsit met die beseerde voet. Janien pluk haar plakkies uit, en die koel wit sand tussen haar tone laat haar dadelik beter voel. Die strand laat gedagtes aan vakansie en vryheid by haar opkom. Wit-en-swart meeue krys bo haar kop.
Een duik af en kom stap kordaat voor Janien uit. Ver weg hoor sy 'n hond blaf, die geluid word harder en dan is Boeliebief, die basis se hond, skielik by haar.
"Ja, wat soek jy hier?" vra Janien, maar sy kan hoor haar stem is vriendeliker as wat sy bedoel het. Sy hou meer van ou Boeliebief as wat sy sal erken. "Weet jy nie dis teen die reëls nie?"
Boeliebief blaf en swaai sy stert. Hy voel duidelik nie veel vir die reëls nie.
Hulle is alleen op die strand – wel, nie heeltemal alleen nie – daar is 'n paar mense heelwat verder weg. Hier en daar is daar kinders en oumense en 'n paar honde, maar hulle is ver genoeg dat dit amper vir Janien voel asof sy alleen is. Skielik voel sy soos 'n kind. Sy gooi haar hande uitbundig in die lug en begin hardloop na die soom van die water, Boeliebief blaffend langs haar. Hy is ewe uitgelate.
Nadat hulle 'n ent met die water langs gedraf het, sak Janien op die strand neer. Sy is pootuit van die entjie se draf. Sy tel 'n stuk bamboes op en gooi dit vir Boeliebief. Hy hardloop agterna en snuif daaraan, maar begin dan verder op die strand langs snuffel. Janien is bly hy wil nie saamspeel nie, nou kan sy in vrede met haar gedagtes bly sit.
En sy hét baie om oor te dink. Janien kan nie glo die diensjaar is al amper twee maande aan die gang nie. Die hele storie verloop eintlik beter as wat sy verwag het. Simon is terug Potch toe om te gaan swot, en Schutte bly meestal uit haar pad uit. Hulle het eintlik goeie buddies geword. Praat oor dit en dat, maar bly weg uit die dieper waters. Dit pas Janien baie goed. Sy kom redelik goed met almal oor die weg: Sean, Lorraine, Magdil, Karel, Johan, Lerato en Silas – die tweeling – en Doreen. Ook Dominee Jan en sy vrou Helene het gou Janien se respek gewen. Dis net Marike wat nog 'n spyker in die speke veroorsaak.
Dis jammer hulle moet 'n kamer deel, want hulle het regtig nie veel vir mekaar te sê nie. As Doreen nie ook saam met hulle in die kamer was nie, het Janien lankal iets oorgekom van irritasie.
Die ding is, Marike is die vriendelikheid vanself met almal – veral met die manlike spanlede – maar in die kamer is sy styf en … net weird. Aan die begin van die jaar het Janien haar opgesom as 'n kat, en sy het nog nie veel gedoen om daardie persepsie te verander nie. Maar dis nie waarvoor Janien dinktyd nodig het nie.
Sy moet dink oor die week wat voorlê. Hierdie week moet hulle elkeen 'n speech gee (okei, seker nie heeltemal 'n speech nie, maar hulle moet voor die groep staan en praat, en dit tel as 'n speech). Hulle is veronderstel om 'n getuienis te gee, iets van hulle lewensverhaal en wat hulle sover geleer het. Janien het nie 'n clue wat sy gaan sê nie. En haar beurt is al môre.
Die vakansiegevoel is skielik baie ver weg. Janien sug. Wat moet sy sê? Hierdie mense weet nie eintlik veel van haar af nie. En sy wens dit kon so bly. Maar aangesien hulle môre moet praat oor wat hulle geleer het die afgelope twee maande, besef Janien sy sal móét praat. Want sy het geleer dat sy nooit sal groei as sy mense nie kan vertrou nie. Sy het geleer dat sy haar hart moet oopmaak. Maar dis nog net teorie; in praktyk is dit nie so eenvoudig nie. Moet sy praat oor haar pa? Hy bly minder as 'n uur van hier af, en het nog nie een keer vandat sy hier is die moeite gedoen om te kom nie. Moet sy praat oor … Desember? Nee.
Nooit nie.
Janien vryf oor haar arms, wat al 'n rooierige skynsel van die son het. Sy moet maar teruggaan Koninkryk toe. Dit raak nou warm en die son is besig om haar by te kom.
Toe sy opstaan, kom Boeliebief aangehol van êrens af. Janien vryf sy oor sy kop, en begin teen die sandduin uitklim. Halfpad kyk sy op, en sien vir Schutte waar hy aan die bokant van die duin verskyn het. Sy moes geweet het sy kan nie eens vir 'n paar minute verdwyn sonder dat iemand dit agterkom nie.
"Haai Janien," sê Schutte toe sy by hom kom. "Hoekom loop jy sonder om vir iemand te sê?"
Nes sy gedink het. "Jy is nie iemand nie," sê sy moedswillig.
Hy lyk ge-chill, soos altyd, en soos altyd frustreer dit haar dat hy nie kwaad word nie.
"Wat soek jy hier?" vra sy toe maar.
"Vir jou. Ons soek al die afgelope halfuur na jou."
"Hoekom? Ek is mooi groot, ek kan na myself kyk."
"Ek is seker jy kan. Maar Dominee Jan soek jou."
Oeps. Seker oor sy teen die reëls gaan stap het.
"Hoekom?"
"Iemand het gebel … lyk my dit was belangrik, iemand van Londen af." Hy sê niks verder nie, draai net om en begin terugstap.
Janien kan nie beweeg nie. Sy is gevries van binne af buitentoe. Londen. Louis is die enigste persoon wat sy in Londen ken.
Hoekom … hoekom moes hy nou kontak maak?
Gelukkig was sy nie daar toe hy gebel het nie. Janien begin stadig beweeg. Sy sal sorg dat sy weer nie beskikbaar is as hy dalk bel nie. Sy sal nóóit weer beskikbaar wees vir Louis le Grange nie.

(word vervolg)

<< terug na inhoudsopgawe >>


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 08 Oktober 2009