Cum Boeke

Vervolgverhaal

Vervolgverhaal: Bostik - Deel 1
Skrywer: Anneretha Combrink
Uitgawe: 7

.

Bostik - Deel 1

Dit was 'n simpel idee. Die domste wat sy nog in haar agtien jaar gehad het, besluit Janien. Haar kop is al seer, want elke breinsel in haar kop skreeu vir die afgelope drie dae non-stop vir haar presies hóé dom sy nou eintlik was. Wie wil nou vir 'n jaar lank in 'n klaskamer gaan sit en luister hoe grootmense vir jou preek oor jou lewe, en watter gevolge jou keuses van die verlede gaan hê en ... nou ja, sy weet nie presies waaroor hulle alles gaan preek nie, maar sy het 'n goeie idee. En dit terwyl die see net oorkant die straat is, en jy volleyball op die strand kon gespeel het. Simpel, simpel Janien.

"Voel jy nou beter oor wat jy besluit het, Janien?" vra haar ma in die kamerdeur. Kan sy gedagtes lees?

Die kamer is 'n deurmekaar nes. Al Janien se aardse besittings lê gesaai oor die vloer, die bed, die lessenaar, die stoel. Die enigste oop spasie is die plek waar sy plat op die vloer sit. Sy bekyk die chaos rondom haar met 'n kwaai houtoog, asof die gemors vanself daar gekom het, en dus net so maklik vanself kan regkom. Ruk jouself reg, wil sy vir haar afoor-teddiebeer sê wat in 'n plat bondel onder haar broeke op die vloer uitloer. Ruk jouself reg, wil sy vir haarself sê – want sy is baie lus om onder die bed in te kruip. Maar wat gaan dit nou help? Sy moet besluit wat sy wil saamvat, en wat hier moet bly.

"Janien?" sê-vra haar ma, en Janien besef skielik sy het nog nie haar vraag beantwoord nie.

Sy sug. "Ag, ek weet nie. Soort van. Dis so ver weg, Ma. Die Kaap is ook nou nie net om die draai nie – en ek ken absoluut niemand daar nie. Sê nou ek haat elke oomblik?"

Haar ma skuif 'n paar kledingstukke en gaan sit op die voetenent van die bed. "Ons gaan jou ook mis ... maar ek dink nie jy moet bekommerd wees nie. Hierdie diensjaar is 'n wonderlike geleentheid. Jy gaan soveel nuwe mense leer ken, vriende maak en plekke sien. En dis 'n kans om vir die Here te werk – dis tog wat jy wil doen?"

"Ja," sê Janien onseker. Is dit wat sy wil doen? Sy tik in haar gedagtes af: Nuwe mense leer ken? Nie regtig nie. Sy ken genoeg mense. Daar is amper tweehonderd mense op haar Facebook-profiel. Nie dat sy hulle seker almal kén nie, maar toemaar. Vriende maak? Sy hoop nie hulle gaan daai dom kenmekaar-games speel en dan dink almal hulle moet een groot happy family wees nie. Plekke sien – ja, miskien. Maar sy is nie regtig die travel-tipe nie. Slaapsakke en tente en vuil wasgoed is nie eintlik haar idee van pret nie ...

Vir die Here werk? Ag, sy gaan nie nou daardie vragie beantwoord nie. Sy weet nie meer nie. Die afgelope Desembervakansie het daar soveel goed verander. Sy weet nie meer wie sy is nie, sy twyfel oor baie stuff wat nog altyd vanselfsprekend was.

En dis nie kleinighede nie, dis belangrike goed soos geloof, soos haar standpunte oor die lewe. Moes sy nie maar eerder Londen toe gegaan het hierdie jaar soos die meeste van haar skoolvriende nie? Nee, Louis is in Londen. En vir Louis wil sy nooit, nóóit weer sien nie. Sy wil so vinnig moontlik van hom vergeet. Dalk is die Kaap tog maar die beste opsie.

"Ai Janien . . ." Haar ma sit en kyk na haar. Janien kan sien sy is bekommerd.

"Ek moet klaar pak, Ma," sê sy haastig.

Die lughawe is 'n miernes. Eers vat Janien se ma die verkeerde afrit, en dit neem hulle amper twintig minute om weer by die regte parkeringbordjie uit te kom. Hulle is laat. Sy gaan haar vlug mis – Jippie? Met arms vol bagasie (daar was natuurlik nie 'n trollie binne enige bereikbare afstand nie) drafstap hulle deur die doolhof van sinkgangetjies. Die lughawe is nou al vir ewig besig met aanbouings, gaan hulle nooit klaarkry nie? Die plek is groot en deurmekaar genoeg soos dit is. By die inboektoonbank hol kleuters op en af en maak die lewe vir hulle ouers nag. Mense druk voor mekaar in die ry in. Janien oorweeg dit om dit ook te doen; daar is nie 'n manier waarop sy betyds gaan wees teen die tempo wat hierdie ry beweeg nie.

Uiteindelik is sy tog wel op die vliegtuig. Haar arms pyn van die swaardra en sy wens skielik sy het haar ma langer vasgehou. Sy sien haar eers weer oor drie maande.

Toe Johannesburg net 'n spikkeltjie ver onder die vliegtuig is, haal Janien vir die eerste keer weer diep asem. Sy grawe met dom vingers in haar sak, en vat die pamflet raak. Die een wat haar ma so opgewonde gehad het dat sy uiteindelik vir Janien ook oortuig het. Daar is kleurfoto's van mense wat omtrent so oud soos sy is. Hulle lyk gelukkig – op die strand, voor rekenaars in 'n groot lokaal, in 'n koshuisagtige slaapkamer met bont duvets. Sy is seker hulle máák net of hulle so gelukkig is. Sulke jippie-for-skippy-uitdrukkings op hulle gesigte.

Darem een ding wat seker okay gaan wees . . . die skryf. Janien wou nog altyd 'n joernalis wees, en dit is ook een ding van hierdie diensjaar wat haar oortuig het. 'n Diploma in tydskrifwese; om op die redaksie van 'n tydskrif te dien; om régte artikels te skryf.

Oor 'n uur is sy daar. Sy wens sy kon die vlug uitrek. Dalk moet sy die vliegtuig hi-jack en na 'n onbewoonde eiland toe vlieg. Die passasiers gyselaar hou en miljoene rande maak. Die driejarige wat op die sitplek voor haar op-en af spring laat haar teen die idee besluit. Sy wil nie op 'n afgesonderde eiland wees saam met soveel energie nie.

Nou ja. Hier gaan sy. Janien oppad na Survivor Suid-Afrika.

(word vervolg)

Bostik: Deel 2

<< terug na inhoudsopgawe >>


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 08 Oktober 2009