Cum Boeke

Vervolgverhaal

Vervolgverhaal: Bostik - Deel 2
Skrywer: Anneretha Combrink
Uitgawe: 8

.

Bostik - Deel 2

JANIEN staar na die toneel voor haar. Die sonlig blink soos duisende diamante op die see. Soos hulle met die heuwel afry, voel dit al hoe meer vir Janien dat haar ou lewe ver, ver wegraak. Die groen heuwels, met Frieskoeie wat rustig wei, laat haar dink hulle is in Switserland; die wit strandhuise van die dorpie onder en links van haar voel weer meer na Griekeland. Hier en daar is ook 'n houthuis op pale. Dan is hulle deur die dorpie en slinger die pad weer af in 'n groen vallei. Stadig begin die dag vir Janien meer soos 'n droom as 'n nagmerrie voel. Dalk gaan die jaar tog nie so sleg wees nie.

Sy probeer ongemerk loer na die profiel van die man langs haar. Hy is diep ingedagte. Dominee Jan van der Merwe – hoof van die Gee-jaar. Sjym, kan nie maklik wees om só 'n naam te hê nie – sinoniem met Afrikanergrappe en elke stereotipe wat bestaan. Sy wonder of hy ooit 'n goeie grap kan waardeer? Hy het haar wel vriendelik ontvang op George-lughawe, maar Janien was te senuweeagtig om veel meer in te neem as sy effens bonkige liggaamsbou, mediumbruin hare en blou oë agter 'n moderne brilraam. Noudat sy hom uit die hoek van haar oog beskou, probeer sy sy ouderdom skat. Agt-en-dertig, besluit sy.

"Ons is amper daar, Janien," praat Dominee Jan onverwags. "Net nog een bult. Daar," wys hy teen die volgende hang na 'n ingang aan die regterkant.

Die groot bord by die ingang lees KONINKRYK. Soos die viertrekbakkie deur die wit ingangpilare ry, begin Janien se hart vinniger klop. Hulle is hier! Haar hande sweet en haar mond is droog. Nou kan sy nie meer omdraai nie …

Die pad kronkel verby 'n kampie met twee perde en 'n paar Frieskoeie. 'n Entjie verder is daar wit ganse naby 'n kleinerige dammetjie. Die omgewing is rustig. Té rustig. Hier gaan sy vasgekeer word saam met 'n spul vreemdelinge. Sy sal nêrens heen kan gaan nie – hoewel die dorp en die see darem albei net stapafstand ver is. Wat as sy moet koeie melk? Sy voel skielik paniekerig.

Dominee Jan moes dit gesien het, want hy sê gemoedelik: "Daar kom ou Boeliebief aan. Die kêrel raak altyd half-senuweeagtig as ek te lank weg is."

Janien kyk na die groot grys hond wat holderstebolder na die bakkie toe aangehol kom. Hy verwilder die ganse en hardloop dan die laaste ent saam met die bakkie tot hulle by 'n groot wit dubbelverdiepinghuis tot stilstand kom. Die hond is huge. Janien is nie baie lus om uit te klim nie.

"Klim gerus uit, ou Boeliebief sal jou niks maak nie," lees Dominee Jan alweer haar gedagtes. Hy is reeds uit die bakkie en klap die deur agter hom toe. Die hond swaai sy stert tjank-tjank en kom lek aan sy uitgestrekte hand.

Met Janien se tasse in sy hand, praat Dominee Jan oor sy skouer. "Jy is een van die eerstes wat aankom. Die ander kom deur die loop van die naweek. Dis net Schutte en Marike wat al hier is. O ja, en Simon Bester, die ou wat help planne maak. Jy weet," praat hy verder. "Hy kom mos van Potch af, is 'n tokkelok wat vakansies help en van daar af ook koördineer."

"O," is al wat Janien uitkry. Ruk jouself reg, Janien de Koningh! raas sy met haarself. Dis nie asof jy nog nooit mense gesien het nie!

Dominee Jan stoot die half-oop voordeur met sy voet oop. "Ons is hier!" roep hy. "Waar is almal?"

Janien gee nie om waar almal is nie. Solank hulle daar bly …

Voetstappe klink in die gang af. Dan verskyn 'n vrou in die voorportaal. Sy het mediumlengte donkerblonde hare in 'n poniestert. Haar figuur is stewig, op 'n sportiewe manier. Haar gemaklike kleredrag bevestig Janien se eerste indruk. Sy straal energie uit.

Haar gesig helder op in 'n verwelkomende glimlag toe sy hulle sien. "Hallo Skat," sy soengroet Dominee Jan, en draai dan na Janien. "Jy is seker Janien. Baie welkom, hoor!"
"Dankie tan … Mevrou."
"Noem my Helene," glimlag sy. "Kom sitkamer toe, julle twee. Julle is seker moeg …"

Hulle volg haar na 'n sonnige blou-en-wit vertrek met seetonele teen die muur.

"Nou waar is die ander?" wonder Helene hardop.

Die woorde het skaars haar mond verlaat, toe hoor Janien harde voetstappe in die gang. Twee mans en 'n meisie kom die sitkamer binne.

"Ek gaan kry gou vir julle iets om te drink." Helene verdwyn by die deur uit, Dominee Jan agterna.

"Hallo!" sê die eerste ou. "Simon Bester." Hy steek sy hand uit en Janien het nie 'n ander keuse as om dit te skud nie. Sy is glad nie die handskudtipe nie.

Hy lyk 'n bietjie ouer, seker so drie-en-twintig. Die dominee van Potch. "Haai, ek is Janien." Hy is heeltemal te mooi vir 'n dominee, kom die gedagte vinnig. Lyk meer soos 'n surfer met sy witblonde hare en bruingebrande lyf. Kuiltjie-in-die-wang en blinkbruin oë, al die bestanddele vir 'n player. Hy beter nie nader as armlengte van haar af kom nie, sy hou nie van sulke mooi ouens nie. Louis was ook … Sy druk vinnig die gedagte dood.

"Welkom by die Gee-jaar. Dit gaan 'n great jaar wees, ek is seker daarvan." Sy stem is warm, soos sy oë. "Laat ek jou voorstel. Dit is Schutte van Graan en Marike Nienaber."

Die twee was die hele tyd besig om met mekaar te stry oor iets. Toe hulle hul name hoor, kyk hulle vir die eerste keer na die geselskap.

"Hei!" groet die ou haar. Hy lyk soos 'n kruis tussen 'n rugbyspeler en boyband-lid. Sy bruinblonde hare het highlights in, sy kuif half in sy oë. Janien is nie naby genoeg om die kleur van sy oë uit te maak nie. "Ek dig jou outfit," praat hy voor sy kans kry om terug te groet. Hy kyk haar op en af. "Nè, Marike?" praat hy met die meisie langs hom. "Daai bandana-ding lyk sick."

Die meisie antwoord nie eintlik op die opmerking nie. Sy groet Janien, maar dit voel vir haar of die girl se kyk krities is, of sy haar opsom. Rooierige hare, mooi vel. Groengroen oë. Soos 'n kat? Ja, sy laat Janien beslis 'n bietjie aan 'n gemmerkat dink.

Hulle staan vir 'n rukkie en maak die gewone praatjies oor van-waar-is-jy en hoe-het-jy-hier-beland en in-watter-skool-was-jy, drink later die Coke wat Helene bring.

"Kom," sê Marike naderhand. "Ek gaan wys jou waar ons slaap. Julle twee ouens, maak julleself 'n bietjie handig. Ek gaan vir seker nie al dáái stuff by die trappe opsleep nie."

Dis nie asof sy só vrek baie goed gebring het nie. Is dit?

Janien drentel teësinnig agter die drie aan. Sy hoop wraggies nie sy en Marike deel 'n kamer nie. Sy was nog nooit 'n katmens nie.

(word vervolg)

Bostik: Deel 1

<< terug na inhoudsopgawe >>


 

 

 

 

© Kruispad 2008
Opgedateer 08 Oktober 2009