Bostik
- Deel 3
"DIS nou vir jou 'n gemors," mompel Janien waar sy voor die badkamerspieël staan. Sy bekyk haarself nors. Vir wat moet 'n mens so vroeg opstaan in hierdie plek? Die son het nog skaars sy vaak gesig oor die horison gewys. Die afgelope week flits deur haar gedagtes: Verlede naweek was daar haar awkward aankoms, die ewe awkward ontmoeting met Simon, Schutte en Marike. Sy en Marike is toe wel saam in 'n kamer – saam met twee ander girls. Na 'n week besef Janien sy sal haar idee van persoonlike spasie moet laat gaan: In hierdie plek word ALLES, of amper alles, saam met mense gedoen. Hulle word heeltyd in groepe verdeel – enigiets van twee tot tien – en die week was een lang kenmekaarstorie. Hulle het gaan swem, volleyball gespeel, strandspele gedoen, en Janien kan die kere wat sy alleen was, op haar een hand tel. Maar dit was nie so sleg nie, in elk geval nie so erg soos sy verwag het nie.
Iemand klop hard aan die badkamerdeur, en Janien kom terug uit haar droomwêreld. "Wie's hier binne? Maak gou!" roep 'n ongeduldige stem. "Ons moet oor 'n kwartier klaar wees, en ek moet nog stort. Come on!"
Dis Marike.
"Nou klaar!" mompel Janien.
Toe sy die deur oopmaak, gee Marike haar 'n kwaai kyk voor sy verby haar druk. Nou ja, die afgelope week was nie so sleg nie. Marike was eintlik die enigste vlieg in die salf. Sy bly bot en mislik met Janien. Met die ander is sy die ene sonskyn. Janien kan nie verstaan wat met haar aangaan nie. Dalk het dit te doen daarmee dat sy wat Janien is, die eerste Saterdagaand langs Schutte aan die etenstafel beland het. Hulle het begin grappe maak oor iets, en nog lank na ete langs die tafel bly gesels. Dalk voel Marike bedreig, Janien het hoeka gesien hoe slapoog sy na Schutte kyk. En van Saterdag af sorg sy dat sy élke liewe ete langs hom sit. Wel, sy het niks om oor bekommerd te wees nie, sy wat Janien is, stel nie belang nie. Glad nie.
Die berg is mistig en pienk in die vroegoggendlig. Janien se bene slaan hoendervleis uit in die kortbroek. Die groep van twintig staan voor die huis en wag dat Simon Bester die spanne klaar aflees. Hulle gaan bergklim, en nou word hulle in groepe van drie verdeel. Elke groepie kry 'n papier met leidrade wat opgelos moet word, amper soos skattejag. Janien luister nie regtig na Simon nie, sy kyk na 'n helderrooi voëltjie wat op die gras rondpik. Iemand raak aan haar arm. Schutte. Marike staan dikmond langs hom.
"Kom jy?" vra hy vrolik.
"Waarheen?" Toe sien Janien almal het al hulle dagsakke op hulle rûe en begin om aanstaltes te maak in die rigting van die hek. Net sy is in haar gedagtes verlore – great, Janien! "Uhm, ek kom, sorrie," maak sy verskoning.
Schutte lag. "Lekker deur die weer so vroeg in die môre, nè!"
As Schutte en Marike vir haar gewag het, beteken dit … hulle drie is saam in 'n groep. Ag nee, dis nou net haar luck! Die boyband-lid en sy groupie – en die outsider. 'n Hele dag op die berg saam met dié twee gaan beslis nie prettig wees nie. Toe sy weer iets wil vra, keer Marike haar vinnig. "Het jy nie geluister nie?" fluister sy kwaai. "Ons mag vir 'n hele dag lank nie praat nie. Ons moet heeltyd stilbly."
Schutte moes haar ongelowige uitdrukking reg vertolk het, want hy grinnik en trek sy skouers op. Toe knik hy instemmend en wys hulle moet gaan. Hulle raak agter.
Janien swaai haar sak oor haar skouer en staar na Marike se rug. Nee, wragtag. Waarvoor het sy haar ingelaat? Die afgelope week het sy begin dink dit gaan dalk tog die moeite werd wees. Sy kom orraait met die ander oor die weg. Veral Simon Bester praat nogal sense; miskien omdat hy nie met haar probeer flirt nie en haar ook nie soos 'n kind behandel nie.
Drie kilometer later stop hulle onder 'n koelteboom. Janien vee die sweet van haar voorkop af. Die berg is steiler as wat sy gedink het en haar nuwe stapskoene begin haar hakke skaaf. In stilte bied sy vir die ander twee 'n skyfie lemoen aan. Marike skud haar kop, Schutte glimlag wit en vat twee. Janien skud haar kop – gee vir hom 'n pinkie en hy gryp die hele hand. Sy beter dit onthou – hy doen dit waarskynlik nie net met lemoene nie.
Dis doodstil. Nie 'n takkie wat kraak nie. Die ander groepe het lankal in hulle eie rigtings verdwyn. Janien hou van die stilte. Sy probeer om aan niks te dink nie, maar kry dit nie reg nie. Dis nou weer die nadeel, die stilte dwing haar gedagtes in 'n rigting waarheen sy nie wil gaan nie. Louis. Dis waarheen haar gedagtes al heeloggend mik. Sy buk vinnig oor die padkaart wat Schutte op 'n klip oopgevou het.
Na 'n paar minute beur hulle verder teen die hang uit. Die ure en die kilo's gaan stil verby. Janien kan voel hoe die stilte haar sintuie verskerp. Sy luister hoeveel verskillende geluide sy kan hoor, hoeveel verskillende soorte fynbos sy kan raaksien. Sy doen enigiets om nie die pad van haar wegholgedagtes te volg nie. Buitendien is dit blykbaar deel van vandag se opdrag: Wat hoor jy, wat sien jy, wat ruik jy? Wat voel jy? Dis nie op die lysie nie, so gelukkig hoef sy nie daai laaste vraag te antwoord nie. Want wat sy voel, is net mooi NIKS. Sy het verlede jaar Desember opgehou om enigiets te voel.
Dalk was dit die laaste gedagte wat gemaak het dat Janien nie kyk wat sy doen nie, want die volgende oomblik struikel sy. 'n Skerp pyn skiet van haar enkel af boontoe, en sy val dat sy hik. Haar kop klap dofweg teen 'n rots.
Haar hande is nerf-af, maar sy gryp na haar enkel. Eina, eina deksels. Maar geen geluid kom oor haar lippe nie – dalk het die stilte haar tong verlam.
Schutte buk oor haar. Hy flikker, dis weird. Sulke swart en wit kolletjies.
"Janien … Janien, is jy okei?" Sy stem kom van ver af.
Hy mag mos nie praat nie. Hy moet stilbly, dink sy deurmekaar.
(word
vervolg) |